Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Oorweeg jy ’n skeidingspakket? Hier is taks-raad

Duisende werkers in Suid-Afrika word tans afgelê, nie net weens die Covid-19-pandemie nie, maar ook weens die swak ekonomie wat ’n werklikheid was nog voordat die inperking ingestel is.

remuneration
Darren Britz, hoof van Remuneration Consultants se regspan.

Mense behoort mooi te kyk na die belastingimplikasies van hul afleggingspakkette om te keer dat hulle ingeloop word.

Die prokureur Darren Britz en die vergoedingspesialis Taritha Oosthuizen van Remuneration Consultants sê die Wet op Inkomstebelasting bied gunstiger belastingreëls as normaalweg ten opsigte van aftrede, dood of skeidingsvoordele.

Die eerste R500 000 van ’n skeidingspakket is belastingvry, net soos by aftrede.

Van R500 001 tot R700 000 is teen 18% belasbaar.

Dit is beter as met normale belasting waar inkomste van tot R250 900 teen 18% belas word. Onthou egter dat net R25 000 belastingvry is as jy vrywilliglik bedank het en dan geld uit jou aftreefonds onttrek.

Met skeidingspakkette is maatskappye dikwels bereid om hul pakkette gunstiger te maak as die minimum van een week se vergoeding ekstra vir elke vol werkjaar wat die arbeidswetgewing voorskryf. Dit is veral om mense aan te moedig om vrywillige uitdienstredingspakkette te aanvaar en te verhoed dat die maatskappy ’n amptelike afleggingsproses hoef te volg waar die afgelegdes geen keuse het nie.

Britz en Oosthuizen raai mense aan om seker te maak hulle kry die finale skeidingsooreenkoms op skrif. Dit hoef nie ’n formele regsdokument te wees nie.

Hulle maan mense moet seker maak om te vra oor die belastingkoste en -implikasies van ’n afleggingspakket. Die werkgewer behoort ’n basiese berekening te kan doen om te wys wat die werknemer se belastingverpligting sal wees.

Vorige skeidingsbetalings

Werknemers behoort hul huidige werkgewer in te lig van enige vorige skeidingspakkette of aftree-enkelbedrae wat hulle reeds in die verlede ontvang het, sê Britz en Oosthuizen. Dit is omdat die belastingvrye bedrag van R500 000 oor die hele leeftyd van ’n persoon strek.

vergoeding
Taritha Oosthuizen, vergoedingspesialis by Remuneration Consultants.

As jy dit nie noem nie, kan dit beteken die werkgewer maak ’n verkeerde som en kan jy op die ou einde verras word deur ’n groter as verwagte belastingrekening.

Jou werkgewer moet dus weet of jou belastingvrye R500 000 al uitgeput is of verminder is deur vorige uitbetalings. As jou werkgewer die syfers weet, kan hy dalk inwillig om jou ’n beter uittree-aanbod te maak om daarvoor te vergoed.

Belastingopdrag

As die onderhandelings afgehandel is en die werkgewer en werknemer ’n ooreenkoms bereik het, moet die werkgewer vir ’n belastingopdrag van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aansoek doen. Dit moet die belastingverpligting uitspel wat by die skeidingspakket ter sake is.

Die werkgewer sal die belasting aftrek soos voorgeskryf deur die belastingopdrag en dit aan die SAID oorbetaal voordat die skeidingspakket aan die werknemer uitbetaal word. In baie gevalle is werknemers dan stomverbaas omdat hulle minder ontvang het as wat hulle verwag het, meestal omdat hulle nie die belastingimplikasies ten volle begryp het nie.

Dit het ook al gebeur dat werkgewers die skeidingspakket uitbetaal maar nalaat om vir ’n belastingopdrag by die SAID aansoek te doen. Die werknemer kom dan eers van sy belastingaanspreeklikheid agter wanneer hy maande later sy belastingopgawe ingedien het en die SAID die pakket as normale inkomste belas het. Dis glad nie lekker om so ’n verrassing te kry nie.

Belastingskuld

Net sulke slegte nuus is as die werknemer besef hy het agterstallige belastingskuld wat ook van die ooreengekome skeidingspakket afgetrek word. Die skuld kan ontstaan waar werknemers nagelaat het om opgawes in te dien toe hulle verplig was om dit te doen.

As die belastingopdrag uitgereik is en die betaling is aan die afgelegde werknemer gedoen, is hul enigste uitweg in die geval van ’n dispuut om ’n beswaar aan te teken. Wanneer daar foute is, kan net die werkgewer vra dat ’n belastingopdrag gekanselleer word. ’n Voorbeeld van ’n fout is as die verkeerde boksie afgemerk word. Die opdrag maak voorsiening vir skeidingsbetalings, maar werkgewers het al onwetend die “ander” boksie afgemerk, wat beteken die bedrag word teen die gewone inkomstebelastingkoers belas en nie die gunstiger koers vir skeidingsvoordele nie.

Praat eers en betaal later

Ideaal gesproke behoort ’n werkgewer ’n opvolg-gesprek met ’n werknemer te hê sodra die belastingopdrag uitgereik is en voordat die finale betaling gedoen word.

Dit kan baie moeite bespaar want die werkgewer kan dan ’n opdrag waaroor daar ’n dispuut is nog kanselleer en weer aansoek doen met die regte inligting. Dit is volgens Britz en Oosthuizen ’n maklike en eenvoudige proses, maar dit moet gedoen word voordat die betaling aan die afgelegde werknemer gedoen is.

Mense moet ook onthou hulle is onder geen verpligting om ’n vrywillige aftreepakket te aanvaar as die betalingsvoorwaardes nie vir hulle aanvaarbaar is nie. Maar dit sal sin maak om slegs ’n aanbod van die hand te wys as jy redelik seker is jy sal ’n amptelike afleggingsproses oorleef, of as die aanbod gelyk is of laer is as wat jy sou kry met ’n gedwonge afleggingsproses waar jy dalk net die minimum kry wat die wet voorskryf.

Afleggings is ’n uiters sensitiewe saak, maar as dit professioneel, akkuraat en met goeie skeut gesonde verstand benader word, kan jy minstens seker maak die beste belastingsuitkoms word bereik.

Meer oor:  Werkloosheid  |  Afleggings  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.