Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Matrieks: Gaan leer, maar vind eers jou passie

Matrikulante het nou hul uitslae en ongeag of hulle juig of huil, is daar nog ’n lang pad wat voorlê soos hulle die arbeidsmark betree. Hoe kan hulle voorberei vir die volgende groot stap?

  

leer
Jy het kwalifikasies op jou CV nodig, maar jy moet ook kan wys dat jy passie en dryfkrag het. Foto: Pixabay

Heel eerste moet jy jou passie vind – en dit kan dalk ’n lang proses wees.

Whitey Basson, voormalige uitvoerende hoof van die Shoprite-groep, sê hy sou nooit iemand aanstel wat nie ’n “vlam” het nie.

Christo Wiese, wat Pepkor uitgebou het tot ’n kleinhandelreus, sê ook persoonlikheid en ambisie is net so belangrik as opvoeding.

Sakeleiers sê: Wat maak ’n goeie werknemer?

Whitey Basson

“Matriek is ’n lieflike beginpunt, maar ’n mens moet gaan kyk na iets meer doen wat by jou persoonlikheid pas. Sodoende kan ’n mens dan die regte indrukke maak op die regte plekke, want die pad hou nie op nou dat skool verby is nie, dit begin nou eers. Die eerste ding vir my is om in ’n nuwe potensiële werknemer se oë te kyk en te sien of die vlam daar brand. Voor onderrig en ervaring is persoonlikheid so belangrik.”

Christo Wiese

“Die heel belangrikste ding is om eers ’n betrekking te kry, wat ook al dit is. Wanneer jy by ’n onderneming instap waar jy wil werk is dit ’n dodelike diskwalifikasie om, wanneer hulle vra wat jy tans doen, te antwoord: ‘Ek sit by die huis.’ Vind maniere sodat jy eerder kan sê: ‘Ek soek ’n geleentheid om te verbeter,’ al is dit dan van ’n pos as kelner of so. Met ’n potensiële werknemer is dit vir my belangrik dat hulle reeds ’n werk het en dat daar dan as kombinasie van persoonlikheid en onderrig ’n goeie indruk gemaak word.”

Tersiêre onderrig is wel noodsaaklik, meen Nritika Singh, besturende direkteur van Isilumko Staffing & Activate, ’n personeel- en werwingsagentskap. Waar baie jong mense (of dalk liewers hul ouers) die pot mis sit, is dat hulle vergeet hoeveel die wêreld van werk verander het: Tradisionele tersiêre onderrig is lank nie meer jou enigste opsie nie.

Singh verduidelik dat moderne werkplekke al hoe meer “passie en talent” wil inspan in plaas van slegs gefokus te wees op tegniese vaardighede.

Whitey Basson, voormalige uitvoerende hoof van Shoprite, soek ’n vlam by voornemende werknemers.

“In vandag se wêreld is daar nou plek vir minder tradisionele rolle in verskeie poste,” sê sy.

Die klem op passie beteken daar is groter verantwoordelikheid op jong mense om meer te bewys as net ’n lys vaardighede of kwalifikasies.

Singh sê durf, veerkragtigheid en betrokkenheid gaan die deurslag gee, veral in jou eerste werk.

“Ons soek ’n spesifieke houding in ’n persoon wat wys dat hulle volledig betrokke is. Vaardighede kan later vir hulle by die werk self geleer word.”

Singh stel voor dat matrieks wat gaan werk soek, hetsy deeltydse of heeltydse werk, probeer om hul persoonlikheid en houding uit hul CV te laat straal. Dit moet jou as individu weerspieël: “Al het jy nie ervaring nie, maak seker jy wys dat jy iemand is wat betrokke is in die lewe en lys jou lidmaatskap van organisasies en buitemuurse aktiwiteite – enigiets wat wys dat jy aktief is en nie net wag dat goed met jou gebeur nie.”

Daar is baie waarde in pamflette uitdeel, aflewerings doen of ’n kelner wees. Dit help jou om besluite te neem soos jy jouself in die arbeidsmark leer ken.
Nikita Singh, personeelwerwer

Mense moenie die waarde van deeltydse werk onderskat nie. “Daar is baie waarde in pamflette uitdeel, aflewerings doen of ’n kelner wees. Dit help nie net om vertroue in jou deursettingsvermoë te bou nie, maar dit help jou ook self om besluite te neem soos jy jouself in die arbeidsmark leer ken.”

Vind jouself

Lloyd Ripley-Evans, opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, sê dis van uiterste belang dat jong mense hulself leer ken voordat hulle ’n langtermynloopbaan kies of ’n spesifieke graad aanpak.

