Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Werk se distopiese toekoms

Wat bepaal die salaris wat firmas aan werknemers betaal?

Johan Fourie

Dis ’n belangrike vraag, veral in ’n land soos Suid-Afrika met ’n werkloosheidskoers van om en by 30%. Daar is bloot te min poste beskikbaar teen die prys waarteen mense bereid is om te werk.

Hierdie wanbalans beteken dat miljoene Suid-Afrikaners nie ’n inkomste genereer wat hul lewensgehalte kan verbeter nie.

Die redes hiervoor is legio. Uit die werkgewer se oogpunt is daar verskeie hekkies. Ek gesels onlangs met kleinsake-eienaars. Hulle noem die burokratiese katnes van arbeidswetgewing en die moeite om ’n onproduktiewe werker te ontslaan as die hoofredes hoekom hulle nie nog werknemers aanstel nie.

Aan die ander kant is werknemers eenvoudig net nie goed genoeg opgelei om van hulle produktiewe werkers te maak nie.

Die ekonoom David Autor verduidelik dat Amerikaners met slegs matriek in die 1970’s maklik werk sou vind as klerk of verkoopsagent. Maar noudat tegnologie daardie soort beroepe oorbodig gemaak het, is die enigste alternatief vir mense sonder opleiding persoon­likedienste-werke.

Dit beteken dat die gaping tussen dié met universiteitsopleiding en dié daarsonder al hoe groter word.

Dié tendens is ook waar in Suid-Afrika, en waarskynlik die rede hoekom studente in 2016 universiteite tot stilstand gebring het om op gratis hoër onderwys aan te dring; hul toekomstige lewensgehalte het letterlik daarvan afgehang.

Verlede week bied Suresh Naidu, professor in ekonomie aan die Columbia-Universiteit, ’n lesing aan waarin hy waarsku dat werkloosheid dalk nie die grootste probleem van die toekoms is nie. Inteendeel, sy navorsing wys dat hoewel die meeste mense ’n werk sal kry, sal hul salaris maar karig wees.

Die rede hiervoor is dat firmas tipies markmag het wat hulle kan gebruik om werkers se salarisse laer te hou as wat hulle sou kon betaal. Dié verskil, sê hy, is ’n goeie manier om te dink oor “uitbuiting”: die verskil tussen wat jy verdien en wat die firma bereid is om vir jou dienste te betaal.

Werkers kan natuurlik ’n vakbond vorm en saam onderhandel vir ’n hoër loon, iets wat reeds sedert die laat 19de eeu gebeur.

Waar vakbond­leiers maklik myn- of fabriekswerkers kan opsweep omdat hulle almal saam in een plek is en basies dieselfde verdien, is dit in vandag se dienstesektore nie die geval nie – dié werkers is wydverspreid en divers.

Maar vakbonde se invloed is al hoe meer beperk, veral met die struktuur van die ekonomie wat wegbeweeg van mynbou en vervaardiging na die dienstesektor. Waar vakbond­leiers maklik myn- of fabriekswerkers kan opsweep omdat hulle almal saam in een plek is en basies dieselfde verdien, is dit in vandag se dienstesektore nie die geval nie – dié werkers is wydverspreid en divers.

Dit is hoekom Naidu se blik op die toekoms van werk redelik donker is.

Daar gaan twee tipes beroepe wees, voorspel hy.

Aan die een kant gaan jy persoonlikedienste-werkers hê: veiligheidswagte, gimnasium-instrukteurs, huiswerkers, tuinmakers, persoonlike versorgers, Uber-bestuurders en als tussen-in. Dié beroepe het min opleiding nodig; daarom is daar baie mededinging, wat lone laag hou. Kyk maar reeds na die mededinging in persoonlike vervoer: daar is nou nie meer net Uber nie, maar ook Bolt, inDriver en ’n hele paar ander. Sulke mededinging gaan verbruikers bevoordeel om die prys van hul taxi-diens, en dus ook die loon aan die bestuurder, so laag as moontlik te hou.

Aan die ander kant van die spektrum gaan daar beroepe wees wat hoogs tegniese kennis vereis, soos KI- (kunsmatige intelligensie) programmeerders, wat hoë salarisse gaan verdien by maatskappye soos Google en Naspers.

Maar sulke maatskappye raak slim, en gaan programmeerders se eie algoritmes gebruik om te bepaal wat die laagste loon is waarteen hulle steeds bereid is om te werk. So, ’n KI-programmeerder kan R5 miljoen per jaar verdien, maar Google sou waarskynlik bereid wees om hom R15 miljoen te betaal. Die verskil tussen hul verdienste en wat hulle sou kón verdien – Naidu se “uitbuiting” – is R10 miljoen. Opgeleide werkers word dus meer “uitgebuit” as ongeskoolde werkers.

Dit klink na ’n saai bestaan: óf jy gaan in ’n beroep wees wat jou skaars aan die lewe hou óf een waar jy net-net nie wil bedank nie.

Dit klink na ’n saai bestaan: óf jy gaan in ’n beroep wees wat jou skaars aan die lewe hou óf een waar jy net-net nie wil bedank nie.

So, wat kan gedoen word om so ’n distopiese toekoms te keer? Daar sal gedink moet word om werknemers meer mag te gee in onderhandelings. Naidu stel voor dat bedingingsrade op sektorale vlak ingestel word om lone met werkgewers te onderhandel.

Suid-Afrika het reeds praktiese voorbeelde hiervan. Maar dit kan maklik lei tot net meer administratiewe rompslomp wat kleinsake­entrepreneurs verder wurg – juis hulle wat die markmag van groot firmas moet beperk.

Daarom is dit tyd om tegnologie, ’n virtuele assistent, te ontwikkel wat die admin.-las soos vereis deur die owerheid vir entrepreneurs verminder. Net soos tegnologie tot ’n distopiese toekoms kan lei, kan dit die werkloosheidsprobleem die hoof bied as dit entrepreneurs bemagtig om werknemers te werf.

  • Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Johan Fourie  |  Beroepe  |  Indiensneming  |  Loopbane  |  Tegnologie  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.