Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Nou vat regering MRK hof toe oor regstel-aksie

Die regering gaan die Menseregtekommissie (MRK) na die hooggeregshof neem oor dié menseregtewaghond se gelykheidsverslag.

Advokate neem hul plekke Woensdagoggend in die arbeidshof in Johannesburg voor die hofsaak tussen Solidariteit en Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, begin het. Foto: William Horne

Dit kom terwyl uitspraak Woensdag in die arbeidshof in Johannesburg voorbehou is in die saak wat die vakbond Solidariteit teen die regering gebring het.

Solidariteit het ’n aansoek gebring om die regering te dwing om die voorstelle van die MRK se gelykheidsverslag te implementeer nadat dit al vir 18 maande geïgnoreer is.

Dié verslag het bevind die Wet op Diensbillikheid en regstellende aksie word ongrondwetlik toegepas en bevorder in sy huidige formaat nié gelykheid nie.

Die MRK het wel in reaksie op Solidariteit se regstappe skielik in sy beëdigde verklaring gesê sy voorstelle is nie so streng as wat dit lyk nie, en moet eerder as “advies” gesien word.

Solidariteit, wat Woensdag in die hof moes regverdig hoekom sy aansoek steeds moet slaag as die MRK self dan skielik nie meer die gewig van sy eie verslag respekteer nie, is nou gevoeg tot die aansoek teen die MRK se gelykheidsverslag.

Die vakbond sal dit dus steeds saam met die MRK in die hooggeregshof verdedig.

Die regering voer aan hy is nie gebonde aan die gelykheidsverslag nie, maar wil wel die verslag na ’n ander hof neem om dit te laat hersien.

Die regering het 60 dae gehad om op die verslag te reageer. Dit is nou 18 maande later. Die regering het sy reg op hersiening verloor.
Dirk Hermann

Volgens Solidariteit sal dit Hoofstuk 9-instellings irrelevant maak indien hul aanbevelings bloot geïgnoreer kan word.

“Ons is verstom dat die regering in die arbeidshof aanvoer hy is nie gebonde aan die MRK se verslag nie, maar terselfdertyd bring die regering ’n aansoek in die hooggeregshof dat die bevindinge en aanbevelings daarvan nietig verklaar word,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Die regering het 60 dae gehad om op die verslag te reageer. Dit is nou 18 maande later. Die regering het sy reg op hersiening verloor.”

Volgens Hermann is die kern van die MRK-verslag dat regstellende aksie meer genuanseerd toegepas moet word; dat behoefte en sosio-ekonomiese aanwysers in ag geneem word; en dat die manier waarop regstellende aksie toegepas word, aanleiding gee tot ’n praktyk van ongrondwetlike rassekwotas.

Die wet moet verder gewysig word om terug te keer na ’n posisie waar oorweging van ’n streek se ekonomies aktiewe bevolking in verhouding tot verteenwoordigende vlakke verpligtend en nie diskresionêr is nie
MRK-verslag

In die gelykheidsverslag van 12 Julie 2018 het die MRK aanbeveel die Wet op Diensbillikheid moet gewysig word en dat die regering binne ses maande ná die uitreiking van die verslag terugvoering moes gee oor hoe dit verander gaan word.

Die verslag beveel aan “die wet moet verder gewysig word om terug te keer na ’n posisie waar oorweging van ’n streek se ekonomies aktiewe bevolking in verhouding tot verteenwoordigende vlakke verpligtend en nie diskresionêr is nie”.

Die verslag van die MRK volg op aanbevelings van die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitskakeling van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) wat skerp kritiek op Suid-Afrika se stelsel van rassediskriminasie gelewer het.

Die aanbevelings van die VN-komitee kom nadat die departement van justisie en Solidariteit in 2016 voorleggings aan dié komitee in Genève, Switserland, gedoen het.

“Die regering het nog geen wysigings aan die Wet op Diensbillikheid aangebring nie ten spyte daarvan dat die land se menseregtewaghond bevind het ’n ongenuanseerde rassebenadering is ongrondwetlik. Om 18 maande te wag en dan ’n hersieningsaansoek te bring, is minagtend teenoor ’n instelling wat deur die Grondwet ingestel is, en minag ook die Grondwet self,” sê Hermann.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi het namens sowel Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, as die regering Woensdag in die arbeidshof aangevoer die MRK beskik nie oor die nodige gesag om die grondwetlikheid van wetgewing te bepaal nie, en nog minder om wysigings aan te beveel.

Ngcukaitobi het uitgevaar oor dié afwesige gesag, en veral verwys na die onlangse regstryd van adv. Busisiwe Mkwebane, openbare beskermer (OB), in die konstitusionele hof waar uitgewys is dat haar Hoofstuk 9-instellings nié die Grondwet kon bevraagteken nie.

Regter André van Niekerk het ook vir meeste van die hofverrigtinge uitgewys dat hy self twyfel oor die MRK se gesag om sulke harde voorstelle te maak.

Maar adv. Garth Hulley SC vir Solidariteit, het in sy slotbetoë uit die handves van die MRK voorgelees. Daarin, sê hy, is dit duidelik dat die MRK eintlik méér gesag het as die OB, in dat hy uitdruklik regstelling mag voorskryf as hy ’n skending van die Grondwet oplet.

En hier is die MRK-verslag ooglopend duidelik: art. 42 van die Wet op Diensbillikheid wat toegewysde groepe definieer, is uit-en-uit teenstrydig met art. 9 van die Grondwet wat aanvanklik as die basis vir dié einste wet gebruik is.

Van Niekerk se uitspraak word op 8 Oktober verwag oor of die MRK-verslag se voorstelle toegepas moet word. ’n Hofdatum vir die regering se aansoek tot die hooggeregshof is nog nie vasgestel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.