Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Kommer oor hoë styging in lone vir plaas-, huiswerkers
Huiswerkers het sedert 2019 net 75% van die nasionale minimum loon verdien. Die voorstel is dat hul minimum loon in 2021 tot 88% van die nasionale minimum loon verhoog word. Foto: iStock

Die nasionale minimum loon gaan dalk in 2021 met sowat 4,5% tot R21,70 per uur verhoog word, maar die finale besluit daaroor is nog nie geneem nie.

Die voorstelle op die tafel sluit selfs skerper verhogings – van 16,1% en 22,6% onderskeidelik – vir plaas- en huiswerkers in ten einde dié sektore se minimum loon tot op of nader aan die nasionale minimum loon te bring.

Die Nasionale Minimumloonkommissie onder leiding van prof. Adriaan van der Walt van die Nelson Mandela-Universiteit het verlede week die kommissie se voorstelle vir die verhoging in die nasionale minimum loon in die Staatskoerant gepubliseer.

Die voorstelle is uitgereik vir openbare kommentaar, wat nog tot 19 Desember ingedien kan word. Eers daarna sal die finale besluit oor minimum lone geneem word.

Dit blyk egter die 12 lede van die kommissie (uitgesluit die voorsitter) is verdeel oor met hoeveel die minimum loon verhoog moet word, wanneer dit in werking moet tree en met hoeveel plaas- en huiswerkers se minimum loon verhoog moet word.

Die meerderheid lede van die kommissie stel voor dat die minimum loon verhoog word met die inflasiekoers plus 1,5 persentasiepunte, wat aan mense op die minimum loon ’n reële verhoging sal meebring.

September se inflasiekoers van 3% is as voorbeeld gebruik, wat die 4,5%-verhoging meebring, maar die kommissie sê die inflasiekoers van die maand voor inwerkingstelling moet gebruik word.

Dit impliseer eintlik dat die verhoging meer as 4,5% sal wees, aangesien inflasie aan die styg is. Woensdag het Statistieke Suid-Afrika (SSA) Oktober se koers van 3,3% bekend gemaak.

Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, kap die voorstel van die meerderheid kommissarisse in die lig van die land se hemelhoë werkloosheidskoers.

Werkloosheid was in die derde kwartaal 43,1% volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid, wat ontmoedigde werksoekers insluit.

Werkloosheid was in die derde kwartaal 43,1% volgens die uitgebreide definisie van werkloosheid, wat ontmoedigde werksoekers insluit. Daar het byna 1,7 miljoen poste verlore gegaan vergeleke met ’n jaar gelede – 72 000 daarvan juis in die landbousektor en 165 000 in private huishoudings.

“Die nasionale minimumloonkommissie moet daarvan kennis neem dat werkloosheid die grootste drywer van armoede is. Loonverhogings moet dus op ’n volhoubare wyse geskied. Ekonomiese omstandighede moet in ag geneem word.

“Die huidige voorstel deur die meerderheid kommissarisse dat die nasionale minimum loon met 1,5 persentasiepunte bó inflasie verhoog word, maak dus geen sin nie!”

Van der Rheede voeg by: “Agri SA doen ’n beroep op die minister (van indiensneming en arbeid) om die huidige ekonomiese situasie in berekening te bring. Die fokus moet verskuif na werkskepping en stappe moet gedoen word om verdere werkverliese in alle sektore te beperk.

“Die ekonomie swig onder die gewig van vele faktore, soos Covid-19, soewereine kredietafgradering en swak groeivooruitsigte. Dit sal ’n gesamentlike poging deur almal verg om te herstel.”

   

Impak van Covid-19 op besluit

Die kommissie sê hy is heeltemal bewus daarvan dat Covid-19 en die gepaardgaande diep resessie “unieke omstandighede” skep, maar meen die matige styging in die minimum loon sal nie sommer die resessie vererger nie. Inteendeel, dit kan die ekonomie help stimuleer deur arm mense se koopkrag te verhoog.

“Die meerderheid kommissarisse besef dat die Covid-19-afswaai ’n strawwe uitwerking op die meeste werkgewers gehad het. Ons doen ’n beroep op werkgewers wat nie die voorgestelde aanpassing kan bekostig nie, om die vrystellingsproses te volg.”

   

Datum van inwerkingstelling

Die kommissie se meerderheid doen geen aanbeveling oor wanneer die minimum loon verhoog moet word nie. Die minderheidsgroep beveel aan dat dit op 1 Maart 2021 in werking tree omdat die minimum loon vanjaar op 1 Maart verhoog is. Die minimum loon is die eerste keer op 1 Januarie 2019 in werking gestel.

