Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Minder mense werk in November tuis, wys verkeer

Baie Suid-Afrikaners het in November teruggekeer kantoor toe, wys inligting oor hoe verkeer aan die optel is soos die land na ligter vlakke van die inperking beweeg.

kaap
Die Kaapse stadskern is nog stiller as ’n jaar gelede, maar daar is tekens dat meer mense terugkeer kantoor toe. Foto: Pixabay

Nietemin is paaie nog tussen ’n kwart en ’n derde so besig as in dieselfde weke van 2019, wys die verkeersyfers wat TomTom op sy webwerf publiseer.

Kaapstad

Volgens TomTom was die verkeer in Kaapstad – berug as die Suid-Afrikaanse stad met die meeste verkeersknope tydens spitstyd – verlede week 25% minder as in dieselfde week van 2019, met die uitsondering van Donderdag, toe dit 13% van verlede jaar se verkeer was.

Dis teenoor die laaste week van Oktober, toe die syfers vir werkdae tussen 31% en 42% minder was as in dieselfde week van 2019.

Dit toon duidelik dat ’n beduidende aantal mense in November uit hul tuiskantore begin beweeg het, minstens ’n paar dae per week.

Op vlak 5 van die inperking – van 27 Maart tot 30 April – was verkeer op weekdae in Kaapstad tussen 58% en 74% minder as in 2019.

Dieselfde patroon blyk uit ander stede in die land wat TomTom monitor.

Johannesburg

Die afgelope week was weekdagverkeer tussen 25% en 33% minder as ’n jaar gelede. Dis teenoor die tussen 33% en 44% van die laaste week van Oktober.

Op vlak 5 was verkeer op weekdae tussen 66% en 78% minder as in 2019.

Pretoria

Die afgelope week was weekdagverkeer tussen 21% en 30% minder as ’n jaar gelede. Dis teenoor die tussen 29% en 41% van die laaste week van Oktober.

Op vlak 5 was verkeer op weekdae tussen 70% en 89% minder as in 2019.

Bloemfontein

Die verkeer in het nie heeltemal soveel verskil tydens die verskillende vlakke van inperking as in die ekonomiese hoofstede van die land nie.

Die afgelope week was weekdagverkeer tussen 13% en 24% minder as ’n jaar gelede, baie soortgelyk aan die syfers vir die laaste week van Oktober, van tussen 13% en 33% minder.

Op vlak 5 was verkeer op weekdae tussen 45% en 68% minder as in 2019.

Durban

Die afgelope week was weekdagverkeer tussen 17% minder en 7% méér as ’n jaar gelede. Dis teenoor die tot 38% minder in die laaste week van Oktober.

Op vlak 5 was verkeer op weekdae tussen 55% en 74% minder as in 2019.

Oos-Londen

Verkeer in dié stad, een van die nywerheids- en uitvoersentra van die land, is uitsonderlik omdat dit reeds sedert September nou en dan méér is as ’n jaar gelede.

Maar ook in dié stad is dit duidelik dat verkeer sedert November baie erger is as in vorige maande. Vir die eerste week van November was verkeer tussen 3% en 19% méér as in 2019, terwyl dit in die laaste week van Oktober tussen 3% en 20% minder was as in 2019.

Op vlak 5 was verkeer op weekdae tussen 45% en 74% minder as in 2019.

Meer oor TomTom se verkeersverslae

TomTom is ’n Nederlandse tegnologiemaatskappy wat onder meer fiksheidsbandjies en navigasietoestelle verkoop en navigasiedienste lewer. Verkeersverslae word daagliks aangegee, maar die maatskappy reik ook aan die begin van elke jaar ’n jaarverslag uit.

In sy 2019-verkeersverslag het die maatskappy 416 stede wêreldwyd op ’n ranglys geplaas met die stad met die meeste verkeersknope boaan.

Bengaluru, Indië, het dié twyfelagtige eer. TomTom raam dat 243 uur per jaar (meer as tien dae) jaarliks verlore gaan vir mense wat in spitsverkeer werk toe ry.

In Suid-Afrika is Kaapstad (nr. 101) en Johannesburg (nr. 121) die stede met die meeste verkeer. In albei word 154 uur per jaar (oftewel meer as ses dae) in spitstyd vermors.

Pretoria is op nr. 207 en mense mors 131 uur in spitsverkeer.

Oos-Londen (nr. 249; 105 uur), Durban (nr. 314; 98 uur) en Bloemfontein (nr. 402; 62 uur) is stede met minder verkeersknope.

Greensboro-High Point in die Amerikaanse deelstaat Noord-Carolina is die stad met die minste verkeer ter wêreld. Inwoners bestee nietemin steeds elke jaar 34 uur langer op die pad as hulle in spitsverkeer ry as wat hulle buite spitsverkeer sou ry.


Meer oor:  Kaapstad  |  Johannesburg  |  Loopbane  |  Verkeer  |  Werk Van Huis Af  |  Paaie  |  Beroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.