Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Ontslag oor depressie ‘diskriminerend’ – hof

Werkgewers moet twee keer dink voordat hulle ’n depressiewe werker afdank omdat dit outomatiese onregverdige ontslag kan wees, waarsku die arbeidshof.

Ockert Jansen, wat aan depressie en ’n gemoedstoornis ly.

Regshulp Suid-Afrika het dit op die harde manier geleer toe die arbeidshof in Kaapstad hulle beveel het om ’n regsassistent weer aan te stel én ekstra te vergoed.

Ockert Jansen van Riversdal, die werker, het 17 dae sonder toestemming of vooraf kennisgewing van die werk weggebly en sy rug op sy bestuurder gedraai toe dié hom aangespreek het. Hy het ook geweier om ’n opdrag, om ’n tronkbesoek te gaan aflê, uit te voer.

Regshulp SA het hom ná sy dissiplinêre verhoor in Februarie 2014 afgedank, maar die arbeidshof het nou beslis die afdanking was diskriminerend. Jansen moet met volle terugwerkende krag in sy pos heraangestel word. Hy moet ook ses maande se salaris as vergoeding kry.

Jansen het verlede jaar op Facebook geskryf oor jare lange diskriminasie teen hom, maar dat hy bemoedig word, want die “Here bly getrou aan Sy woord”.

Die hof het nou beslis Regshulp SA moes eers ’n ongeskiktheidsondersoek gedoen het voordat hulle Jansen afgedank het, want hulle het geweet Jansen ly aan depressie en sy gedrag spruit moontlik uit sy gesondheidstoestand.

Luidens die uitspraak is geestesongesteldheid ’n gestremdheid en as ’n werkgewer iemand afdank weens wangedrag wat verband hou met dié toestand, is die afdanking outomaties onbillik.

In Jansen se geval was sy wangedrag verweef met sy depressie, het die hof bevind. Afgesien van sy afwesigheid is Jansen ook in sy dissiplinêre verhoor skuldig bevind aan “growwe parmantigheid” omdat hy op ’n dag “disrespekvol sy rug gedraai en weggestap het” terwyl sy bestuurder en ander senior personeel met hom gepraat het oor sy afwesigheid.

’n Dokter het in 2010 antidepressante vir hom voorgeskryf en op die mediese sertifikaat gesê Jansen toon simptome van major depressie. Jansen het toe sy werkgewer versoek om aan ’n welstandprogram deel te neem.

Nog ’n dokter het in 2011 depressie en hoë angs by hom gediagnoseer.

Rolene Farr, ’n kliniese sielkundige, het in 2012 in ’n verslag aan Jansen se werkgewer gesê hy toon simptome van uitbranding.

In Augustus 2013 het hy nie ’n prestasiebonus en kerfverhoging gekry nie. Dít, sy griewe oor oortydbetaling en persoonlike finansiële druk het sy geestestoestand vererger. Hy was toe 17 dae afwesig van die werk. Hy het daarna aan sy toesighouer gesê hy kan nie meer byhou nie. Nog ’n dokter het toe gemoedstoornis by hom gediagnoseer.

Farr het in Desember 2013 by die werkgewer aanbeveel dat Jansen siekteverlof kry vir ’n redelike lang tyd, dat hy hom moet “skei” van sy werk en sy lewe herprioritiseer. Jansen was op die rand van ’n emosionele ineenstorting, het Farr geskryf.

“Sy gedrag reflekteer sy gemoedstoestand. Hy probeer om alle moontlike stressors te vermy en is daarom nie by die werk nie,” lui haar verslag.

Die hof het bevind ’n werkgewer is verplig om enige werker met ’n gestremdheid soos Jansen “redelik” tegemoet te kom. “Pleks om hom af te dank, het die (werkgewer) ’n plig gehad om ’n ongeskiktheidsondersoek in te stel.”

Die hof sê die Wet op Gelyke Indiensneming omskryf mense met gestremdhede as diegene wat langtermyn- of terugkerende liggaamlike of geestelike beperkings het wat hul vooruitsigte van indiensneming of vordering beperk. Jansen se toestand strook met dié definisie.

Wat ’n kenner sê

Louw Alberts, ’n bedryfsielkundige van Pretoria, sê Jansen se geval is uitsonderlik. Dit is nie algemeen dat werkers hul gemoedsteurnisse by hul werkgewer aanmeld nie, sê hy.

Enersyds is dit omdat werkers wat vir depressie en angs behandel word nie noodwendig hulself as geestesongesteld of iemand met ’n “gestremdheid” beskou nie. Andersyds verkies sommiges om hul diagnoses privaat te hou.

Geestesongesteldheid is nie ’n klein dingetjie nie. Dit plaas jou in ’n spesifieke werkskategorie.
Louw Alberts, sielkundige

Alberts sê werknemers word nie wetlik gedwing om hul werkgewer in te lig oor hul siektetoestande nie. ’n Voordeel daarvan om die diagnose aan die werkgewer voor te lê, is dat ’n mens tegemoet gekom kan word.

Indien ’n diagnose as ’n gestremdheid erken word, dra dit by tot ’n onderneming se teikens vir regstellende aksie en indiensneming van gestremdheid, en werkers is geregtig op sekere voordele en beskerming. “Geestesongesteldheid is nie ’n klein dingetjie nie. Dit plaas jou in ’n spesifieke werkskategorie.”

Alberts sê die grootste wanopvatting oor werkers met geestesprobleme “is dat hulle gevaarlik is”. Nóg een is dat die probleem hul keuse is en dat hulle daaruit kan kom.

Meer oor:  Stres  |  Arbeidshof  |  Depressie  |  Afdanking  |  Arbeidsake  |  Beroepe  |  Psigiatriese Pasiënte  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1067,41 (3106)
  • Top 40 50659,45 (-32770)
  • All Share 56882,74 (-28151)
  • Resource 10 44620,89 (88898)
  • Financial and Industrial 30 75197,76 (-120859)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.