“Ná skool is daar nog so baie ontwikkeling wat moet gebeur in elke mens, wat dit noodsaaklik maak dat hulle die balans tussen wat hulle wil hê en waartoe hulle in staat is, mooi bestuur soos hulle op die nuwe verkenningstog gaan,” sê Ripley-Evans.

“Jong mense moet probeer om die fokus van die einddoel (die uiteindelike loopbaan self) verskuif, want dit verblind ’n mens vir dít waarop hulle eintlik moet fokus.”

Die aantal studente wat op universiteit van kursus verander juis as gevolg van dié wanpersepsies is enorm, en die baie wat druip, wys nog meer daarop dat dié soort besluite nie ligtelik geneem moet word nie
Lloyd Ripley-Evans, opvoedkundige sielkundige

Volgens Ripley-Evans is dit belangriker om te fokus op waartoe hulle in staat is, waarin hulle goed is, en watter soort mens hulle is wanneer jong mense probeer besluit oor hul loopbaan. As hulle net aan die loopbaan dink, slaan hulle stappe oor wat hulle die verkeerde besluit kan laat neem.

Matrikulante betree nou ’n wêreld waar daar nie meer voorsiening gemaak word vir hul tekortkominge nie. As hulle nie weet wat hul sterk of swak punte is nie, kan hulle die verkeerde besluite neem.

“Die aantal studente wat op universiteit van kursus verander juis as gevolg van dié wanpersepsies is enorm, en die baie wat druip, wys nog meer daarop dat dié soort besluite nie ligtelik geneem moet word nie,” verduidelik hy.

Christo Wiese van Pepkor-faam sê opvoeding is belangrik, maar ook persoonlikheid. Foto: Getty Images

Singh stel voor dat enige matrikulant wat nog onseker is oor sy toekoms ’n oorbruggingsjaar moet oorweeg waar hulle dan werkervaring kan opdoen.

Digitale ekonomie

Maar bo en behalwe die algemeen veranderende wêreld van die arbeidsmark is daar altyd vaardighede wat ’n werknemer sal laat uitstaan in die digitale ekonomie.

“Ongeag die loopbane wat skoolverlaters wil volg, moet hulle voorberei op ’n meer tegnologies en digitaal-geleide toekoms,” sê Mich Atagana, Google se hoof van kommunikasie en openbare betrekkinge in Suid-Afrika.

“Aangesien ons nader aan die vierde nywerheidsrevolusie beweeg, het Suid-Afrika ’n tegnologies geskoolde arbeidsmag nodig.

“Dit is baie belangrik dat jong mense voorberei op hierdie veranderinge terwyl hulle nog tyd het,” sê Atagana.

Google bied verskeie gratis aanlyn kursusse waar jong mense digitale vaardighede kan opdoen, bekend as Digital Skills for Africa.

“Hulle kan die digitale vaardighede kies wat hulle wil ontwikkel, teen hul eie pas, hul vordering volg en selfs geakkrediteerde sertifisering ontvang om hul CV’s te verbeter.”

Daar is nie ’n wenresep vir hoe om jouself as werkskepper in plaas van werknemer te omskep nie, maar die belangrikste faktor is ’n vierletterwoord: werk.
Christo Wiese

“Die groot ding vir enige jong persoon wat in die tegnologie-ruimte wil kom, is dat dit voortdurend ontwikkel, wat beteken dat daar altyd nuwe paaie is om te verken,” sê Glenn Gillis, uitvoerende hoof en stigter van die digitale storievertellery Sea Monster.

“Op die oomblik is die beste manier om hierdie velde te betree om op ’n goeie kodering-grondslag te bou met jou eie eksperimentering en aanlyn kursusse.”

Entrepreneurskap

Wiese sê Suid-Afrika het ’n groot behoefte aan entrepreneurs.

“Die gaping tussen die baie mense wat sonder werk sit en die vele ondernemings wat nie hul poste kan vul nie, kan gedeeltelik verbeter word deur meer te fokus op entrepreneurskap.

“Daar is nie ’n wenresep vir hoe om jouself as werkskepper in plaas van werknemer te omskep nie, maar die belangrikste faktor is ’n vierletterwoord: werk.”

Wanneer dit kom by hoe om te begin dink aan watter soort onderneming selfs ’n matrikulant kan begin, sê Wiese, is “daar is geen wet of morele beswaar teen navolging nie”.

Vind jou inspirasie om jou – kyk net hoeveel kleinhandelmaatskappye is daar in die wêreld. Hulle is nie elkeen spesiaal en uniek nie. Gebruik dit om jou te leer waar jou formele onderrig dalk ’n leemte gelaat het.”

Meer oor:  Christo Wiese  |  Whitey Basson  |  Matriekuitslae  |  Matrieks  |  Beroepe  |  Matriekuitslae2018  |  Loopbane  |  Studie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.