Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Ons werk langer ure tuis, maar wil nie kantoor toe

Die “nuwe normaal” beteken ons het nou langer werksure en tog wil 67% van Suid-Afrikaanse beroepslui aanhou om van die huis af te werk, minstens die helfte van die tyd.

Werksure het vermeerder vandat mense van die huis af werk. Foto: Unsplash

Volgens ’n studie deur NordVPN, ’n virtuele private netwerkverskaffer (VPN), werk mense nou langer ure van die huis af as wat hulle voorheen op kantoor was.

Nuwe data van NordVPN Teams wys dat mense wêreldwyd gemiddeld 2,5 uur per dag langer werk as gewoonlik, net meer as ’n jaar nadat die wêreldwye Covid-19-pandemie begin het.

In die VSA is die gemiddelde werksdag bykans 40% langer, oftewel 15 uur per week. In Brittanje en Kanada is ’n werkdag 25% langer, oftewel 10 uur per week. Dit kom neer op ’n hele ekstra werksweek in ’n maand.

Aanlyn werksure in sommige Europese lande het begin stabiliseer soos baie werknemers in ’n mate die geleentheid gebruik het om terug te keer kantoor toe. In Denemarke, België en Spanje sit werknemers weer dieselfde ure in as voor hul onderskeie kwarantyntydperke.

Britte en Nederlanders werk egter nog gereeld tot 20:00.

NordVPN het tydens etenstyd geen beduidende afname in die gebruik van VPN-ondernemings aangemeld nie. Mense het dus moontlik slegs gou van hul rekenaar weggetree en iets te ete gegryp.

“Die verskille in data kan verband hou met die feit dat Covid-19 in verskillende lande anders behartig word, maar ook as gevolg van die feit dat afstandswerk in sommige lande die nuwe normaal geword het,” sê Indre Kadaksyte, dataontleder van NordVPN Teams.

Die studie bevat nie spesifiek Suid-Afrikaanse data nie.

’n Ander onlangse peiling wys dat die meeste beroepslui, ondanks die ekstra ure, beslis wil aanhou om van die huis af te werk.

Volgens die werwingsfirma Robert Walters wil 40% van Suid-Afrikaanse beroepslui heeltyds van die huis af werk en nog 27% wil minstens die helfte van die tyd van die huis af werk. Daar is dus steeds sowat 33% wat permanent wil teruggaan kantoor toe.

Die peiling is onder 2 000 beroepslui gedoen.

Samantha-Jane Gravett, mededirekteur van Robert Walters Africa, sê 2020 was die “wêreld se grootste eksperiment vir werk van die huis af, en werkgewers sal ’n fout maak as hulle dink daar gaan nie langtermynveranderinge aan werknemers se verwagtinge wees as gevolg daarvan nie”.

Die tendens dat mense meer gereeld van die huis af werk, het voor die pandemie baie stadig posgevat, maar die meeste werkgewers was nog onwillig om dit op groot skaal toe te pas. Gravett reken die pandemie het die oorgang na meer buigsame werksomstandighede met tussen vyf en tien jaar versnel.

Die belangrikste voordele van werk van die huis af wat beroepslui uitlig, is nogal verrassend – mense noem dat hulle nou eintlik meer gereeld met hul lynhoof en kollegas praat. Die grootste voordele is:

  • Beter gebruik van tegnologie en apps (59% van respondente).
  • Meer gereelde interaksie met bestuurders en kollegas (35%).
  • Meer buigsame werksure (29% van respondente).
  • ’n Groter fokus op persoonlike welstand (29%).

Meer as die helfte (51%) van beroepslui voel hulle moes noodgedwonge hul kommunikasievaardighede verbeter danksy werk van die huis af. Dit sluit hul voorleggings, stem- en video-oproepe in.

Die voorkeurmaniere van kommunikasie was:

  • Kitsboodskapdienste (insluitend WhatsApp), wat deur 74% van respondente gebruik is.
  • Stemoproepe (62%).
  • Video-oproepe (55%).
  • E-pos (39%).

Dit toon duidelik dat e-pos se gewildheid begin taan.

Mense wat heeltyds van die huis af wil werk, gaan hulle egter steeds teen hul baas vasloop. Meer as 25% van maatskappye se senior bestuurspan wil steeds hê mense moet inkom kantoor toe.

Hoewel 66% van beroepslui hulself as meer produktief beskryf, is 24% van maatskappye juis bekommerd daaroor dat mense slaplê as hulle van die huis af werk.

Meer oor:  Werk Van Huis Af  |  Beroepe  |  Kantore  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.