Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Soek jy werk? Hiér stel firmas nog mense aan

Of jy ’n bouer in die Oos-Kaap of ’n argitek in die Vrystaat is, die jongste indiensnemingsvooruitsigte wys waar Suid-Afrikaners nou die beste kans staan om werk te kry.

ManpowerGroup het Dinsdag sy verslag oor die indiensnemingsvooruitsigte vir die derde kwartaal uitgereik. Dinge lyk nie goed vir die boubedryf en vir Oos-Kapenaars nie, maar daar is hoop.

Altesame 752 Suid-Afrikaanse werkgewers het aan ManpowerGroup se peiling deelgeneem.

ManpowerGroup doen sy peiling in net vyf van die nege provinsies. Limpopo, Noordwes, Mpumalanga en die Noord-Kaap word uitgesluit.

Watter provinsie

ManpowerGroup bereken netto indiensnemingsvooruitsig vir elke provinsie en bedryf, asook vir die land as geheel. Dit word behaal deur die persentasie werkgewers wat aandui hulle beplan om meer mense af te lê, af te trek van die persentasie werkgewers wat beoog om meer mense aan te stel.

  • Die Wes-Kaap en Gauteng is steeds die twee ekonomiese spilpunte van die land, met ’n netto indiensnemingsvooruitsig van 7% teenoor die tweede kwartaal in albei provinsies.
  • KwaZulu-Natal se netto indiensnemingsvooruitsig is 5%.
  • Die Oos-Kaap se vooruitsigte lyk die slegste. Dit is die enigste provinsie waar die netto vooruitsigte negatief is (-1%).

  • In die Vrystaat is die netto indiensnemingsvooruitsigte op 0% nie veel beter nie.

Op ’n jaargrondslag is die prentjie ietwat slegter. Vergeleke met die indiensnemingsvooruitsigte vir die derde kwartaal van 2018 het dit vanjaar vir drie uit die vyf provinsies verswak, naamlik die Oos-Kaap, die Vrystaat en KwaZulu-Natal.

Algeheel

Vergeleke met die tweede kwartaal van vanjaar is die netto indiensnemingsvooruitsigte vir die vyf provinsies 2%, met 8% van werkgewers wat beoog om mense aan te stel en 6% wat beoog om hul arbeidsmag oor die volgende drie maande te verklein. Met voorsiening vir strukturele tendense is die seisoenaal aangepaste syfer ietwat beter op 4%.

In totaal beoog 85% van werkgewers om geen verandering oor die volgende drie maande aan hul arbeidsmag aan te bring nie en 1% is onseker oor wat hulle gaan doen.

Lyndy van den Barselaar, besturende direkteur van ManpowerGroup Suid-Afrika, sê in die lig van die onstuimige ekonomiese omgewing sal maatskappye op medium termyn waarskynlik steeds versigtig bly om meer mense in diens te neem.

konstruksie
Dis nié ’n goeie plan om werk te soek in die boubedryf nie. Foto: Unsplash

Watter bedryf?

Wat spesifieke bedrywe betref, wys die verslag dat werkgewers in die algemeen meer van plan is om mense aan te stel as om hulle af te dank vergeleke met die tweede kwartaal.

In nege uit die tien bedrywe is die netto indiensnemingsvooruitsigte positief vir die derde kwartaal. Net die boubedryf verwag ’n netto verlies van werknemers op -8%, luidens die peiling.

Op ’n jaargrondslag – dus vergeleke met die derde kwartaal van 2018 – boer die helfte van die bedrywe egter agteruit.

Só verskil die netto indiensnemingsvooruitsigte vir die drie swaks presterende bedrywe vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar:

  • Vervoer, berging en kommunikasie: -16%
  • Krag, aardgas en watertoevoer: -9%
  • Konstruksie: -4%

Die bes presterende bedryf is steeds die finansiële bedryf, met die sterkste vooruitsigte vir indiensneming in die derde kwartaal.

Die sektor vir restaurante en hotelle se indiensnemingsvooruitsigte is ook positief. ManpowerGroup skryf dit toe aan ’n groot toename in die getal hotelle wat tans gebou word, met bykans R2 miljard wat hiervoor belê is in 2019. Dié belegging sal lei tot ’n bykomende 3 900 nuwe hotelkamers in die land teen 2020.

manpower
k
Meer oor:  Werkloosheid  |  Indiensneming  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.