Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Só gaan werkplek teen 2035 lyk, meen kenners

Teen 2035 gaan ondernemings nie meer net ’n uitvoerende hoof hê nie, maar ook ’n hoof van kunsmatige intelligensie.

In stede van ’n groep permanente werkers sal maatskappye al hoe meer staatmaak op kontrakwerkers om van die meer gespesialiseerde take te verrig.

Tog reken toekomsvoorspellers nie dat robotte of outomatisering die menslike element in die werkplek binne die volgende 15 jaar heeltemal sal vervang nie.

Maar kunsmatige intelligensie gaan ’n integrale deel van die besluitnemingsproses word.

Dit is van die bevindinge van ’n studie deur Citrix, ’n genoteerde Amerikaanse tegnologiemaatskappy wat onder meer spesialiseer in programmering en wolkberging.

robot

Citrix het in samewerking met die konsultasiefirmas Oxford Analytica en Man Bites Dog die leiers van sommige van die wêreld se grootste maatskappye gevra hoe hulle reken die werkplek teen 2035 gaan lyk.

Die navorsing is deur die loop van 2019 en 2020 gedoen onder verskeie maatskappye in Brittanje, Duitsland, Frankryk, Nederland en Amerika wat sake doen op die gebied van finansiële tegnologie, gesondheidsdienste en telekommunikasie.

Van die vernaamste voorspellings sluit in dat maatskappye nie meer permanente werknemers in diens gaan hê nie. In stede daarvan gaan werkers makliker tussen verskeie maatskappye rondbeweeg.

Persone met gespesialiseerde vaardighede, veral op gebiede soos robotika en kunsmatige intelligensie, gaan uitsluitlik as vryskutte optree.

Ondernemings sal hierdie mense dan teen ’n peperduur prys in diens moet neem om spesifieke projekte af te handel, sê Citrix.

In die toekoms gaan die werksplek heeltemal anders daarna uitsien as vandag, meen kenners. Foto: Unsplash

Maar wat is hierdie vaardighede van die toekoms wat hoog in aanvraag gaan wees?

Kennis van programmering gaan steeds hoog in aanvraag wees, maar dit gaan meer gespesialiseerd raak. Dit sluit in die programmering van prosesse om take te outomatiseer.

Ondernemings gaan ook spesiaal mense moet aanstel om die privaatheid van hul kliënte of gebruikers se inligting te bestuur.

Datawetenskaplikes gaan ook baie gesog wees. Ook kenners van virtuele realiteit, siende dat dit so ’n belangrike komponent van die moderne maatskappy gaan uitmaak.

Menslike bestuurders en die hoofde van die toekoms gaan besluite hand aan hand met die voorstelle van rekenaars neem, reken die toekomsvoorspellers. Rekenaars gaan die besluitnemingsproses aanvul en uiteindelik help dat take doeltreffender verrig word.

Daar is wel geen kommer onder vandag se leiers dat robotte uiteindelik mense heeltemal sal vervang nie. Robotte kan wel die rol van senior bestuurslede oorneem en dalk van maatskappye meer gelyke omgewings maak wat titels en rolle betref.

Suid-Afrika se planne vir jong mense

Die Suid-Afrikaanse regering het Woensdag sy nuwe strategie uiteengesit rakende die opleiding van jong mense in “vaardighede van die toekoms”. 

Die departement van kommunikasie en digitale tegnologieë sê die nuwe strategie sit ’n “gestruktureerde reeks inisiatiewe” uiteen wat Suid-Afrika sal help om die digitale revolusie te omarm, insluitende kunsmatige intelligensie, robotika, driedimensionele drukwerk, wolkberging, virtuele realiteit sowel as outonome voertuie en hommeltuie.

Van die voorstelle in die beleidsdokument sluit in die hersiening van die skoolsillabus om programmering en ander digitale vaardighede as verpligte vakke aan te bied.

Daarvoor moet daar egter genoeg onderwysers opgelei word en skole moet van die nodige infrastruktuur – insluitende internetverbindings – voorsien word.


Meer oor:  Citrix  |  Outomatisering  |  Werkplek  |  Beroepe  |  Toekoms  |  Robotte  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.