Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Mense wat salaris kry, nog 10% minder as laasjaar

Die gemiddelde salaris was in Oktober hoër as ’n jaar gelede, maar ’n skreiende 10,4% minder mense het ’n inkomste verdien.

Salarisse styg, maar minder mense het werk.

Dit blyk uit BankservAfrica se maandelikse peiling oor besteebare inkomste – die geld wat ná belasting en aftrekkings soos mediesefonds- en pensioenfondsbydraes in mense se bankrekening land.

Die daling in die aantal mense met ’n salaris is in ooreenstemming met die nagenoeg 1,7 miljoen poste, oftewel 10,3% van almal met werk, wat in die derde kwartaal verlore gegaan het vergeleke met ’n jaar gelede, volgens Statistieke Suid-Afrika.

Volgens die BankservAfrica-indeks was die gemiddelde salaris 3% hoër in reële waarde, dus 3 persentasiepunte meer as die inflasiekoers. In nominale waarde was dit 6,3% hoër.

Die gemiddelde salaris ná aftrekkings was R14 773.

Shergeran Naidoo, BankservAfrica se hoof van betrekkinge met belanghebbendes, sê ’n duideliker prentjie van die impak van die inperkings begin na vore kom soos die laaste Covid-19-Ters-betalings uitbetaal word. Dié uitbetalings deur die Werkloosheidsversekeringsfonds geld net die tydperk tot 15 Oktober.

Nog mense kon terugkeer werk toe op vlak 1 van die staat van inperking. Die 10,4%-daling in die aantal salarisuitbetalings is vergeleke met die 34%-daling wat in Julie beleef is.

Volgens BankservAfrica is mense wat minder as R30 000 per maand verdien het, die swaarste getref deur die Covid-19-krisis.

Die ekonoom Mike Schüssler van Economists.co.za, wat die inligting saamstel, sê veral op die strengste vlakke van die inperking was mense wat per dag of week betaal is, die meeste geknou.

As alle salarisse bymekaar getel word, is die totaal 0,1% laer as ’n jaar gelede. Dit en die styging in die gemiddelde salaris toon dat baie van die 10,4% mense wat nie meer ’n salaris verdien nie, laeinkomste-werknemers was.

Schüssler is bekommerd dat die werklike skade wat die inperking aan die ekonomie aangerig het, nou sal begin deursyfer soos die bykomende maatskaplike toelae en die Covid-19-Ters-betalings ten einde loop.

Private pensioene

Private pensioene het vir die vierde opeenvolgende maand met meer as die inflasiekoers gestyg, maar was ook die laagste in die vier maande, teen 1,9% op ’n reële grondslag of 5% nominaal.

Die gemiddelde pensioen is R8 563, oftewel 57,9% van die gemiddelde salaris. Oor die jare heen het die gemiddelde pensioen egter ingehaal teenoor die gemiddelde salaris.

Meer oor:  Bankserv­Africa  |  Loopbane  |  Salarisse  |  Beroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.