Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Tekort aan verpleërs stuur op krisis af
Die tekort aan verpleërs gaan oor die volgende paar jaar toeneem, waarsku Mediclinic. Foto: Pixabay

Byna die helfte van Suid-Afrika se geregistreerde verpleërs gaan binne die volgende 15 jaar aftree, wat beteken die kritieke tekort aan verpleërs gaan oor die volgende paar jaar net vererger. Daarby is daar ’n enorme krisis met die akkreditering van opleidingsentrums en belangstelling in dié belangrike beroep is aan die taan.

Mediclinic het aan Netwerk24 gesê hy het baie vakatures vir professionele verpleërs in die maatskappy wat kliniese leierskap in gespesialiseerde eenhede en algemene sale kan bied.

“Die beskikbaarheid van voldoende verpleegpersoneel is ’n uitdaging in Suid-Afrika,” sê die maatskappy.

Mediclinic het vrae beantwoord oor presies hóé erg die situasie is nadat Xpatweb Donderdag in ’n verslag gesê het die aanvraag na beroepslui in die gesondheidsektor het tussen 2017 en 2018 met ’n enorme 200% gestyg.

Verpleegkunde word deur die departement van arbeid as ’n kritieke vaardigheid gelys.

Mediclinic sê daar is verskeie faktore wat tot dié tekort bydra. Aan die een kant is daar ’n vertraging om opleidingsentrums te akkrediteer ingevolge die nuwe kurrikulum wat die departement van gesondheid voorskryf.

“Dit beteken die formele opleidingsproses kan tans nie gebruik word om ons potensiële toekomstige werksmag te verhoog nie,” sê die hospitaalgroep.

Nog ’n probleem is dat 48% van geregistreerde verpleërs op die Suid-Afrikaanse Verpleegkunderaad (SANC) binne die volgende 15 jaar gaan aftree. Dis nou indien hulle almal wel werk totdat hulle 65 jaar oud is.

Die beskikbaarheid van voldoende verpleegpersoneel is ’n uitdaging in Suid-Afrika.
Mediclinic

Mediclinic sê hy lei nie net tans verpleërs op nie, maar hy probeer ook om verpleërs wat nie meer in die bedryf werk nie te oortuig om terug te keer.

Mediclinic sê die tekort is nie net ’n probleem by private hospitale nie, maar ook by staatshospitale en klinieke.

Die vakbond Solidariteit het in April ook sy kommer oor dié situasie uitgespreek. Hy het tóé in ’n verklaring gesê luidens die betaal- en personeeladministrasiestelsel Persal is die verhouding van verpleegpersoneel wat in die openbare gesondheidsektor werk een verpleegster vir elke 401 mense.

Hennie Bierman, hoof van die beroepsgilde by Solidariteit, sê in die verklaring gekwalifiseerde verpleegpersoneel in alle verpleegkategorieë het sedert 2013 met bykans 40% afgeneem.

“Sedert 2013 het 8 535 minder verpleegkundiges die arbeidsmag betree en die private sektor ervaar ook probleme.”

Hy sê ’n swaar werklading, lang ure, moeilike omstandighede by die werk, ’n gebrek aan ondersteuning en ’n tekort aan geld en toerusting is van die redes hoekom verpleërs nie meer kans sien vir die beroep in Suid-Afrika nie.

Xpatweb sê wat sake vererger, is dat daar internasionaal ’n groot aanvraag na verpleërs is. Dit beteken verpleërs kan maklik emigreer, wat weer beteken dié vaardighede verlaat die land.

City Press het in Januarie berig administratiewe probleme keer dat gekwalifiseerde verpleërs wat deur die staat opgelei is die arbeidsektor betree.

Luidens dié berig blyk dit dat daar ’n maande lange vertraging is om sertifikate wat bewys opleiding is voltooi aan die verpleërs te stuur. Sonder dié sertifikate kan hulle nie vir poste in die openbare óf die private sektor aansoek doen nie.

Netcare het nie voor spertyd op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Solidariteit  |  Mediclinic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.