Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
SA se jong mense baie bekommerd

Meer as 45% van Suid-Afrika se millenniërs en generasie Z het al tyd van die werk afgevat omdat hulle die meeste van die tyd stres ervaar en angstig voel, toon ’n nuwe peiling deur Deloitte.

Inwoners van die Kaapse Vlakte neem op Jeugdag die afgelope week deel aan ’n protesoptog in Belhar, Kaapstad. Hulle het ’n memorandum met eise aan die plaaslike polisie oorhandig. Foto: Brenton Geach

Dié jong mense – tussen 18 en 38 jaar oud – sê hulle is besorg oor hul eie finansies op lang termyn, asook dag-tot-dag-uitgawes, hul gesinne se welstand, hul loopbane of werkvooruitsigte, en hul fisieke en geestesgesondheid, sê Tumelo Seaketso, ’n direkteur van Deloitte Consulting Africa, in ’n verklaring.

Die resultate kom uit ’n internasionale peiling wat Deloitte in Januarie en Februarie vanjaar onder sowat 23 000 millenniërs en generasie Z-respondente in 45 lande gedoen het. Die Suid-Afrikaanse resultate is die afgelope week bekend gemaak om saam te val met Jeugdag.

Volgens Seaketso is Suid-Afrikaners tussen 27 en 38 jaar (millen­niërs) se grootste kommer werkloosheid, misdaad, korrupsie en die politieke situasie in die land.

Generasie Z – jong mense tussen 18 en 26 jaar – het slapelose nagte oor werkloosheid, ekonomiese groei, onderwys, vaardighede en opleiding.

Boonop is hulle angstig oor hul eie sielkundige welstand, asook oor die swak ekonomiese en finansiële vooruitsigte vir die jaar.

Vir 47% van Suid-Afrikaanse millenniërs is werkloosheid die grootste kopseer, terwyl 32% baie bekommerd is oor misdaad en hul veiligheid. Onder hul eweknieë in die res van die wêreld is hul gesondheid vir 28% van millenniërs hul grootste kommer, gevolg deur werkloosheid (27%) en klimaatsverandering (26%).

Van generasie Z in Suid-Afrika is 46% baie besorg oor werkloosheid en 24% oor onderwys, vaardighede en opleiding. Daarenteen is generasie Z elders ter wêreld veral bekommerd oor die omgewing en klimaatsverandering (26%), werkloosheid (25%) en gesondheid (21%).

Die jongste werkloosheidsyfers van Statistieke Suid-Afrika (SSA) wys 74% van Suid-Afrikaners tussen 15 en 24 jaar wat wil werk, kan nie werk kry nie. Onder 25- tot 34-jariges is dit 51,4%.

Mari Harris, direkteur en politieke ontleder van Ipsos SA, sê in ’n verklaring uit ’n peiling wat hulle onder Suid-Afrika se jeug gedoen het, blyk dit meer as 33% van mense jonger as 35 jaar meen jy moet jou eie onderneming hê om sekerheid te hê oor jou bestaan.

“Daar is duidelik nie ’n gebrek aan ondernemingsgees nie, en dit word waarskynlik aangevuur deur gebrekkige geleenthede,” sê Ipsos.

Die peiling toon 89% van Suid-Afrikaners tussen 15 tot 17 jaar, en 37% tussen 18 en 24 jaar is leerlinge of studente omdat hulle glo onderwys verbeter hul kanse om eendag werk te kry.

Volgens Ipsos kry meer as ’n derde van 15- tot 17-jariges ’n toelae van die regering, nes 29% van 18- tot 24-jariges en 27% van 25- tot 34-jariges. Dit verseker egter nie ’n bestendige inkomste nie, omdat hul totale maandelikse inkomste uit verskeie bronne van maand tot maand verskil.

“Dit maak dit moeilik om te begroot en vir uitgawes te beplan.”

Sowat 60% van 15- tot 17-jariges en sowat 50% van 18- tot 24-jariges sê hulle het “nooit” enige geld oor aan die einde van die maand nadat hulle hul persoonlike en huishoudelike uitgawes betaal het nie.

Dit is dus te verstane dat min Suid-Afrikaners geld wegsit vir tye van nood. Meer as 80% van 15- tot 17-jariges kan nie ’n noodfonds opbou nie, teenoor 69% vir die land in die geheel.

Uit Deloitte se peiling blyk dit jong Suid-Afrikaners het min hoop vir die ekonomie en hul finansies: 65% van millenniërs glo die ekonomie sal oor die volgende 12 maande verswak. Sowat 60% van millenniërs en 49% van generasie Z glo die maatskaplik-politieke situasie in die land gaan ook in die toekoms versleg.

Boonop glo meer as die helfte van millenniërs én generasie Z die sakewêreld fokus net op geldmaak en het geen groter ambisie nie.

David Morobe, uitvoerende hoofbestuurder van Impakbeleggings by Business Partners, sê in ’n verklaring te midde van die hoë jeugwerkloosheid het baie hul motivering verloor om eie geleenthede te skep deur entrepreneuriese aktiwiteit.

Hy glo wel gehalteonderwys en die openbare en private sektor se betrokkenheid daarby kan ’n groot verskil maak, asook sakeleiers wat mentorskappe bied vir jong entrepreneurs.

Meer oor:  Jong Mense  |  Werkloosheid  |  Beroepe  |  Millenniërs  |  Loopbane  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.