Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Regstelaksie: Staat haal lat uit
Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste.

Die regering beplan om regstellende aksie voor die einde van die maand in ’n hoër rat te skakel met nuwe bestraffende maatreëls.

Dié aankondiging het gekom net ’n dag nadat Solidariteit sy hofsaak om regstellende aksie te verander, verloor het.

Tabea Kabinde, voorsitter van die Kommissie vir Diensbillikheid, het Woensdag gesê die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming behoort voor die einde van die maand in die parlement ter tafel gelê te word om transformasie in die werkomgewing te versnel. Sy het die uitspraak in die Solidariteit-saak as ’n “oorwinning vir transformasie” beskryf.

’n Weergawe van dié omstrede wetsontwerp is einde 2018 vir kommentaar gepubliseer, maar het nooit tot by ’n parlementêre proses gevorder nie.

Dit is onseker of die regering intussen veranderinge aan die wetsontwerp aangebring het.

Die laaste weergawe van die wetsontwerp gee die minister van indiensneming die mag om, op aanbeveling van die kommissie, sektorspesifieke teikens vir regstellende aksie te stel.

Verskeie sektore, soos die mynwese, is reeds onderworpe aan transformasie-handveste, maar die wetsontwerp stel die minister in staat om vaste teikens te stel vir maatskappye om hoegenaamd erken te word as ’n entiteit wat voldoen aan SEB-vereistes.

Die numeriese teikens kan vir alle vlakke van indiensneming vasgestel word, lui die nuutste weergawe.

Dít moet saamgelees word met die kommissie se aanbeveling dat art. 53 van die Wet op Gelyke Indiensneming nou in werking gestel moet word.

Dié artikel bepaal dat ’n onderneming ’n sertifikaat van nakoming moet hê om hoegenaamd met die regering sake te doen.

Tans is daar nie ’n minimum SEB-vlak vir ondernemings nie. Dit word net in ag geneem tydens die tender­beoordelingsproses.

Die kommentator Pam Saxby het vir Legalbrief Policy Watch geskryf dit lyk of die regering eers gewag het vir die uitslag van Solidariteit se hofsaak voordat hulle voortgaan met die verskerping van SEB-wetgewing.

Solidariteit het die arbeidshof gevra om die wet se omskrywing van “aangewese groepe” wat deur regstellende aksie bevoordeel moet word, nietig te verklaar, het Rapport vroeër berig. “Aangewese groepe” is swart mense, wat insluit swart Afrikane, bruin mense en Indiërs, asook vroue en gestremdes.

Die saak het gespruit uit die Menseregtekommissie (MRK) se jaarlikse Gelykheidsverslag waarin bevind is “genuanseerde groepe” moet baat vind by regstellende aksie en behoeftigheid, asook dat maatskaplike en ekonomiese aanwysers in ag geneem moet word eerder as net iemand se ras. Die MRK het die regering ook opdrag gegee om binne ses maande aan hom terug te rapporteer oor hoe dit reggestel word, maar die regering het dit geïgnoreer.

Solidariteit wou die regering dwing om die aanbevelings toe te pas, maar die departement van indiensneming en arbeid het betwis dat die aanbevelings bindend is.

Solidariteit wou die regering dwing om die aanbevelings toe te pas, maar die departement van indiensneming en arbeid het betwis dat die aanbevelings bindend is.

Regter André van Niekerk het Dinsdag beslis die MRK se aanbevelings is inderdaad nie bindend nie.

Hy het ook twyfel uitgespreek oor of die arbeidshof die regte forum is om te beslis oor die grondwetlikheid van die wetgewing of nie.

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se regsdienste, sê hul regslui bestudeer die uitspraak en hulle gaan moontlik na die arbeidsappèlhof of direk na die konstitusionele hof appelleer.

Van der Bijl sê die arbeidshof het bevind die verslag kan op tegniese gronde nie as bindend beskou word nie.

Solidariteit meen die uitspraak is “bloot ’n taktiese terugslag”.

Die hof het nie die verslag ongeldig verklaar nie en die aanbevelings is volgens Solidariteit steeds geldend.

“Solidariteit beplan om volgende jaar weer die Verenigde Nasies se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie te nader om die saak verder op ’n internasionale platform te voer.”

Die Kommissie vir Gelyke Indiens­neming het in Augustus weer met die bekendmaking van die jaarlikse syfers beklemtoon dat die pas van transformasie volgens hulle hopeloos te stadig is.

Luidens hul verslag vir 2018-’19 is die pas van veral die topvier beroepsvlakke stadig.

In dié jaar het wit mense en Indiërs steeds topbestuursposte oorheers in verhouding tot die demografie.

Altesame 66,5% van topbestuurders was wit (2017: 67,7%) en 15,1% was swart (2017: 14,3%). Indiërs het 9,7% van topposte beklee (2017: 9,4%) en bruin mense 5,3% (2017: 5%). Wat senior bestuursposte betref, het wit mense in 2018 54,5% daarvan beklee (2017: 56,1%), swart mense 23,1% (2017: 22,1%), Indiërs 11,1% (2017: 10,9%) en bruin mense 8% (2017: 7,7%).

In die kategorie vir professioneel gekwalifiseerde werkers beklee swart mense 40,2% van die poste (2017: 41,5%), wit mense 37,4% (2017: 37,5%), bruin mense 10% (2017: 9,7%) en In­diërs 9,4% (2017: 8,5%).

Meer oor:  Solidariteit  |  Regstellende Aksie  |  Beroepe  |  Indiensneming  |  Regstel-Aksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.