Suid-Afrikaanse ondernemings wat ’n uitvoerende hoof met buitelandse ervaring wil aanstel, beter ag slaan op die lys kritieke vaardighede wat die departement van binnelandse sake verlede week vir kommentaar uitgereik het.

Uitvoerende hoofde is nie op die lys van kritieke vaardighede nie en kenners meen dit is 'n fout. Foto: Unsplash
Marisa Jacobs, besturende direkteur van Xpatweb, ’n firma wat visum- en immigrasiedienste lewer, sê dit is skreiend dat C-vlakbestuurders (uitvoerende hoofde, finansiële hoofde, bedryfshoofde en ander) nié op die lys is nie.
Mense met kritieke vaardighede se aansoeke om ’n werkpermit in Suid-Afrika sal versnel word.
LEES OOK: Só lyk SA se lys van kritieke vaardighede nou
Die lys bestaan op die oomblik uit 128 beroepe en ambagte, waaronder verpleegkundiges, programmeerders en selfs bemarkers. Kommentaar kan tot 31 Maart op die konseplys ingedien word, waarna ’n finale lys saamgestel sal word.
Jacobs sê dit is uiters belangrik dat werkgewers wat internasionaal talent werf, vinnig terugvoering gee. “Dit sal verseker dat hulle nie ontneem word van kritieke vaardighede vir hul onderneming wat skaars in Suid-Afrika is nie.”
Sy is ook bekommerd oor die uitsluiting van mense wat vaardig in ander tale is. “Suid-Afrika se florerende oproepsentrumbedryf is net een plek waar werkers wat hul kliënte se huistaal praat, noodsaaklik is vir plaaslike maatskappye wat hul internasionale sakeverhoudinge uitbou.”
Sy is bekommerd dat spesialis-ambagslui nie op die lys is nie, maar wel redelik algemene tegniese poste soos passer en draaier.
Die departement van hoër onderwys en opleiding stel die lys op in samewerking met die departement van indiensneming en arbeid.
Xpatweb doen self jaarliks ’n peiling oor watter poste maatskappye sukkel om te vul en die firma se data is in die studie gebruik waarop die konseplys gegrond is.
Firmas wat wil deelneem aan Xpatweb se 2020-peiling, wat op 1 Maart eindig, kan dit hier doen.