Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Werk ná pandemie: Afsprake om kantoor toe te gaan?

Mense sal in die toekoms dalk afsprake moet maak om by die kantoor te mag werk.

Daar is nog baie onsekerheid oor hoe mense ná die koronaviruspandemie gaan terugkeer werk toe. Foto: Argief

Dit is een manier hoe werkgewers kan weet hoeveel mense bereid is om op ’n betrokke dag kantoor toe te gaan, en om die beskikbare spasie in ’n kantoor te bestuur.

Dit is die voorstel wat Francois Herbst, uitvoerende hoof van die eiendomsontwikkelaar House of Grant, maak oor hoe mense ná die pandemie kan terugkeer werk toe.

Herbst het Dinsdagoggend aan ’n paneelbespreking oor dié kwessie deelgeneem op die jaarlikse Belasting-indaba.

Hy en Lullu Krugel, hoofekonoom by die ouditfirma PwC, is dit eens dat daar nog baie onsekerheid is oor presies hoe die “werkplek” gaan lyk soos wat die staat van inperking, en die gepaardgaande regulasies, opgehef word.

“Aan die begin van die staat van inperking was dit ’n nuutjie en opwindend om van die huis af te werk. Die vraag is: Hoe volhoubaar is dit?”

Herbst sê daar is geen twyfel nie dat baie mense begin vra of hulle kan terugkom kantoor toe, net omdat hulle interaksie met hul kollegas mis.

Krugel stem saam dat daar wel by party mense ’n behoefte is om weer terug te gaan kantoor toe, maar ander kan moontlik verkies om óf steeds van die huis af te werk, óf om soms van die kantoor, en ander tye weer van die huis af te werk.

“Die pandemie het gewys dat dit moontlik is om op groot skaal van die huis af te werk,” sê sy.

Sy dink egter nie dat werkgewers nou voor die voet kantore gaan ontruim en sê dat alle werknemers van die huis af moet werk nie. Daar is wel ’n kans dat werkgewers kantoorspasie kan verminder, meen sy.

“Ek dink daar gaan ’n balans wees. Dit gaan waarskynlik meer algemeen wees in die toekoms dat mense van die huis af werk as wat dit voor die pandemie was,” sê sy.

’n Kwessie waaroor Herbst en Krugel bekommerd is, is oor of mense wat aanhou om van die huis af te werk ’n behoorlike balans sal kan handhaaf tussen hoeveel hulle “by die werk is” en hoeveel hulle “tuis is”.

“Voorheen sou ek in die oggend kantoor toe ry, werk, en vroegaand huis toe gaan. Wanneer ek by die huis kom, kon ek aandag aan my gesin gee,” sê Herbst.

“Nou is daar nie meer hierdie skeiding nie, en is dit maklik om baie langer ure aan werk te bestee.”

Hy waarsku dat daar nou, en in die toekoms, duidelike grense gestel moet word tussen werk en werknemers se private lewe.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Werk Van Huis Af  |  Pandemie  |  Kantore  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.