Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
SA sak met 2 plekke op talentranglys
’n Toerismebrosjure vir Suid-Afrika wat in 1936 deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë, Lugdiens en Hawens gedruk is, lui: “Reis in Suid-Afrika, Die Land van Sonskyn”. Maar meer as sonskyn is nodig om talentvolle internasionale werknemers na ’n land te lok.

Suid-Afrika het met twee plekke gesak ten opsigte van sy vermoë om plaaslike talent te ontwikkel en internasionale talent te lok.

Luidens die internasionale sakeskool IMD se Wêreldtalentranglys vir 2018 is Suid-Afrika nou 50ste uit 63 lande.

IMD grond die ranglys op lande se prestasie in drie hoofkategorieë: belegging en ontwikkeling, aanloklikheid asook gereedheid (dit sluit in subkategorieë soos die groei en vaardigheid van die arbeidsmag). Die ranglys omskryf die gehalte van die talentpoel in ’n land wat tot die beskikking van sy ekonomie is.

48 lande uit die 63 lande het hul plekke of behou of verbeter. Die ander 15 lande, waaronder Suid-Afrika, het teruggesak.

Die eerste drie lande op die lys is Switserland, Denemarke en Noorweë. Amerika is 12de, Australië 14de en Nieu-Seeland 20ste.

China is op nommer 39 die hoogste van die Brics-lande, met Rusland op 46, Indië op 53 en Brasilië op 58.

Suid-Afrika se verswakking op die ranglys is weens die groot daling in die land se aanloklikheidsfaktor. Dié faktor evalueer die mate waarin ’n land buitelandse talent lok en die plaaslike talentpoel kan behou.

Die Oekraïne is nou bo Suid-Afrika op die algehele ranglys nadat hy vanjaar met 11 plekke tot nommer 48 verbeter het. Die Oekraïne is al sedert middel 2014 in ’n oorlog in die ooste van die land gewikkel.

Suid-Afrika se prestasie in die drie hoofkategorieë:

  • Belegging en ontwikkeling: 56ste (57ste in 2017)
  • Aanloklikheid: 37ste (35ste in 2017)
  • Gereedheid: 51ste (52ste in 2017)

Ondanks die effense verbetering in twee kategorieë het die daling in sy aanloklikheid swaarder geweeg.

Suid-Afrika se aanloklikheid daal al sedert 2015, toe die land in dié kategorie nog 23ste op die ranglys was.

Luidens die IMD-verslag is dié skerp daling hoofsaaklik weens dalings in ’n klein aantal subkategorieë: lae werknemermotivering (60ste); te min onderwysers in primêre en sekondêre skole (onderskeidelik 62ste en 61ste); lae beskikbaarheid van bekwame personeel (58ste); onvoldoende persoonlike veiligheid en beskerming van persoonlike eiendomsreg (52ste); en lae vergoeding in bestuursposte (58ste).

Die sterkste faktore wat steeds in Suid-Afrika se guns tel, is sy hoë besteding aan openbare opvoeding (3de) en die hoë persentasie (46,69%) van die arbeidsmag wat uit vroue bestaan (28ste).

Die rykdom van ’n land is nie die enigste belangrike aanduider van talentmededingendheid nie, sê die IMD. Maatskaplike vooruitgang en die gehalte van instansies (soos die handhawing van die oppergesag van die reg) is ’n sterk grondslag vir die lok van hoogs bekwame internasionale werknemers.

“Om ’n bekwame en geskoolde arbeidsmag te kweek, is uiters belangrik om sowel talentmededingendheid te verbeter as om volhoubare vooruitgang te verseker,” lui die verslag.

Meer oor:  Arbeid  |  Talent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.