Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Werk van huis af: gaan dit bly of gly?
Daar is steeds 'n hewige debat wat woed oor of werk van die huis af moet voortduur na afloop van die Covid-19-pandemie. Foto: Pixabay

Die debat woed steeds onder maatskappye en hul werknemers of die beleid van werk van die huis af suksesvol is of nie, en of dit ’n permanente deel van die werkswêreld gaan word.

Tuiswerk het tot ’n personeelkorps gelei wat in die algemeen eerder meer betrokke en produktief is as minder, meen Raeford Liebenberg, bestuurder by die IT-firma Silvermoon.

Dit is moontlik gemaak deur kommunikasie- en samewerkingstoerusting wat help om vinnige reaksie te kry sonder om mense te ontneem van hul kollegas en kliënte.

Daar is wel uitsonderings, maar maatskappye trek nou voordeel uit werknemers wat hul werkure van die huis af veel beter kan benut, in teenstelling met die waardevolle tyd wat daagliks verlore gaan in die moeisame en tydrowende sleur van verkeer, asook ander sosiale afleidings in die werkplek soos ’n gillende kollega of een wat jou gedurig onderbreek om te kom praatjies maak.

Werkers se daaglikse pendelrit lei tot ure se verlore produktiwiteit, en dit opsigself is een groot argument ten gunste van tuiswerk, sê Liebenberg.

Tegnologie help

Dit was wel ’n geskarrel om die leerkurwe uit te klim, met baie maatskappye en werknemers wat nie dadelik die nodige infrastruktuur en internetspoed gereed gehad het nie.

Liebenberg beklemtoon dat een oplossing nie vir alle omstandighede geld nie. Sommige werkers het dalk net ’n basiese internetverbinding nodig vir e-pos en apps soos Zoom en Microsoft Teams waar hulle net ’n stemverbinding benodig en nie beeld ook nie.

Ander vind meer baat by veselinternet vir vinniger internetspoed, of 4G/LTE-oplossings vir ’n meer mobiele, maar goedkoper opsie.

Hoe om tuiswerk te laat werk

Om tuiswerk te laat “werk” meen Liebenberg ’n geskrewe beleid is nodig om seker te maak almal werk volgens ’n stel reëls. Dit sal outomaties grense stel om te help vir ’n gesonde balans.

Eerlikheid is ook belangrik – die beleid moenie in beton geset wees nie, en werknemers moet die vrymoedigheid hê om te kan sê wat werk en wat werk nie. Sommige werkers verkies straks buigsamer ure sodat hulle tyd met hul kinders kan deurbring of persoonlike take kan afhandel waarna hulle buite kantoorure verder werk om hul werkverpligtinge na te kom.

Verskillende afdelings het volgens Liebenberg dalk ook verskillende behoeftes. Die finansiële afdeling moet waarskynlik by amptelike werktye hou, terwyl die verkoopspan kan verkies om vroeg in die oggend te werk, ’n middag-verposing te neem en dan weer vroegaand in te spring.

Liebenberg meen werk van die huis af is hier om te bly. Die geheim is dat sowel die werkgewer as die werknemer gemaklik is met ’n nuwe stel reëls, en dat die tegnologie daargestel word om produktiwiteit te verbeter.

Invloed op geestesgesondheid

Dr. Babar Dharani, senior lektor in waardegegronde leierskap by die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sakeskool, meen tuiswerk is vir sommige nie maanskyn en rose nie weens die toename in probleme met geestesgesondheid.

Hy waarsku dat sommige werkers nie daaraan gewoond is om hul tyd te bestuur wanneer hulle tuis werk nie, en dus nie weet wanneer om af te skakel nie of hulle druk hulself te hard uit vrees om hul werk te verloor. Dit verhoog hul angsvlakke.

Dharani meen ’n blote koste-ontleding van tuiswerk bied nie maklike antwoorde nie. Kantoorruimte is duur en werkgewers dink hulle kan bespaar, terwyl werknemers bespaar deurdat hulle nie meer hoef te pendel nie.

Die sienings verskil drasties – van Twitter se hoof wat meen sy werkers kan nou maar vir altyd van die huis af werk, terwyl Netflix se stigter meen tuiswerk is “suiwer negatief”.

Dharani gee toe vir sommige werkers is tuiswerk hemel op aarde omdat hulle ’n blaaskans kry van ’n vyandige werkomgewing of toksiese bestuurders, of omdat hulle bloot nie van hul kantoorkollegas hou nie.

Talle ander kla egter oor ’n toename in stresvlakke en probleme met geestesgesondheid. Sommige kla oor eensaamheid.

Tuiswerk raak ook genderkwessies, met gesinne wat terugval in “tradisionele” geslagsrolle en vroue wat ’n groter las van kindersorg en opvoeding op hulle laai terwyl hulle tuis werk vergeleke met mans.

Dharani meen werkers wat geïsoleer voel, kan voordeel trek uit meer sosialisering buite werkure, en werkers wat voel die werk dring te veel by hul persoonlike lewe in, moet maniere soek om van werk af te skakel, soos om ’n toegewysde werkruimte in die huis te hê, e-pos af te skakel aan die einde van die dag en kollegas te laat weet wanneer hulle nie werk nie.

Meer oor:  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.