Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Matrieks: Dís wat jy ná skool kan doen vir geld
selfdoen, instandhouding, herstelwerk
Daar is baie loopbaangeleenthede vir ambagslui. Foto: Pixabay

Studie aan ’n universiteit is nie die enigste manier om ’n goeie loopbaan te bou nie. Daar is hordes ander opsies vir ’n goeie loopbaan waarmee jy goeie geld kan maak.

Netwerk24 het met kenners gesels om ’n reeks opsies saam te stel vir matrikulante met die oog daarop om ’n volhoubare loopbaan sonder universiteitsopleiding te bou.

Universiteite is propvol. Volgens Leon Lategan, uitvoerende hoof van Lion’s Den en stigter van die Skool vir Entrepreneurskap, word universiteite volgens verskeie maatstawwe oorval met tien keer meer aansoeke as waarvoor hulle plek het. Die goeie nuus is egter dat jong mense nie ’n graad nodig het om ’n volhoubare en winsgewende loopbaan te begin nie.

“Baie van die vaardighede wat vandag in aanvraag is, is vir poste wat nie eens vyf jaar gelede bestaan het nie,” sê Marisa Jacobs, direkteur van Xpatweb, ’n spesialisfirma wat navorsing doen oor vaardigheidstekorte in Suid-Afrika.

Om in aanmerking te kom vir veral sulke poste, gaan dus meer oor vaardighede wat bo en behalwe ’n graad verkry is.

Die opsies is wyd.

Ambagslui

Volgens Elsie Harmse, besturende direkteur van Africa Skills Group, staan dit soos ’n paal bo water dat daar vir baie beskikbare poste eenvoudig nie genoeg aansoekers met die vereiste kwalifikasies is nie.

Bevindings oor die tekort aan gekwalifiseerde professionele kandidate in sleutelberoepe is in die kollig weens werkgewers se toenemende frustrasie om toepaslik gekwalifiseerde werknemers te vind. “Ongelukkig is sommige kursusse wat jaarliks duisende studente toelaat nie meer van toepassing in die huidige ekonomiese stelsel nie,” sê Harmse.

Ambagslui tel onder die topberoepe met die hoogste inkomstetrajek namate ondervinding en spesialisvaardighede opgedoen word. Sweisers en ketelmakers het die hoogste aanvangsalarisse onder dié groep en beklee van die hoogs betaalde posisies, luidens die aanlyn werwingsplatform Giraffe.

“Die bevindinge druis in teen die persepsie dat handewerk nie ’n lewensvatbare loopbaanopsie is nie.

“Selfs die dokter, prokureur en professor moet die loodgieter uitroep en sy motor na ’n werktuigkundige neem.”

Harmse noem van die ambagte wat matrikulante kan oorweeg:

• Wat ook al die ekonomiese situasie in ’n land is, sal die werk van ’n loodgieter altyd noodsaaklik wees. Volgens Harmse is standvastigheid ’n besliste voordeel van hierdie beroep. Loodgieters moet goeie probleemoplossers wees en tegniese planne kan verstaan en uitvoer.

• “Indien jy van handewerk hou of daarvan hou om iets te ontwerp, te bou of te herstel, is dit ideaal om ’n sweiser te word. Aangesien die werk die gebruik van tegniese toerusting, oop vonke en vlamme vereis, verg suksesvolle sweisloopbane baie oefening en deeglik geakkrediteerde opleiding. Sweisers kan hul loopbane ontwikkel om uiteindelik in groter en later in nywerheidsprojekte te spesialiseer.” Daar is verskeie spesialissweisloopbane – soos sweis onder water, die sweis van drukvate en hoëdrukpype vir vervaardiging.

• ’n Elektrisiën verrig ’n verskeidenheid take, wat wissel van die installasie van bedrading in nuwe geboue tot herstelwerk en die vervanging van uitgediende stelsels. Hiervoor moet ’n mens ’n meganiese aanleg hê. Voornemende elektrisiëns moet probleemoplossing geniet, met begrip kan lees, sakevaardighede toon en weet hoe om met kliënte te werk.

Volgens Harmse is ander ambagte wat altyd in aanvraag sal bly, die werk van ’n messelaar en ’n skrynwerker.

Harmse sê aansoeke vir 2021-registrasie vir ambagsopleiding en ’n reeks geakkrediteerde sakevaardigheidskursusse in die Suid-Kaap, Gauteng en Noordwes is oop vir matrikulante, gr. 9’s en werklose volwassenes.

Vaardighede plaaslik in aanvraag

Die emigrasie-konsultantefirma Xpatweb doen jaarliks sy eie peiling onder ondernemings waardeur hy poste identifiseer wat maatskappye sukkel om plaaslik te vul.

Jacobs sê hieronder tel ’n reeks vaardighede wat nie universiteitsopleiding of ’n graad verg nie.

Jacobs sê die aanvraag na ambagslui is so dringend dat die departement van binnelandse sake nou immigrante toelaat om poste te kom vul.

Volgens Jacobs is ambagte al jare lank in die topvyf beroepe wat die meeste in aanvraag is in Suid-Afrika.

Heel boaan die lys die afgelope drie jaar is enigiets in die tegnologie- en inligtingstegnologie-rigting, sê Jacobs.

Jy kan dus deur vaardighede wat jy sommer self in jou eie tyd ontwikkel, in aanmerking kom vir van die mees gesogte poste met die beste salarisse in die land.

Daar is talle maniere om byvoorbeeld aanlyn te leer kodeer en dit is dikwels al wat nodig is vir ’n reeks tegnologie-poste waarin daar ’n tekort aan vaardighede in Suid-Afrika is.

Xpatweb meen ook ’n beroep in kommunikasie en bemarking kan lonend wees. Lategan meen hoewel mense dikwels ’n graad kry om hierdie vaardighede te ontwikkel, is dit nie noodwendig nodig nie. Hy sê die tyd het aangebreek vir entrepreneurs wat hulself oplei.

Entrepreneurskap

Lategan glo die land se werkloosheidskrisis kan opgelos word deur mense op te lei om hulself in diens te neem.

In sy peilings onder voornemende universiteitstudente is 90% onseker oor wat hulle wil swot.

Dit lei regstreeks daartoe dat 47% van mense wat met universiteitsopleiding begin, uiteindelik nie hul graad kry nie.

“Jy moet 100% seker wees wat jy wil doen as jy universiteit toe wil gaan,” sê Lategan.

Andersins, reken hy, is dit baie meer winsgewend om te leer hoe om jou eie onderneming te begin.

Lategan lei mense al jare lank op om entrepreneurs te word, en sy jongste onderneming is die Skool vir Entrepreneurskap. Dit lei matrikulante binne ’n jaar op om hul eie onderneming te begin.

“Dis heeltemal haalbaar,” sê Lategan. Hy meen elke persoon se aanleg en vaardighede kan in ’n onderneming omskep word.

Lategan self het nie ’n graad nie.

Entrepreneurskap is een van die beste maniere om vaardighede in te span wat relevant vir die arbeidsmark is en dit so winsgewend as moontlik te doen, sê hy.

Selfs is iemand op pad universiteit toe, is dit ’n goeie idee om eers ’n jaar af te vat en te leer hoe om ’n entrepreneur te word nog voordat jy gaan swot.

Sodoende kan jy ná jou studies vir jouself werk skep eerder as om te wag vir ’n geleentheid.

Meer oor:  Matrieks  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.