Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Salarisse styg, maar dis hittete

Die totale salarisrekening van Suid-Afrikaanse ondernemings het vir die eerste keer sedert Mei 2020 gestyg.

salaris
Die deursnee-salaristrekker kry ’n verhoging wat inflasie klop, maar dis dalk net omdat inflasie nou baie laag is.

Dis volgens BankservAfrica se indeks van besteebare inkomste (BTPI) vir Februarie. Die indeks meet die geld wat ná aftrekkings elke maand in mense se bankrekening inbetaal word.

Daar is egter steeds minder mense as ’n jaar gelede wat wel ’n salaris verdien.

Gemiddelde salaris

Die indeks wys die gemiddelde maandelikse salaris wat Suid-Afrikaners ontvang het, styg met meer as die inflasiekoers. Dít, tesame met ekstra pensioenuitbetalings, is goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Die gemiddelde Suid-Afrikaanse salaris in nominale terme (dus in vandag se randwaarde) het in Februarie gestyg tot R15 821 teenoor R15 608 die vorige maand, volgens Shergeran Nadioo, BankservAfrica se woordvoerder.

In reële terme was dit R13 044 – dus met inagneming van inflasie.

Die gemiddelde salaris het in Februarie met 1,6% bo die inflasiekoers toegeneem. “Die laer inflasiekoers en die ekonomie wat in Februarie kop begin optel het, het dit natuurlik aangehelp.”

Minder werknemers

Data wys daar is 10,6% minder werknemers in die stelsel wat per dag en per week betaal word, vergeleke met Februarie 2020. Die getal maandelikse werkers is 2,8% minder.

Die totale waarde van salarisse aan alle werknemers het met slegs 0,2% gestyg.

“Die laer werkskeppingsyfers bly ’n rede tot kommer, maar ons data toon ook goeie nuus, want vir die eerste keer sedert Mei 2020 toon die totale salarisse wat betaal is ’n styging,” sê Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, wat die data verwerk.

Styging in pensioenuitbetalings

Nog goeie nuus is die sowat miljoen pensioenbetalings wat in Februarie aan ongeveer 650 000 staatspensioentrekkers en ’n paar ander pensioentrekkers in die BankservAfrica-indeks van private pensioene (BPPI) gemaak is.

“Dit kom neer op ’n 61%-toename in Februarie wat betref die totale pensioenuitbetalings aan pensioentrekkers wat minder as R100 000 ontvang,” sê Naidoo.

Dit het ook die gemiddelde BPPI met 5,6% gelig op ’n jaargrondslag.

Die styging van 5,6% beteken die gemiddelde private pensioen in reële terme was R7 627. In nominale terme het dit meer as R9 000 vir die tweede agtereenvolgende maand gebly.

“Private pensioene maak ’n aansienlike verskil aan die ekonomie, veral in die huidige omstandighede, waarin ekonomiese aktiwiteite onder druk is weens die inperkingsmaatreëls vir die Covid-19-pandemie,” sê Schüssler.

“Ons Februarie-data wys die totale nominale toename van alle geld wat afgetrek en na die bankrekeninge van werkers en private pensioentrekkers gevloei het, was 9,2%. Dit sal hopelik beter verbruikersbesteding tot gevolg hê, al is dit net vir ’n maand.”

Hy sê al is dit dalk nie volhoubaar oor die volgende maande nie, kan die ekonomie en veral die informele sektor tog ’n onverwagte hupstoot kry soos pensioentrekkers die ekstra uitbetalings bestee.

Meer oor:  Bankserv­Africa  |  Loopbane  |  Pensioene  |  Salarisse  |  Beroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.