Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Só werk eise vir huiswerkers vir siekte, ongelukke

Huiswerkers is uiteindelik daarop geregtig om eise in te stel vir siektes en beserings wat aan diens opgedoen is. Eise kan ook nou terugwerkend ingestel word.

huiswerkers
Huiswerkers kan ook nou van die Vergoedingsfonds eis. Foto: Unsplash

Die Wet op die Vergoeding vir Beroepsbeserings en -Siektes (Coida) het huiswerkers voorheen uitgesluit omdat hulle nie daarvolgens as “werknemers” erken is nie. Huiswerkers kon dus nie van die Vergoedingsfonds eis vir beserings of siektes wat in werktyd opgedoen is nie.

Die konstitusionele hof het egter in November ’n hofbevel uitgereik wat dié deel van Coida ongrondwetlik verklaar.

Nou, met die nuwe reël wat van 1 Maart geld, kan huiswerkers selfs eise indien vir beserings en siektes tot so ver terug as 27 April 1994.

Daar word ook nou voorsiening gemaak vir die afhanklikes van ’n huiswerker om vergoed te word sou die huiswerker aan diens sterf, of sterf weens ’n siekte of ongeluk wat aan diens opgedoen is.

Wat staan werkgewers nou te doen?

Werkgewers moet binne sewe dae wat ’n kontrak met die huiswerker onderteken is, die registrasie vir beroepsbeserings en -siektes afhandel.

Doen die registrasie so gou moontlik indien ’n huiswerker al ’n ruk lank by jou werksaam is en nog nie geregistreer is nie. Boetes kan opgelê word vir die versuim om huiswerkers te registreer, hoewel daar nog nie bevestig kon word of dit wel van krag sal wees nie.

Werkgewers moet ook jaarliks van 1 April tot 31 Mei ’n opbrengs van verdienste van die huiswerker indien. Dit sluit in die salaris en enige voordele wat betaal is gedurende die oorsigtydperk, wat strek van 1 Maart tot 28 Februarie die volgende jaar. Werkgewers gee dus die ware verdienste van die huiswerker gedurende die oorsigtydperk en moet ook ’n vooruitskatting maak van die komende jaar se verdienste.

In die geval waar ’n huiswerker by meer as een werkgewer gewerk het ten tye van die siekte of besering, moet al die betrokke werkgewers die verdienste van die huiswerker indien.

Die nasionale minimum loon is in Maart opgestoot tot R21,69 per uur, wat beteken werkgewers moet huiswerkers minstens 88% van dié minimum loon betaal. Die verhoging kom neer op ’n styging van 22% en is nou R19,09 per uur. Dit was voorheen R15,57 per uur.

Werkgewers moet seker maak hulle val in by hierdie styging, want aansoeke om vergoeding moet inligting bevat oor die werknemer se verdienste sodat die waarde van ’n voordeel voor uitbetaling reg uitgewerk kan word.

Die dokumente wat werkgewers moet indien

1. Voltooide CF-1E-vorm (aansoek om te registreer as werkgewer van ’n huiswerker).

2. ’n Afdruk van die werkgewer se identiteitsdokument, paspoort of werkpermit.

3. Bewys van die werkgewer se woonadres.

4. ’n Afdruk van die werknemer(s) se identiteitsdokument, paspoort of werkpermit.

5. ’n Afdruk van die werkkontrak.

Sodra al die dokumentasie gereed is, stuur die werkgewer die aansoek om registrasie na RegistrationCF@labour.gov.za of na CFCallcentre@labour.gov.za.

Só dien jy ’n eis in

Sodra ’n werkgewer geregistreer is, moet hy of sy ook op die CompEasy-stelsel aanmeld voordat enige eise ingedien kan word. Gaan na https://compeasy.labour.gov.za/fiori vir inligting oor hoe om dit te doen.

Eise kan aanlyn of skriftelik ingedien word. Aanlyn aansoeke sal volgens die departement baie vinniger afgehandel kan word as skriftelike aansoeke. Aanlyn aansoeke word ingedien by: https://cfonline.labour.gov.za/OnlineSubmissions/?1

Skriftelike aansoeke kan by een van die departement se kantore landwyd ingedien word.

Lees meer oor die regulasies en verskillende vergoedingsafdelings in die Staatskoerant: www.labour.gov.za

Bronne: http://www.labour.gov.za/Online-Tools, www.labour.gov.za en www.gpw.gov.za.

Meer oor:  Vergoedingsfonds  |  Huiswerkers  |  Coida  |  Arbeid  |  Besering Aan Diens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.