Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Verpligte inenting nou moontlik by werkplek

Werkgewers mag nou inentings vir hul werknemers verpligtend maak nadat die departement van arbeid Vrydag nuwe aanwysings in die Staatskoerant gepubliseer het.

inenting, entstof
Die regering het regulasies gepubliseer wat aan werkgewers riglyne gee wanneer hulle 'n inentingsveldtog vir hul werknemers wil instel. Foto: Reuters

Iemand mag egter steeds op grond van sekere redes weier om ingeënt te word.

Aadil Patel, nasionale hoof van die arbeidsregpraktyk van Cliffe Dekker Hofmeyr, sê die hersiene aanwysings oor beroepsgesondheid en -veiligheid wat Vrydag uitgereik is, laat ’n werkgewer nou “uitdruklik toe om ’n verpligtende beleid oor inenting in die werkplek in te stel”.

Die afgelope tyd is wyd gedebatteer oor of werkgewers hul werknemers mag dwing om hulle teen Covid-19 te laat inent.

Volgens Patel beëindig die nuwe aanwysings nou dié debat.

webber wentzel
Kate Collier, arbeidsregkenner van die regsfirma Webber Wentzel.

Thulas Nxesi, minister van arbeid, sê dit beteken nie die aanwysings maak inentings verpligtend nie, maar wel dat elke werkgewer sy pligte ingevolge die Wet op Beroepsgesondheidsveiligheid in ag moet neem om ’n werkplek te bied wat veilig en sonder gevaar is.

Hoewel die aanwysings die kwessie opklaar of inenting verpligtend gemaak mag word, waarsku die departement dat werkgewers die regte van hul werknemers, wat liggaamlike integriteit, godsdiensvryheid en geloofsoortuigings betref, in ag moet neem.

Kate Collier, ’n arbeidsregkenner van Webber Wentzel, en haar kollegas Shane Johnson en Heather Mudau sê soos vorige weergawes van die aanwysings is dit van toepassing op alle werkplekke, behalwe myne en skepe of ander wat hul eie aanwysings het.

Die bepalings in die vorige aanwysing (van Oktober 2020) bly grootliks onveranderd.

“Die jongste wysigings bevat grootliks regulasies rakende Covid-19-entstowwe en -riglyne vir werkgewers wat die verpligte inenting van hul werknemers oorweeg,” sê hulle.

Binne drie weke

Nxesi sê die aanwysing vereis van ’n werkgewer om ’n risiko-ontleding te doen om te bepaal of inenting verpligtend gemaak gaan word.

webber wentzel
Heather Mudau, arbeidsregkenner van Webber Wentzel.

Collier-hulle sê die aanwysings bepaal dat die werkgewer binne 21 dae ná die aanvang daarvan ’n risikobepaling moet doen om vas te stel of hy inenting verpligtend moet maak.

Die aanwysing het sedert die dag van die publikasie daarvan in die Staatskoerant op 11 Junie van krag geword.

Werkers behoort dus binne drie weke te weet of hul werkgewer verpligte inenting beoog.

“As die werkgewer van plan is om inenting verpligtend te maak, moet hy identifiseer watter werkers – op grond van die risiko van oordrag weens die aard van hul werk of die risiko van ernstige Covid-19-siekte weens ouderdom of komorbiditeite – ingeënt moet word,” sê hulle.

Ná die risikobeoordeling moet die werkgewer ’n duidelike plan formuleer (of ’n bestaande plan wysig), waarin die maatstawwe wat hy van plan is om te volg vir die verpligte inenting van werkers uiteengesit word.

Volgens Patel moet die volgende aangedui word:

  • Of hulle van plan is om inentings verpligtend te maak.
  • Die kategorie werknemers wat ingeënt moet word.
  • Die wyse waarop die riglyn nagekom gaan word.
  • Die maatstawwe wat gevolg gaan word om die inenting van werknemers moontlik te maak en wanneer entstowwe beskikbaar gaan wees.
  • Dat werkers betaalde tyd af gegee sal word om vir ’n inenting te gaan.

Mag wel weier

Nxesi sê werkgewers moet ’n billike oplossing vind indien werknemers om mediese en grondwetlike redes weier om ingeënt te word.

“Die belangrikste beginsel van die aanwysings is dat werkgewers en werknemers mekaar met wedersydse respek behandel.”

Nxesi sê grondwetlike gronde kan die reg op liggaamlike integriteit en ten opsigte van godsdiens insluit.

Volgens Collier-hulle moet die beleid werkers in kennis stel dat hulle die reg het om vanweë grondwetlike of mediese redes te weier om ingeënt te word.

Wanneer ’n werknemer weier om ingeënt te word, is daar ook sekere riglyne wat gevolg moet word, soos om onder meer die persoon vir verdere mediese ondersoeke te verwys indien die weiering op mediese redes gegrond is. Die persoon moet egter instem daartoe.

Indien nodig, sal die werkplek “redelike stappe” moet doen om ’n werker wat die entstof weier te akkommodeer deur hul rol of werkomgewing te wysig, soos om hulle toe te laat om van die huis te werk indien nodig, hulle toe te laat om hulself te isoleer by die werkplek of te vereis dat die persoon ’n N95-masker by die werk dra.

Siekbrief nie nodig

Volgens Collier-hulle bevestig die aanwysings dat die isolasieprosedures van toepassing op werkers wat Covid-19-simptome by die werk toon, nie van toepassing is op dié wat simptome wys nadat hulle ingeënt is nie.

“As ’n werker weens newe-effekte nie in staat is om te werk nadat hy die Covid-19-entstof ontvang het nie, moet die persoon op betaalde siekteverlof geplaas word. Die werkgewer mag ’n entstof-sertifikaat aanvaar as bewys van siekte in plaas van ’n siekbrief van ’n dokter.”

Die aanwysing maak dit duidelik al is inenting verpligtend, is so ’n beleid slegs afdwingbaar wanneer entstowwe beskikbaar is.

Die aanwysing bevat ook voorskrifte oor konsultasie met vakbonde, die opvoeding van werkers oor die entstowwe en hoe om personeel te hanteer wat weier om ingeënt te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.