Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Nugtere raad oor studie, werk vir Klas van 2018

Matriek is ’n onontbeerlike mylpaal, maar die mense van die Klas van 2018 wat geslaag het, moet hulself nie te veel op die skouer klop nie. Werk gaan nie net in hul skoot val nie, want werk is skaars en mense met groter vaardighede staan die beste kans.

Leerders vier hul laaste skooldag. Foto: WERNER HILLS

Aan die ander kant moet jong mense, ook dié wat matriek gedruip het, moed hou, glo in hulself en uitkyk vir geleenthede in die arbeidsmark.

Dis die nugtere waarskuwings van Stanford Mazhindu, woordvoerder van die vakbond Uasa, wat sê matrieks moenie op hul louere rus nie, maar eerder nou vaardighede opdoen.

Matrikulante ding met byna 4 miljoen ander jong mense om werk mee, oftewel 6,2 miljoen Suid-Afrikaners van alle ouderdomme.

Werkloosheid onder mense van 15 tot 24 jaar is 31,1%, teenoor die algemene werkloosheidskoers van 27,5%.

Volgens Statistieke Suid-Afrika was daar in die derde kwartaal van 2018 – die nuutste beskikbare syfers – nagenoeg 1,4 miljoen mense van 15 tot 24 jaar oud wat werk gesoek het en nog 2,5 miljoen van 25 tot 34 jaar oud.

Werkloosheid onder mense van 15 tot 24 jaar is 31,1%, teenoor die algemene werkloosheidskoers van 27,5%.

Pres. Cyril Ramaphosa het werkskepping Maandag in sy Nuwejaarsboodskap as Suid-Afrika se heel belangrikste probleem beskryf.

“Teen die agtergrond van dié syfers kan ek nie oorbeklemtoon hoe belangrik onderwys is nie,” sê Mazhindu. “Ek praat heeltyd met werkgewers en die boodskap is duidelik. Hulle soek vaardige mense, en net ’n matrieksertifikaat voorsien skoolverlaters van beperkte vaardighede, indien enige.

“Matriek is eenvoudig nie meer genoeg om jong mense toe te rus vir die arbeidsmark nie; hulle word as halfgeskool beskou.

“Matriek gee jou net ’n breë teoretiese agtergrond, maar berei jou nie voor om spesifieke take in die ekonomie te vervul nie.

“Iemand wat skool met ’n gr. 10-kwalifikasie verlaat het en drie jaar se praktiese ervaring as ’n loodgieter, werktuigkundige of haarkapper behaal het, het eintlik ’n baie beter kans om werk te kry. Hulle het dalk nie ’n matrieksertifikaat nie, maar hulle het vaardighede bekom wat werkgewers kan gebruik.”

Mazhindu sê vir matrieks wat dit kan bekostig, is daar net een oplossing: Studeer verder. “Hoe hoër jou vlak van onderrig is, hoe beter is die kans dat jy werk kry.”

Matriek is eenvoudig nie meer genoeg om jong mense toe te rus vir die arbeidsmark nie; hulle word as halfgeskool beskou
Stanford Mazhindu

SSA se syfers onderskraag dit: Werkloosheid onder mense met grade is slegs 6,4%, teenoor 29,4% onder mense met matriek.

Werkloosheid onder mense met ’n ander tersiêre kwalifikasie as ’n graad val tussen-in. Dit was in die derde kwartaal 16,6%.

Verdere studie verbeter nie net jou kans om werk te kry nie – dit gee ook jou inkomste ’n enorme hupstoot.

Mazhindu sê navorsing toon dat mense met matriek tussen 40% en 70% meer verdien as iemand sonder matriek. Mense met ’n diploma of sertifikaat verdien tussen 170% en 220% meer, en mense met ’n graad tussen 250% en 400% meer as iemand wat nie matriek voltooi het nie.

Vir matrikulante wat nie geslaag het nie, moedig hy aan om nie moed op te gee nie, maar aan te klop by ’n owerheid wat sektorale onderrig en opleiding (seta) aanbied, dus beroepsgerigte programme, of by ’n private kollege.

“Gaan spesialiseer. Vind uit waar daar vaardigheidstekorte is en waar jy ’n verskil kan maak.

“As jy nie die geld het nie, probeer ’n werk kry waar jy indiensopleiding kan kry of vra ’n seta om te help.”

Nog ’n opsie is dat jy in jou eie tyd met behulp van korrespondensiekursusse verder studeer terwyl jy werk.

“My boodskap aan matrieks en ander wat vanjaar skool verlaat, is om jouself nie as hulpeloos te sien nie, maar om prakties te dink. Selfs al moet jy vir ’n karige loon werk en by jou ouers bly, kry daardie eerste werkervaring. Dit sal vir jou deure oopmaak.

“Die feit is, die wêreld skuld jou niks, maar jy skuld jouself alles.”

Hy sê jong mense moet oppas vir ’n meerderwaardige houding wat hulle dalk blind sal maak vir werkgeleenthede.

Meer oor:  Werkloosheid  |  Werksgeleenthede  |  Matriekeksamen2018  |  Matrieks  |  Matriek  |  Beroepe  |  Matriekuitslae2018  |  Loopbane  |  Jeug  |  Matrikulante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2381,58 (472)
  • Top 40 48158,37 (4141)
  • All Share 53874,52 (3359)
  • Resource 10 42374,38 (-13158)
  • Financial and Industrial 30 72821,17 (16551)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.