Die totale bedrag wat alle salaristrekkers in die land in Desember in hul bankrekeninge ontvang het, was 2% minder as in Desember 2020, toon ’n opname wat uit ’n poel salaristrekkers se bankrekenings saamgestel word.

Selfs teen die huidige lae inflasiekoers van net 3,3% boer Suid-Afrika se salaristrekkers as groep agteruit. Foto: Unsplash
Dit is met hoeveel die totale salarisse in die hele poel in reële terme gedaal het, dus as die uitwerking van inflasie verwyder word.
Die poelbedrag is in reële terme die laagste sedert Desember 2015, volgens BankservAfrica, wat die studie maandeliks doen.
Gemiddeld het salaristrekkers se salarisse wel met 2,1% bo inflasie (in reële terme) gestyg. Ingesluit inflasie het die gemiddelde salaris met 5,4% gestyg.
Die styging in die gemiddelde salaris word daaraan toegeskryf dat daar minder laer besoldigdes was in die poel van salaristrekkers. Meer mense in laerinkomstegroepe het hul werk weens die Covid-19-pandemie verloor omdat hulle die meeste werknemers verteenwoordig in onder meer die gasvryheidsbedryf, waar mense nie net van die huis af kan werk nie en wat ook buitensporig hard getref is deur die inperkingsmaatreëls.
BankservAfrica is ’n klaringshuis wat betalings deur die nasionale betalingstelsel tussen banke verwerk.
“Die rede vir die styging is nie positief nie,” sê Shergeran Naidoo, woordvoerder van BankservAfrica. “Die gemiddelde salaris het gestyg as gevolg van die afname in die aantal laer besoldigdes.”
Volgens BankservAfrica het die meeste salarisskale onder R25 000 minder salaristrekkers gehad. Nie een van die skale van hoër as R25 000 het in Desember minder salaristrekkers getoon nie.
In geheel het die aantal salaristrekkers wat in Desember betaal is, met 5,4% gedaal, volgens Bankserv.
Die maatskappy verwag dat betalings oor die volgende paar maande verder gaan daal soos die laaste agterstallige Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters-betalings uitbetaal word.