Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Partytjiefoto sonder masker kan tot afdanking lei

As jy ’n veer voel vir Covid-19-regulasies en jou werkgewer dit uitvind, kan jy jou werk verloor – selfs al is dit iets wat jy buite werktyd gedoen het.

Maak jou masker maar deel van jou uitrusting wanneer jy uitgaan - jou baas sien dalk jou Instagram-foto’s... Foto: iStock

Dis die waarskuwing van Justin Hattingh, senior regsadviseur by die arbeidsregkenners Strata-g. Hy sê as jy roekeloos buite die werk optree, kan dit regstreeks tot jou afdanking lei.

Die oortreding van regulasies moet neerkom op growwe nalatigheid, sê Hattingh.

Hy verwag dat baie afdankings op pad is, veral ná die Paasnaweek, wanneer mense sosiaal verkeer en dikwels die veiligheidsmaatreëls verontagsaam wat ingestel is om die oordrag van die virus wat Covid-19 veroorsaak, te beperk.

“Mense moet verstaan, ons is midde-in ’n pandemie, en jou gedrag selfs buite die werk beïnvloed jou kollegas en die vermoë van jou werkgewer om sy werk te doen,” sê Hattingh aan Netwerk24.

Roekelose gedrag is volgens Hattingh enige gedrag wat die sogenaamde middelvinger gooi vir die regulasies wat die regering afgekondig het.

Dus, as jy na ’n partytjie toe gaan waar daar geen gesonde afstande gehandhaaf word nie, waar maskers nie gedra word nie, en waar daar nie genoegsame ventilasie is nie, is jou werk dalk in gevaar.

As jy op ’n groepfoto staan, sonder maskers aan en met almal wat mekaar omhels, kan selfs dít genoeg wees om jou werkgewer te noop om stappe teen jou te doen.

As jy die aandklokreël verontagsaam, kan jy ook in die sop beland.

Natuurlik kan jy daarmee wegkom as jou werkgewer van niks weet nie – wees dus maar versigtig wat jy en jou vriende en familielede op sosiale media plaas! Enige plasing op Facebook, Instagram, TikTok of selfs WhatsApp kan as openbare inligting beskou word as dit uitlek, selfs al het jy dit op ’n private profiel of groepie gedeel.

Mense moet verstaan, ons is midde-in ’n pandemie, en jou gedrag selfs buite die werk beïnvloed jou kollegas en die vermoë van jou werkgewer om sy werk te doen.
Justin Hattingh van Strata-g

Volgens Michael Yeates van Cliffe Dekker Hofmeyr kan ’n werknemer ook dissiplinêr verhoor word bloot op grond daarvan dat sy gedrag buite werkure die maatskappy in oneer bring.

Werkgewer moet bewys

Afdanking is darem nie so maklik soos die klap van ’n vinger nie: Die onus rus op die werkgewer om sulke gedrag te bewys en jy sal altyd jou kans kry om jouself te verdedig. Daardie foto is dalk immers geneem om die etenstafel, toe almal hul maskers afgehaal het, of in ’n private woning, waar die dra van ’n masker nie verpligtend is nie.

Dis nie net by die werk wat jy die Covid-19-regulasies moet nakom nie. As jy in jou private hoedanigheid roekeloos optree, kan jy steeds jou werk verloor. Foto: Unsplash

Hattingh sê egter dit moet aan werknemers duidelik gemaak word dat die veiligheid van hulself en hul kollegas ’n tweerigtingstraat is – daar is ’n groot verantwoordelikheid op werknemers om hul gedrag aan te pas, hetsy by die werk of in hul private hoedanigheid.

Yeates beklemtoon ook dat jou private gedrag slegs ’n probleem is indien dit ’n impak kan hê op jou werkgewer of op jou werkverhouding.

Of jy siek word of nié

Hattingh verduidelik dat jy nie eens Covid-19 hoef op te doen om vervolg te word nie. Deur in onveilige sosiale groepe te verkeer sonder dat jy die maatreëls volg, verhoog jy die risiko van Covid-19-gevalle by die werk.

Daardie risiko kan genoeg wees vir ’n dissiplinêre proses.

Dis werkgewers se topprioriteit om die werkplek veilig te hou.

Bly tuis as jy siek is

Indien jy wel Covid-19 opdoen, nie jou werkgewer in kennis stel nie en steeds ingaan werk toe, is dit ’n ooglopende rede vir jou afdanking.

Covid-19 is ’n aanmeldbare siekte – alle positiewe gevalle moet deur dokters en ander medici by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes aangemeld word. Mense met die siekte moet volgens wet hulself isoleer, selfs al het hulle geen simptome nie.

Dit beteken nie jy moet vir almal by die werk sê as jy dit het nie, maar jy mag beslis nie jou siekte wegsteek en gaan werk nie.

Dis ’n strafregtelike oortreding – en as jou werkgewer dit agterkom, kan jy ook afgedank word.

Die meeste werknemers moet deesdae ’n vraelys invul wanneer hulle kantoor toe gaan. Dit sluit in of hulle kontak gehad het met iemand wat Covid-19 het en of hulle enige simptome het of positief getoets is. Om op so ’n vorm te jok, is beslis ’n groot oortreding.

“Die moontlikheid bestaan ook om personeel te dissiplineer omdat hulle vals of misleidende inligting verskaf het.

“Aan die einde van die dag moet werknemers redelik wees, en hulle moet verstaan dat hul gedrag nie net hulself beïnvloed nie, maar dit kan ook almal beïnvloed,” sê Hattingh.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Entstof  |  Vlak 2  |  Afdanking  |  Covax  |  Beroepe  |  Inperking  |  Loopbane  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.