Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
KYK: Jong ingenieur is reg om Robot Federer aan te vat

Hy wou bitter graag ’n afstandbeheerde Hummertjie hê toe hy ’n klein seuntjie was, maar dit was Tsepiso Taole nie beskore nie.

Taole, wat in die berge van Lesotho by sy ouma grootgeword het, hét gevra of hy een kan kry, selfs al het hy voor sy siel geweet daar is nie geld daarvoor nie.

Maar dit sou dié knaap nie onderkry nie. ’n Hummer wou hy hê en hy bou toe een uit draad. Hy het hom selfs probeer motoriseer.

“Die karretjie het gewerk as ’n mens hom aanskakel, maar ek kon hom glad nie aan die ry kry met die afstandbeheerder wat ek gebou het nie. Al het ek wát probeer,” vertel hy.

Dié karretjie was egter die begin van groot drome om eendag goed te bou wat self beweeg en mense in hul daaglikse lewe kan help.

Taole se droom het aan die begin van 2019 stukrag gekry toe hy as derdejaarstudent in ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP) die vak EMK310 begin neem en meer oor mikroverwerkers geleer het.

As deel van dié vak moet die studente ’n mikrobeheerdergebaseerde outonome robotiese voertuig(ie), oftewel ’n MORV, bou.

Prof. Tania Hanekom en Tsepiso Taole in een van die laboratoriums by die Universiteit van Pretoria se departement ingenieurswese.Foto: Elvira Wood

Nie net moet die motortjie sonder enige regstreekse beheer ’n groen lyn op ’n baan kan volg nie, hy moet teen soortgelyke motortjies resies jaag op die universiteit se jaarlikse resiesdag.

“Dit was ’n groot uitdaging. Ek kan nie vir jou sê hoeveel keer ons by die prof om hulp moes gaan aanklop nie,” vertel Taole oor ’n koppie tee op ’n koue wintersoggend op die UP-kampus.

“Ek het van die begin af geweet as ek en my spanmaats suksesvol wil wees met hierdie projek, sal ons dit baie goed moet bestuur.

“Ek het een vakansie by ’n ingenieursfirma gewerk. Hier het ek gesien hoe die projekspanne sonder uitsondering elke Vrydag oor hul projekte vergader.

“Ek was ’n junior en het nie die vergaderings bygewoon nie, maar ek het gedink dit is ’n goeie idee,” vertel hy.

Taole sê hy was sommer van die begin af die leier van sy groep en het gereël dat hy, Tumelo Mofokeng, Lebohang Ndungane en Lesedi Thankane mekaar elke Vrydag op kampus ontmoet om die projek te bespreek.

“Elkeen van ons het ’n spesifieke taak gehad, van die ontwerp en bou van die voertuigie, tot die administrasie verbonde aan die projek,” vertel hy.

Met dié dat Taole by sy oom in Benoni woon en elke dag met die trein kampus toe ry, was dit nie altyd maklik om dié vergaderings by te woon nie.

Maar dié toewyding maak prof. Tania Hanekom, die skepper van dié resiesdag wat sedert 2012 elke jaar op die kampus gehou word, baie trots op Taole en sy spanmaats.

“Die manier waarop hierdie groep die projek bestuur het, is presies wat ons hoop studente sal doen.

“Daar is geweldige druk op hulle, en dit is maklik om behoorlike beplanning af te skeep. Dit is juis dan wanneer daardie karretjie waarskynlik nié op resiesdag gaan werk nie,” vertel sy.

Op die vraag hoe dinge op resiesdag, wat op 27 Mei gehou is, afgeloop het, word Taole stil.

“Ongelukkig het ons karretjie halfpad gaan staan. Daar was ’n draadjie los,” sug hy.

Hanekom val hom vinnig in die rede.

“Dit was een draadjie. Julle het ’n uitstekende karretjie gebou en julle het die regte proses gevolg. Wie weet, dalk kan jy eendag vir Robot Federer takel,” sê sy.

Taole se oë blink met nuwe vuur.

“Prof, wag en kyk, Robot Federer se dae is getel. Ek gaan sy rekord nog vernietig!”

“Robot Federer” is die MORV wat die baanrekord van 8,9 sekondes hou.

“Robot Federer is deur ’n groep honneursstudente gebou, in 2018,” sê sy.

Tsepiso Taole en sy MORV.Foto: Elvira Wood

“En dié groep se karretjie het 18 maande tevore op resiesdag nie eens beweeg nie. Met meer kennis en ervaring het die groep besluit om ’n nuwe een te bou, wat nou die standaard stel,” sê sy.

Petri Oosthuizen se MORV wat in 2017 deelgeneem het, hou tans die baanrekord vir derdejaarstudente van 11,7 sekondes.

Hanekom sê Taole en sy karretjie wys daar is baie hoop vir Suid-Afrika se jeug.

Hul ywer en toewyding wys daar is ’n goeie toekoms vir ingenieurswese in die land.

En waaroor droom Taole nou?

Hy wil eendag ’n toestel bou wat amper as ’n slimfoon met persoonlikheid beskryf kan word.

“Een wat jou nie net vermaak en inlig nie, maar een wat jou emosioneel ook kan bystaan,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.