Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Raak regtig ’n ‘pro’ met werk van die huis af

So baie mense werk deesdae van die huis af en jy is seker ook al keelvol van nog ’n lys wenke oor werk van die huis af. Maar hierdie kom van ’n professionele persoon wat ook uit eie ervaring praat. Hennie Verhoef is ’n kundige in werknemerwelstand en ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker by Careways. Sy het die volgende riglyne in ’n onlangse webseminaar gegee.

werk
As jy van die huis af werk, is dit belangrik om jou natuurlike ritme met jou werkritme te belyn. Foto: Unsplash

  Verhoef noem ses goed wat jy moet baasraak: Raak georganiseer, belyn jou natuurlike ritmes met jou werkritmes, hanteer eksterne afleidings, hanteer interne afleidings, neem gereelde pouses, en laastens, moenie jouself so straf as jy ’n terugslag ervaar het nie.

   

1. Raak georganiseer

   

Benjamin Franklin het gesê vir elke minuut wat jy bestee om georganiseerd te raak, wen jy ’n uur.

Stel ’n roetine in. As jy iets kan outomatiseer, doen dit want dit bespaar tyd. Stel ’n werkstelsel vir jouself in sodat dinge kan vloei. “As georganiseerde chaos jou ding is, is dit in orde, solank jy ’n manier vind om dinge te kategoriseer wat vir jou sin maak,” sê Verhoef.

Sy beklemtoon dat georganiseerdheid emosionele voordele het, want dit verlaag jou stresvlakke, gee jou ’n sin van beheer, en gee ’n gevoel van veiligheid en kalmte.

Dit is ’n vaardigheid wat jy volgens haar sommer permanent moet instel, ook as jy weer teruggaan kantoor toe, want dit het langtermynvoordele om meer georganiseerd te wees.

   

2. Belyn jou natuurlike ritme met jou werkritme

   

“Ons kan ons natuurlike liggaamsritmes meer doeltreffend vir ons laat werk,” sê Verhoef. Sommige is van nature oggendmense. In die oggend is jy op jou produktiefste en gelukkigste, ander is weer naguile en verkies om deurnag te werk. Baie mense ervaar ’n insinking in die middag en voel moeg. As jy van die huis af werk, laat dit jou die buigsaamheid toe om gou ’n kragslapie te vang. Werk met wat jou liggaam jou vertel. Jy kan dit ook deur die loop van ’n weeksiklus laat werk.

Pas wel op, en werk die tyd terug wat jy afgevat het vir daardie middagslapie. Maar die teendeel is ook gevaarlik – werkoliste val in die slaggat om meer werkure in te sit as wat hulle normaalweg sou doen. As jy ekstra werk ingesit het, vat daardie tyd terug, en beskerm jou werk-lewe-balans. Jy moet jou welstand beskerm, asook die tyd wat jy aan jouself en jou gesin bestee. Daarvoor het jy grense nodig.

   

3. Hanteer eksterne afleidings

      

Die hoof-afleidings by die huis is ons kinders en familie. Sorteer soggens eers die kinders uit, byvoorbeeld hul etes en aktiwiteite, sodat hulle jou nie elke 5 minute onderbreek nie. “Ons dink ons kan hulle wegsluit in die verste kamer (en soms is dit wel nodig, byvoorbeeld as jy hoëvlakvergaderings het!) en soms is die fisieke afstand nodig, maar soms kan jy ook probeer om die teenoorgestelde te hê.”

Verhoef beveel aan dat jy gereeld gesinsvergaderings hou waar almal om die tafel sit en julle oor die grense en reëls onderhandel. Skryf dit neer, elkeen moet hul huistakies hê en daar moet gevolge wees vir oortredings, soos om voorregte weg te vat.

Vir sommige mense is die yskas, koskas of televisie die afleiding. Jy kan nie net op wilskrag steun nie. Uit die oog uit die hart, so sluit die deur na die kombuis of skuif die afleiding uit sig uit.

Afleidings kan ook werkverwant wees. Soms bied werk homself aan as werk, maar eintlik is dit ’n vermomde afleiding waarin jy jouself so verstringel. E-pos is byvoorbeeld super-afleidend. Kyk net op sekere vasgestelde tye na jou e-pos. Jy hoef nie elke foonoproep te beantwoord nie. Stop die notifikasies op jou foon wat jou aandag aftrek, en herrangskik of vee apps uit wat jou aandag weglok.

Sy meen jy behoort net e-pos te hanteer as jy dadelik daarop kan reageer. Jy behoort ook ’n daaglikse afsnytyd te hê wanneer jy die laaste keer na jou e-pos kyk. “Ek het al die harde les geleer. Moenie in die nag na jou e-pos kyk nie, want jy kan tog nie daarop reageer nie. Al wat jy doen, is om daaroor te lê en bekommer en dit steel jou slaap. Afhangend van hoe sensitief jy is, kry ’n afsnytyd wat jou pas. Vir my is dit vieruur die middag. As jy sterker en meer veerkragtig is kan dit later wees, maar beskerm jou slaaptyd.”

