Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Staat wil nie visums vir dié hernu

Buitelanders wat as landbouwetenskaplikes, spesialisingenieurs, omgewingswetenskaplikes, fisici en sekere ambagsmanne in Suid-Afrika werk, kan sukkel om hul werkvisums te hernieu en selfs gedwing wees om die land te verlaat omdat dié poste nie meer op die regering se lys van kritieke vaardighede verskyn nie, waarsku kenners.

Immigrante sukkel om hul visums te hernieu.

Buitelanders met kritieke vaardighede wat wel op die lys is, se werkvisums word vinniger verwerk.

Dié wat nie op die lys is nie, kan maklik twee tot ses maande langer wag om ’n werkvisum te verseker, sê Marisa Jacobs, direkteur van Xpatweb, wat werkgewers help om vaardige buitelandse werkers te lok.

Die departement het onlangs die nuwe konseplys gepubliseer. Geskrewe kommentaar daarop moet die departement teen 31 Maart bereik.

Dit is die eerste keer in ses jaar dat die lys bygewerk word.

Stefanie de Saude Darbandi, ’n regspesialis op die gebied van immigrasie en burgerskap wat die departement al hof toe geneem het weens ’n gesloer met werkvisums, is bekommerd oor die hernuwing van werkvisums vir buitelanders wie se vaardigheid nie op die nuwe lys verskyn nie.

As dit te lank vat, kan dié vaardige mense besluit om die land te verlaat. 

Een van haar kliënte wat al lank in Suid-Afrika werk, wag nou al vyf jaar op ’n verblyfpermit. Dié vrou het nou besluit om terug te keer na Nieu-Seeland, omdat sy nie elke keer deur die moeisame proses om visumaansoeke vir haar en haar gesin wil gaan nie, sê De Saude Darbandi.

Volgens Jacobs blyk dit uit Xpatweb se jongste peiling werkgewers sukkel om masjienmonteurs, elektrisiëns, passers en draaiers, spesialisambagsmanne vir instrumente, outomatisasie- spesialiste en werktuigkundiges vir lugverkoeling en verkoeling plaaslik te werf.

Hulle is veral hoog in aanvraag in die myn- en konstruksiebedryf en die vervaardigingsektor, maar van al dié ambagte verskyn net ’n passer en draaier op die konseplys, sê sy.

Die departement van hoër onderwys en opleiding het in ’n tegniese verslag verduidelik dat meganiese monteurs, elektrisiëns en masjienmonteurs, hoewel hulle as krities belangrik beskou word, nie op die lys is nie omdat daar werklose Suid-Afrikaners is met juis dié kwalifikasies. Jacobs beaam dit, maar sê werkgewers sukkel om ambagsmanne plaaslik te vind wat die regte opleiding en genoeg ondervinding het. 

Sowat 23% van die respondente in die Xpatweb-peiling vereis ’n minimum van een jaar werkondervinding, 30% vereis drie tot vyf jaar en 43% vereis vyf jaar of meer.

Sumaya Hoosen, direkteur van mensehulpbronne en vaardigheidsontwikkeling by die Suid-Afrikaanse Federasie vir die Staal-en-ingenieursbedryf (Seifsa), het teenoor Xpatweb laat blyk daar is ’n tekort aan ketelmakers en masjienmonteurs.Van die “interessanter” vaardighede op die konseplys is:  

  • digitale kunstenaar;
  • lughawe- en hawebestuurder;
  • plaasbestuurder (landbou);
  • woonwapark- en kampeerterreinbestuurder; 
  • inspekteur vir akkommodasiebedryf;
  • eiendomsbestuurder;sjef (vereiste registrasie van die Suid-Afrikaanse Sjefsvereniging);
  • skrynwerker en meubelmaker;
  • kleinhandelapteker (vereiste registrasie van die Suid-Afrikaanse Aptekersraad);
  • dieselwerktuigkundige;
  • hysbakwerktuigkundige;
  • en universiteitslektor (minstens M-graadkwalifikasie).

Rudi Dicks, hoof van die projekbestuurskantoor in die presidensie, het Maandag op ’n media-inligtingsessie oor operasie Vulindlela gesê hulle is bewus van kommer oor die konseplys en sal daaraan aandag gee.De Saude Darbandi sê: “Die sakewêreld is bekommerd dat hul insette oor die lys geïgnoreer word om eerder die departemente van binnelandse sake, indiensneming en arbeid en hoër onderwys en opleiding tegemoet te kom.”

Meer oor:  Immigrante  |  Vaardighede  |  Beroepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.