   

Plaaswerkers

Toe die minimum loon van R20 per uur in 2019 in werking gestel is, is bepaal dat plaaswerkers eers net 90% van die minimum loon sou kry, wat dan geleidelik verhoog sou word tot 100% van die minimum loon.

Daar word voorgestel plaaswerkers se minimum loon van R18,68 vanjaar tot R21,70 in 2021 verhoog word, oftewel ’n verhoging van nagenoeg 16,2%. Foto: Le Roux Schoeman

Die voorstel deur die meerderheid lede van die kommissie is nou dat plaaswerkers se minimum loon in 2021 gelyk gestel word aan die nasionale minimum loon.

Dit sal meebring dat plaaswerkers se minimum loon van R18,68 vanjaar tot R21,70 verhoog word, oftewel ’n verhoging van nagenoeg 16,2%. Dit kom neer op ’n verhoging van nagenoeg R350 per maand per werker.

Die meerderheid kommissarisse redeneer dat die landbousektor nie so erg as ander sektore deur die pandemie-verwante inperking geraak is nie omdat die koswaardeketting ’n noodsaaklike sektor was.

Van der Rheede verskil en sê baie boere is ook ernstig geraak deur die inperking en ekonomiese afswaai.

Die drie minderheidslede van die kommissie haal egter navorsing oor die landbou aan wat wys groot skokke in lone lei tot enorme werkverliese.

   

Huiswerkers

Huiswerkers het sedert 2019 net 75% van die nasionale minimum loon verdien. Die voorstel is dat hul minimum loon in 2021 tot 88% van die nasionale minimum loon verhoog word, en dat dit dan in 2022 gelyk gestel word aan die nasionale minimum loon.

As dit in werking gestel word, sal dit meebring dat die minimum loon vir huiswerkers in 2021 R19,01 word. Dis vanjaar R15,57, wat ’n verhoging van meer as 22% impliseer. Dit kom neer op ’n verhoging van nagenoeg R450 per maand per huiswerker.

Die minderheidslede stel voor dat die minimum loon van plaas- en huiswerkers oor die baie langer tyd van vier jaar tot gelykstaande aan die nasionale minimum verhoog word.

“Ons glo dit sal die stygings oor die volgende twee jaar baie volhoubaarder maak vir albei sektore.

werkloosheid
Om te keer dat mense dramaties verarm tot die punt waar hulle dalk honger ly, is dit noodsaaklik dat die minimum loon met meer as die inflasiekoers verhoog word. Foto: Unsplash

“Om die skok van dubbelsyfer-loonverhogings in dié sektore in te stel, gaan waarskynlik tot massiewe werkverliese en/of ’n toename in nievoldoening lei – albei scenario’s wat waar moontlik vermy moet word.”

   

Armoedelyne

Die kommissie verwys na die drie armoedelyne wat SSA in April vanjaar geïdentifiseer het:

Die kosarmoedelyn, oftewel die geld wat nodig is net om die minimum hoeveelheid kilojoules per dag in te neem, is R585 per persoon per maand of R2 050 vir die gemiddelde huishouding (wat op 3,5 mense geraam word).

Die onderste armoedelyn sluit kos in, asook baie noodsaaklike huishoudelike items, en dis R840 per persoon of R3 000 per huishouding.

Die boonste armoedelyn, wat effens meer produkte insluit, is R1 268 per persoon of R4 438 per huishouding.

Die kommissie sê volgens dié maatstaf is die nasionale minimum loon onder die boonste armoedelyn en net 20% bo die onderste armoedelyn. Vir enige huishouding wat vier of meer lede het, met net een mens wat ’n salaris op die vlak van die minimum loon verdien, sal die hele huishouding tot die kosarmoedelyn afgedwing word.

Die kommissie sê om te keer dat mense dramaties verarm tot die punt waar hulle dalk honger ly, is dit noodsaaklik dat die minimum loon met meer as die inflasiekoers verhoog word. Dis ook omdat kospryse vinniger as die algemene inflasiekoers styg en arm mense, wat meer van hul geld aan kos moet bestee om te oorleef, dus hoër inflasiekoerse beleef.

Meer oor:  Huiswerkers  |  Salarisse  |  Plaaswerkers  |  Beroepe  |  Armoede  |  Minimum Loon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.