Nog ’n vreeslike werkverwante afleiding is vergaderings. Hou liewer “power-meetings”, wees werklik teenwoordig op ’n vergadering en fokus.

Die entrepreneur Elon Musk se drie reëls vir beter vergaderings is:

  • Geen groot vergaderings nie, die maksimum deelnemers is vier tot ses;
  • As jy nie waarde toevoeg tot die vergadering nie, staan op en loop uit; en
  • Geen herhalende, gereelde vergaderings nie tensy dit oor uiters dringende sake gaan.

“Dis baie 1980’s om nog vergaderings van ’n uur tot ’n uur en ’n half te hou. Dit moet binne 20 tot 40 minute afgehandel word, of hoogstens 50 minute.”

   

4. Hanteer interne afleidings

    

Hou op om tegnologie te blameer. Tydbestuur is nie altyd logies nie, maar ook emosioneel. Verhoef verwys na die Amerikaanse skrywer Nir Eyal se boek Indistractable waarin hy verduidelik hoe ’n mens jou interne afleidings kan bestuur.

“Interne afleidings is iets soos ’n ongemaklike gevoel wat oor jou kom. Eyal meen jy moet gemaklik raak met jou ongemaklike gevoelens. Sit daarmee en laat dit verbygaan.

Jy wil rook, want jy het ’n e-pos gekry wat jou angstig maak en jy weet nie hoe om dit te hanteer nie. Jy voel oorweldig aan die begin van die dag en jy gaan maak koppies tee en koffie. Ek maak dikwels kompulsief koppies tee as ek oorweldig voel, en dit help nie.”

Verhoef verduidelik Eyal se wenk is om nie die ongemaklike gevoel te weerstaan nie, maar daarmee te sit en dit te voel, maar nie in te gee nie en dit ook nie te beveg nie. “Voel dit maar moenie die emosie word nie. Neem kennis daarvan, laat dit toe en laat dit gaan.”

Om te werk van die huis af terwyl jy jong kinders het, maak dit des te meer 'n uitdaging.

Ja, sekerlik makliker gesê as gedaan, maar pak dit aan met probleemoplossingstappe deur dit op te breek in kleiner bestuurbare dele, aan oplossings te dink, die gevolge te ondersoek en die beste opsie te kies.

Maar pleks van om te gaan rook of stringe koppies koffie te drink, kan jy eerder kies om water te drink en asemhalingsoefeninge te doen.

Verhoef gee toe sommige gevoelens is nie bloot oppervlakkig nie, mense ervaar diep trauma en diep ongemaklike gevoelens van hartseer, en daarvoor moet jy wel professionele hulp kry.

Sy het ook ’n waarskuwing oor “multitasking” en sê veral vroue is soms so trots op hul vermoë om te “multitask”, maar net omdat ’n mens kan, beteken nie jy moet nie. “Jy kan die bal laat val. Begin eerder een ding en maak dit klaar voordat jy die volgende ding aanpak.”

Sy vertel van ’n paar jaar gelede toe haar kinders nog jonk was en sy hulle gebad het terwyl sy ook probeer kosmaak. Toe sy weer sien, besef sy sy het haar seun aangetrek met sy kleiner suster se pienk pajamas, en die sussie het ouboet se groot blou pajamas aan!

   

5. Neem pouses

   

Verhoef stel die sogenaamde Pomodoro-tegniek voor. Dit behels om jou werktyd op te deel in blokke van 25 minute elk en tussenin 5 minute pouses te neem. Dit word vier keer gedoen voordat ’n pouse van 30 minute geneem word.

Sy beklemtoon jy moet jou pouse doelbewus neem en nie bloot blindelings rondsit en niks doen in jou pouse nie. Laat jou pouse vir jou werk.

    

6. Hanteer terugslae

   

“Jy weet mos sommige dae is net ’n flop, dit was ’n chaos, ons almal het al sulke dae gehad. Die kinders het oorgeneem, of jy was so moeg, en glad nie produktief nie. Hou op om jouself met die sambok te slaan, ons is nie robotte of masjiene nie, ons is menslik en het soms onproduktiewe dae. Wees sag met jouself en moenie jou waarde definieer of die gehalte van jou dag bepaal op grond van hoe produktief jy was nie – dit is maar net een maatstaf.

Vra eerder ook was ek vandag vriendelik en respekvol teenoor my kollegas, het ek gehaltetyd saam met my kinders gehad, het ek iets nuuts geleer? Moenie jou identiteit definieer volgens jou produktiwiteit nie – jy is veel meer as dit.”

Meer oor:  Stres  |  Opleiding  |  Depressie  |  Werk Van Huis Af  |  Wenke  |  Beroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.