Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Werkberaad: ‘Almal moet omvang van krisis besef’

Elke liewe dag, die afgelope tien jaar al, sluit 860 mense hulle aan by die miljoene Suid-Afrikaners wat reeds werkloos is.

Suid-Afrika se arbeidsmag – mense van 15 tot 64 jaar oud – groei met 1?700 mense per dag, maar die aantal poste met net sowat 500 per dag. Foto: Getty Images

Die arbeidsmag – mense van 15 tot 64 jaar oud – groei met 1 700 mense per dag, maar die aantal poste met net sowat 500 per dag.

Nagenoeg 400 000 minder jong mense het in 2018 werk as die jong mense wat in 2008 gewerk het. In dié tyd het 2 miljoen jong mense hulle by die arbeidsmag aangesluit, volgens die Sentrum vir Ontwikkeling en Vooruitgang (CDE).

Uit alle ouderdomme is daar nou 3,2 miljoen méér mense as ’n dekade gelede wat nie werk het nie.

Volgens Statistieke Suid-Afrika was die amptelike werkloosheidskoers in die tweede kwartaal 27,2%, maar as ontmoedigde werksoekers bygereken word, styg werkloosheid tot 36,7%. Altesaam 9,6 miljoen mense – 6,1 miljoen van hulle jong mense – is werkloos.

Dié syfers wys hoe dwingend dit is dat iets gedoen word om werk te skep.

Die vraag is: Is die werkberaad wat op 4 en 5 Oktober in die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand, Gauteng, gehou word, wel die antwoord?

Ann Bernstein, uitvoerende hoof van die CDE, sê vorige “strategieë, benaderings en berade” kon niks doen om die uitdaging die hoof te bied nie.

Suid-Afrika se werkloosheidskrisis is een van die ergstes ter wêreld: “Dis die belangrikste oorsaak van armoede en ongelykheid en dra oneindig baie tot maatskaplike wanfunksionering en politieke onstabiliteit by.

“Dis ’n verskriklike vermorsing van mensekapitaal en ’n aanslag op menswaardigheid.”

Bernstein sê die groot probleem is die miljoene ongeskoolde en onervare werksoekers. Werk moet geskep word vir die “arbeidsmag wat ons het, nie die arbeidsmag wat ons wens ons het gehad nie”.

Bernstein sê die huidige benadering tot kollektiewe bedinging maak dit vir kleiner ondernemings baie moeilik om mense aan te stel, en vir jong mense om werk te kry. Sy sê die koste om jong mense aan te stel moet verminder word en subsidies aan maatskappye wat kapitaal- en vaardigheidsintensief is, moet verlaag word – die subsidies moet dus op arbeidsintensiewe maatskappye fokus.

Bernstein sê die CDE sal die sukses van die werkberaad aan die volgende vrae meet:

  • Weerspieël die voorstelle die omvang van die probleem?
  • Sal die voorstelle die sake-omgewing vir alle maatskappye, maar veral vir kleiner en nuwer ondernemings, verbeter?
  • Sal die voorstelle maatskappye aanmoedig om meer mense, veral jong, onervare werksoekers aan te stel?
  • Is dit die einde van die pad of net die begin?
  • Gaan dit Suid-Afrika op ’n nuwe pad van beleidshervorming plaas wat tot groei en beleggings sal lei?

“Tensy daar ’n opregte verbintenis tot beleidshervorming is, sal nog ’n generasie Suid-Afrikaners in ’n wêreld van werkloosheid en wanhoop grootword.”

Meer oor die beraad:

Die werkberaad word onder die vaandel van die nasionale ekonomiese ontwikkelings-en-arbeidsraad (Nedlac) gehou. Nedlac, wat in 1994 op die been gebring is, is die liggaam waarin die regering, sakesektor en vakbonde alle arbeidsverwante wetgewing en vraagstukke bespreek en konsensus probeer bereik.

Die agenda vir die werkberaad is “samewerkende en hoë-impak-ingrypings om werkskepping, werkbehoud en ekonomiese groei aan te dryf”.

Die volg op onderlinge gesprekke tussen die sektore wat reeds in November verlede jaar begin het. Meer as 200 maatskappye is vir insette gevra, 20 taakspanne is vir verskillende sektore geskep en elke sektor het sy eie plan opgestel om 5 000 poste te skep.

Dit sal dus 100 000 poste skep – en die ambisieuse plan is om dit reeds voor die einde van 2018 te behaal.

Pres. Cyril Ramaphosa het die werkberaad in Februarie in sy staatsrede aangekondig. Hy sal die beraad open en Mildred Oliphant, minister van arbeid, sal ook ’n toespraak lewer.

