Sodra reisbeperkings gelig word, kan bottelnekke in talle Afrikalande ontstaan in die verwerking van werkpermitte en visums.

Foto ter illustrasie. ’n Werknemer se koors word gemeet voordat hy by sy werkplek toegelaat word. Foto: Getty Images
Om te meet wat die omvang hiervan kan wees ten einde regerings te help voorberei hierop, gaan Xpatweb, ’n bestuursnetwerk vir buitelandse werkers, ’n peiling doen om die impak van die koronavirus op die sektor vir mobiele werkers te bepaal.
Tarissa Wareley, ’n immigrasiespesialis van Xpatweb, het Maandag in ’n verklaring gesê van die kwessies waarna die Afrika-permitimpakpeiling sal kyk, is hoeveel mense in of buite ’n Afrikaland waar hulle werk, gestrand is weens die pandemie, watter sektore die meeste geraak word en hoe die onderskeie Afrikalande se immigrasie-owerhede geraak is deur ’n verandering in die vraag na werkpermitte en visums, hetsy deur ’n laer vraag te midde van die inperking of ’n styging in vraag daarna.
“Die dwingendste behoefte is om uit te vind hoeveel internasionale werkers in Afrika geraak word. Die doel is om dié inligting aan regerings te gee sodat hulle kan voorberei op die potensiële toename in aansoeke wanneer reisbeperkings gelig word,” sê Wareley.
Die peiling word gedoen onder multinasionale maatskappye met bedrywighede in Afrika wat spesifiek buitelandse werkers in diens het vir kort- en langtermynkontrakte.
Baie Afrika-infrastruktuurprojekte, byvoorbeeld in die olie- en gassektor, is weens die pandemie opgeskort. Dit is belangrik vir die openbare en die private sektor om seker te maak die regte mense is beskikbaar om die projekte so gou moontlik weer aan die gang te kry, sê Wareley.
Sy raai maatskappye dus aan om proaktief te wees en van die aansoeke solank te doen en nie tot op die nippertjie te wag nie.