Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Werkloosheid: ‘1,2 m. poste vir 12 jaar nodig’
Miljoene Suid-Afrikaners is aktief op soek na werk, maar kry nie werk nie. Foto: Unsplash

As Suid-Afrika se ekonomie nie teen 5,5% per jaar groei nie, gaan dit ’n hele generasie neem voordat die probleem van werkloosheid in die land verlig word.

Om presies te wees, Suid-Afrika gaan vir 12 opeenvolgende jare 1,2 miljoen poste per jaar moet skep en die ekonomie gaan teen 10,9% per jaar moet groei as die land teen 2030 ’n werkloosheidskoers van net 5,5% wil hê soos die wens in die Nasionale Ontwikkelingsplan uitgespreek word.

Dié syfers is volgens die berekeninge van Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za.

Schüssler het dié syfers Maandag uiteengesit op die bekendmaking van die vakbond Uasa se jaarlikse arbeidsverslag.

“Soos sake nou staan, gaan jy vir iemand moet sê: ‘Meneer of mevrou, jy staan nie ’n kans om werk te kry nie, maar daar is dalk ’n kans dat jou kind eendag as volwassene werk sal kry.’ Jy kan nie so ’n situasie in ’n land hê nie,” sê hy.

Die Reserwebank voorspel dat Suid-Afrika se ekonomie in 2018 met net 1,2% sal groei.

Luidens Statistieke Suid-Afrika se nuutste arbeidsmagpeiling, wat in Julie gepubliseer is, is die werkloosheidskoers tans 27,2%.

Ander feite wat Schüssler uitlig, sluit in:

  • Suid-Afrika se werkloosheid is erger as dié van Zimbabwe of Griekeland;
  • Suid-Afrikaners verteenwoordig net 1% van die wêreld se bevolking, tog verteenwoordig hulle 3,2% van die wêreld se werkloses;
  • Geen ander land ter wêreld het ’n werkloosheidsyfer van hoër as 20% vir langer as 20 jaar soos wat hier die geval is nie; en
Mike SchüsslerFoto: Elvira Wood

“Die grootste probleem in Suid-Afrika is ongetwyfeld werkloosheid, en nie ongelykheid nie,” sê Schüssler.

Hy waarsku as Suid-Afrika die probleem van werkloosheid wil oplos, gaan hy nie net werk moet skep vir mense wat tans werkloos is nie, maar ook vir dié wat in die toekoms die arbeidsmark gaan betree.

Volgens Schüssler betree sowat 400 000 mense jaarliks die arbeidsmark.

“Ek dink die mees realistiese tydperk waarin Suid-Afrika sy werkloosheid tot 5,5% kan verlaag, is 22 jaar,” sê Schüssler.

Gedurende dié tyd gaan die ekonomie elke jaar met tussen 6,5% en 9% moet groei en die land gaan elke jaar sowat 1,05 miljoen poste moet skep.

Schüssler sê vir die ekonomie om te groei is goeie beleid wat beleggings sal lok, noodsaaklik.

“Ons kan byvoorbeeld nie net aankondig ons gaan die Grondwet verander sonder dat ons ’n duidelike idee het van wat daarna gaan gebeur nie.”

Nog wenke wat Schüssler gee:

  • Suid-Afrika moet ’n spesifieke teiken hê, en nie net ’n doelwit nie, van wanneer en teen watter pas hy werkloosheid wil verminder;
  • Die land moet besef as sy ekonomiese groei laer as 5% is, gaan werkloosheid nie binne die volgende 25 jaar tot aanvaarbare internasionale vlakke kan daal nie;
  • Onderrig van beter gehalte is nodig, met meer leerlinge wat hul skoolloopbaan voltooi;
  • Minder regulasies, sodat die private sektor vinniger kan groei;
  • Meer mense moet aangemoedig word om vir hulself te werk; en
  • Laer maatskappybelasting, wat maatskappye sal toelaat om meer van hul opbrengs te herbelê, waardeur werk geskep kan word.
Meer oor:  Mike Schüss­Ler  |  Ekonoom  |  Inkomste  |  Werkskepping  |  Ekonomie  |  Werk  |  Werkloosheid  |  Werksgeleenthede  |  Werkloosheidskoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1121,56 (1291)
  • Top 40 45851,17 (-7786)
  • All Share 52096,04 (-5000)
  • Resource 10 39712,73 (24243)
  • Financial and Industrial 30 68788,28 (-23394)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.