Volgens navorsing wat die werkberaad-webwerf aanhaal, het enigeen met ses tot 12 maande se werkervaring ’n 80%-kans om langtermyn-indiensneming te vind.

Die beraad gaan daarop klem lê om werk vir interns, leerlinge en vakleerlinge te skep.

Volgens ’n nuwe verslag van die Nasionale Beplanningskommissie wat aan City Press uitgelek is, kan die regering self werk skep deur sy openbarewerkeprogram uit te brei. Oorskotgeld uit die Werkloosheidsversekeringsfonds kan vir opleiding ingespan word, stel die kommissie voor.

Ramaphosa kan dalk die werkberaad gebruik om ’n aankondiging hieroor te doen.

Die beraad sal afgesluit word deur die ondertekening van ’n ooreenkoms “oor die pad vorentoe” en ’n belofte teen korrupsie.

Bemagtig die private sektor

Die CDE glo daar moet dalk minder gefokus word op korttermynprojekte wat werk skep en meer aandag moet aan die hervorming van ’n beleid “wat ekonomiese groei onderdruk en ’n meer arbeidsintensiewe groeipad ontmoedig”, gegee word.

“Die doeltreffendste, volhoubaarste ‘projekte’ vir werkskepping is firmas in die private sektor. Beleid wat hul oorlewing en uitbreiding verseker, sowel as die skepping van baie nuwe firmas, sal die grootste impak op indiensneming hê. Pleks daarvan verhoog Suid-Afrika se beleid die koste van sake doen, ontmoedig indiensneming en verminder die ekonomiese groeikoers.”

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die werkgewersorganisasie Neasa, sê hy glo Ramaphosa “sê die regte goed en ek glo hy is opreg”. Neasa verteenwoordig nagenoeg 9 000 kleiner werkgewers in veral die vervaardigingsektor.

Hy sê Ramaphosa het al herhaaldelik die belangrikheid van klein, mikro- en mediumgrootte ondernemings (KMMO’s) as deurslaggewend vir die land se probleme beklemtoon.

“Onlangs het die president, heeltemal tereg, erken dat regerings nie doeltreffende werkskeppers is nie en dat die regering se primêre funksie is om as ’n bemagtiger vir die private sektor se werkskepping op te tree.

“Die departement van arbeid staan egter presies die teenoorgestelde voor.”

Suksesresep

Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, het onlangs die volgende “resep” gegee wat ekonomiese groei – saam met indiensneming – sal verbeter:

  • Kinders moet hul skoolloopbaan en naskoolse opleiding voltooi. Sonder ’n arbeidsmark wat behoorlik opgelei is, kan ’n ekonomie nie behoorlik groei nie;
  • ’n Sakeomgewing moet geskep word waarin genoeg vertroue is om die private sektor aan te moedig om in die plaaslike ekonomie te belê;
  • Beleidsekerheid moet verkry word, veral wat betref grondbesit en mynwese;
  • Fiskale dissipline moet verbeter – nie nét in die staatsdiens nie, maar ook by alle staatsondernemings; en
  • Korrupsie moet drasties afneem.
  • Sedert dié voorlegging is die nuwe Mynbouhandves uitgereik, maar kenners is verdeeld of dit werklik groter beleidsekerheid skep.

Papenfus sê arbeidsbeleid ontmoedig werkskepping by KMMO’s. Hy sê onder meer KMMO’s se bedingingsmag word aan bande gelê. Ooreenkomste oor minimum lone en ander diensvoorwaardes wat tussen vakbonde en groot ondernemings beding word, word gereeld deur die minister van arbeid uitgebrei en op KMMO’s van toepassing gemaak.

Papenfus trek ook te velde teen al hoe strenger bemagtigings- en diensbillikheidsvereistes, wat aan ondernemings numeriese teikens stel sonder om vaardighede in ag te neem.

“Outomatisering, pleks van arbeidsintensiewe indiensneming, word al hoe aantrekliker en die gereedskap daarvoor word goedkoper en meer geredelik beskikbaar.

“In die lig daarvan dat alles moontlik gedoen word om dit minder aantreklik te maak om mense aan te stel, wie kan hulle blameer as hulle alternatiewe soek en die geleentheid aangryp as dit hom voordoen?

“Woorde gaan nie werk skep nie; ook nie goeie bedoelings nie. Tensy gesonde beleid aanvaar en in werking gestel word, sal die afwaartse neiging in indiensneming voortduur.”

Papenfus is skepties daaroor of die ANC die “dapper politieke besluite” sal neem wat nodig is om ’n meer sakevriendelike omgewing te skep.

“Die regerende party het bloot nie genoeg politieke kapitaal om so ’n avontuur aan te durf nie. Verwag intussen dat werkloosheid sal vererger.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.