Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Soek jy werk? Hiér lyk jou kans nou die beste

As jy nou (nuwe) werk soek, soek by banke, versekeraars en eiendomsagente – en bly weg van konstruksie- en vervoerfirmas.

Hoewel steeds negatief, is daar tekens dat vooruitsigte vir werk in konstruksie effens verbeter het.

Daarby kan jy jou gerus na Port Elizabeth of Oos-Londen wend, eerder as na Johannesburg of Pretoria.

Volgens ManpowerGroup se peiling oor die vooruitsigte vir indiensneming in die vierde kwartaal, wat in Oktober begin, is daar landwyd ’n netto van 4% van maatskappye wat beoog om mense aan te stel.

Dit is die persentasie maatskappye wat beoog om mense aan te stel (10%), minus die persentasie wat beoog om mense af te lê (6%). Die 4% is dieselfde persentasie as in die derde kwartaal, maar swakker as die 6% in die vierde kwartaal van 2018.

Sien ook grafika hieronder.

Altesame 752 maatskappye in vyf provinsies – die Wes-Kaap, Gauteng, Oos-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal – het aan die peiling deelgeneem.

Lyndy van den Barselaar, besturende direkteur van ManpowerGroup SA, sê faktore soos trae ekonomiese groei, beleidsonsekerheid en hoë werkloosheid maak ondernemings versigtig om mense aan te stel of geld te bestee. Dit word weerspieël in die 82% van maatskappye wat nie beoog om hul arbeidsmag enigsins te vergroot of te verklein nie.

  

Vooruitsig volgens streek

  

  • Die Oos-Kaap het sy negatiewe vooruitsig in die derde kwartaal omgeswaai en is nou die provinsie met die sterkste netto vooruitsig vir indiensneming op 7%.
  • Ook in Gauteng en die Wes-Kaap, wat in die derde kwartaal albei ’n netto vooruitsig vir indiensneming van 7% gehad het, het dinge handomkeer verander. Dis nou die provinsies met die laagste en tweede laagste vooruitsig, met 2% vir Gauteng en 3% vir die Wes-Kaap.

Van den Barselaar sê daar is talle projekte in die Oos-Kaap wat daarop gemik is om die streek te ontwikkel en beslis gaan werk skep. “Byvoorbeeld die Coega-ontwikkelingskorporasie, wat die Coega- Spesiale Ekonomiese Sone in Nelson Mandelabaai bedryf, het onlangs aangekondig dat hy nog 18 beleggers in die 2018-’19-boekjaar verseker het.”

Projekte sluit in ’n akwakultuursone, ’n kopersmeltery en ’n ingenieursaanleg vir die spoorwegsektor. “Projekte soos dié kan positief wees vir werkskepping in die streek, op kort én lang termyn.”

As die vooruitsigte met die vierde kwartaal van 2018 vergelyk word, lyk dinge swakker in drie uit die vyf streke – Gauteng (2018: 9%), KwaZulu-Natal (13%) en die Wes-Kaap (9%). Van jaar tot jaar het vooruitsigte aansienlik verbeter vir die Oos-Kaap, wat in 2018 -7% was, en die Vrystaat (-1%).

  

Vooruitsig volgens sektor

  

Werknemers in sewe uit die tien bedrywe wat ManpowerGroup meet, is in die vierde kwartaal positief.

  • Die sterkste groei (12%) is in die sektor vir finansiële dienste, versekering, eiendom en sakedienste.
  • Die swakste groei (albei -3%) is in twee bedrywe: vervoer, berging en kommunikasie, en konstruksie.

Die vooruitsig vir indiensneming in vyf uit die bedrywe het verswak teenoor die derde kwartaal, vier het verbeter en een is onveranderd.

  • Veral die vervoersektor – wat op die oomblik geteister word deur aanvalle op vragmotorbestuurders waarin verskeie mense die afgelope ruk dood is – het skerp verswak vanaf die derde kwartaal se 4% tot -3%.
  • Hoewel steeds negatief, het die vooruitsig in die konstruksiesektor wel verbeter. Dit was -8% in die derde kwartaal en word -3% in die vierde kwartaal.

In vergelyking met die vierde kwartaal van 2018 het vyf uit die tien bedrywe nou beter vooruitsigte vir indiensneming; die ander vyf is slegter.

  • ’n Jaar gelede was die vooruitsig vir handel 17%, nou is dit 3%.
  • Wat landbou, bosbou en visserye betref, het 17% van maatskappye verlede jaar dié tyd beplan om werkers aan te stel; nou is dit 5%.

   

Vooruitsig volgens grootte van maatskappy

  

ManpowerGroup verdeel maatskappye in een van vier groottes:

  • Mikro-ondernemings – minder as tien werknemers;
  • Klein ondernemings – 10 tot 49 werknemers;
  • Mediumgrootte ondernemings – 40 tot 249 werknemers;
  • Groot ondernemings – 250 of meer werknemers.

Die netto vooruitsig vir indiensneming by groot ondernemings is die hoogste op 14%. Dis egter aansienlik laer as die derde kwartaal se 26%.

Res van die wêreld

Volgens ManpowerGroup beoog werknemers in 43 uit 44 lande en grondgebiede wat hulle peil, om mense aan te stel. Die laaste land dui op geen verandering nie.

Veral in Japan, Taiwan, Amerika, Indië en Griekeland staan mense ’n goeie kans om aangestel te word.

Vooruitsigte vir werk is die swakste in Spanje, Tsjeggië, Argentinië, Costa Rica en Switserland.

Mikro- en mediumgrootte ondernemings se vooruitsig is 4%. Vir mediumgrootte ondernemings is dit dieselfde as in die derde kwartaal en vir mikro-ondernemings is dit ’n verbetering teenoor die derde kwartaal se 1%.

Klein ondernemings se vooruitsig vir indiensneming is 0%. Dis wel ’n verbetering teenoor die derde kwartaal se -2%.

Met die uitsondering van mikro-ondernemings, wat stabiel gebly het, is die vooruitsig vir indiensneming vir alle grootte maatskappye swakker as ’n jaar gelede.

manpowergroup
werkloosheid, indiensneming
Meer oor:  Werk  |  Werkloosheid  |  Beroepe  |  Indiensneming  |  Loopbane  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.