Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Onwelkome soen kos munisipaliteit R3,9 m.

’n Onwelkome oopmondsoen by die werk kos R3,9 miljoen.

court gavel
Dit het amper 12 jaar geduur voordat ’n Oos-Kaapse vrou skadevergoeding gekry het nadat sy by die werk seksueel aangerand is.

Maar eintlik gaan dit oor veel meer as die enkele soen – dit gaan daaroor dat ’n werkgewer nie ’n veilige werkplek vir een van sy werknemers geskep het nie.

Dié spesifieke saak kom al byna 12 jaar aan en gaan oor ’n voorval wat in Jansenville in die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit, wat Graaff-Reinet insluit, gebeur het.

Die hooggeregshof van Makhanda het pas bevind dat die werkgewer en die man wat die vrou teen haar wil gesoen het, gesamentlik en afsonderlik vir R3,9 miljoen aanspreeklik is.

Dit beteken effektiewelik dat die munisipaliteit enige geld moet opdok wat die skuldige nie kan betaal nie.

Volgens die regsfirma Webber Wentzel het die uitspraak van die hooggeregshof belangrike implikasies vir ’n werkgewer wat nie ’n veilige werkomgewing verseker nie en waar enige vorm van teistering, waaronder seksuele aanranding, geduld word.

Die saak gaan oor ’n vrou, toe 23 jaar oud, wat slegs as “E” geïdentifiseer word. Sy was ’n administrateur in diens van ’n munisipaliteit.

Haar lynhoof, Xola Jack, het op ’n Maandagoggend in November 2009 haar kantoor binnegegaan, haar gegroet, na haar lessenaar geloop, sy mond op hare gesit en sy tong in haar mond probeer dwing terwyl hy haar so vasgedruk het dat sy nie kon loskom nie. Sy het op haar tande gekners om sy tong te keer, maar is gelaat met ’n mond vol van sy speeksel.

2 weke se betaling kwyt

Toe sy by haar werkgewer oor die voorval kla, is sy vir twee dae op “spesiale verlof” geplaas.

Daily Maverick berig dat Jack in dié twee dae boonop by haar wou weet hoekom sy nie by die werk is nie omdat sy “nie siek klink nie”.

Dit blyk dat die munisipaliteit nie destyds ’n beleid oor seksuele teistering gehad het nie.

Jack is nie dadelik geskors nie. Hy is bloot versoek om nie weer die vrou se werkplek te besoek nie, aangesien sy kantoor op ’n ander perseel, 20 km verder in Klipplaat, was. Hy het hom nie hieraan gesteur nie.

Jack is sowat ses maande ná die aanranding wel dissiplinêr verhoor en aan wangedrag skuldig bevind. Hy is slegs vir twee weke sonder betaling geskors.

Die vrou het uiteindelik soveel emosionele en sielkundige lyding beleef dat sy ’n jaar later bedank het.

Sy het toe ’n siviele eis teen sowel Jack as die munisipaliteit ingestel, waarin sy skadevergoeding van meer as R8 miljoen geëis het.

Die hooggeregshof het in 2016 in haar guns beslis.

Die hof het bevind dat die tugverhoor onvoldoende was, eerstens omdat dit verwys het na ’n “poging” tot ’n soen, wat die daad onderspeel, en tweedens omdat afdanking nie aanbeveel is nie.

Die munisipaliteit het aangevoer dat hy gedoen het wat die wet vereis om werknemers veilig te hou, maar die hof het nie saamgestem nie.

Die saak is in April finaal afgehandel toe die hof die waarde van die skadevergoeding bepaal het. Dit is oor jare heen deur verskeie appèlle en ineenstortings van die slagoffer vertraag.

Waarom siviele hof toe?

Webber Wentzel wys daarop dat sy waarskynlik voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in ’n geskil oor konstruktiewe ontslag sou slaag. Dit is wanneer die situasie by die werk vir iemand so ondraaglik gemaak word dat hulle eintlik geen keuse het as om te bedank nie.

Dit sou vir haar remedies ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge verseker het.

Dié wet beperk egter die vergoeding tot ’n maksimum van 24 maande vergoeding.

In die hooggeregshof kon sy die skadevergoeding eis wat sy kon bewys, met geen boonste perk nie. Haar vergoeding is vir sowel sielkundige behandeling as vir verlies aan toekomstige inkomste.

Waarnemende regter Peter Kroon het in sy uitspraak verwys na die persoonlikheidsverandering wat by die vrou ondergaan het. Haar selfvertroue het verdwyn en sy het gereeld die wens uitgespreek om nie meer te lewe nie.

Deon de Vos, burgemeester van die munisipaliteit, het luidens Daily Maverick in ’n verklaring gesê hulle kan kwalik die geld bekostig, maar sal hul bes doen om dit van Jack te verhaal.

Hy het verseker dat die munisipaliteit wel nou ’n beleid oor seksuele teistering het.

Dit blyk dat Jack steeds vir die munisipaliteit werk.

Meer oor:  Seksuele Teistering  |  Seksuele Aanranding  |  Teistering  |  Hofsaak  |  Hof  |  Werkplek  |  Soen  |  Beroepe  |  Wet Op Arbeidsverhoudinge  |  Loopbane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.