Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Werkloosheid van 50% kom al hoe nader

Suid-Afrika sit op ’n tydbom van werkloosheid.

Byna vier miljoen mense is nou al geregistreer vir die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19Ters-skema.

Uitgebreide werkloosheid, wat ontmoedigde werksoekers insluit, is nou 39,7%. Foto: Pixabay

Die WVF het Vrydag aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) ’n voorlegging gedoen oor hoeveel uitbetalings hy al gedoen het as deel van dié tydelike verligtingskema.

Teen 19 Junie het die WVF se Covid-19Ters-skema al R24 miljard uitbetaal wat sowat 336 000 ondernemings se werknemers verteenwoordig.

Dié betalings verteenwoordig meer as 3,6 miljoen werkers wat al sedert die begin van Maart afgelê is – sommiges net tydelik – weens die pandemie en staat van inperking.

Maar daar is al aansoek gedoen vir voordele vir meer as 4,4 miljoen werknemers.

Die verskil van sowat 800 000 is omdat dié werknemers volgens die WVF nie op sy stelsel was nie, en dus nog nie betalings kon ontvang nie.

Suid-Afrika se werkloosheidskoers het in die eerste kwartaal van 2020 opnuut ’n rekord van 30,1% gehaal. Uitgebreide werkloosheid, wat ontmoedigde werksoekers insluit, het ook ’n rekord van 39,7% gehaal.

Dit beteken nagenoeg 7,1 miljoen Suid-Afrikaners soek werk en nog 2,9 miljoen het opgehou werk soek omdat hulle geen hoop het dat hulle werk sal kry nie. Nog 800 000 soek om ’n ander rede nie werk nie.

Dit bring die getal werkloses op 10,8 miljoen te staan.

Indien die 4,4 miljoen mense bygereken word wat tydens die staat van inperking afgelê is, beteken dit werkloosheid in die tweede kwartaal kan tot meer as 48% opskiet, met uitgebreide werkloosheid tot ten minste 64%.

Selfs huiswerkers en buitelanders word nou amptelik deur die Covid-19Ters-skema gedek.

Volgens Teboho Maruping, kommissaris van die WVF, het die WVF al R534,5 miljoen aan 114 059 buitelanders betaal wat geldige werkpermitte het.

Huiswerkers het al R128 miljoen ontvang vir 35 374 aansoeke.

Volgens Boitumelo Moloi, adjunkminister van arbeid en indiensneming, word werkers wat nie geregistreer is nie, ook deur die skema gedek, hul werkgewers moet hulle net registreer.

Maruping sê solank daar bewyse is van indiensneming sal die Covid-19Ters-skema uitbetaal. Dit geld dus ook ondernemings wat nie tot dusver WVF namens hul werkgewers oorbetaal het nie.

Dié werkgewers sal egter gedwing word om alle agterstallige betalings aan die WVF te doen as hulle nou namens ongeregistreerde werknemers eis.

Dit vorm deel van wat die WVF noem sy “volg die geld”-veldtog.

Hy gaan nie net elke onderneming ná die krisis dwing om betalings te begin doen nie, maar ook elke ontvanger van voordele oudit om te verseker dat gelde in werknemers se rekeninge beland het.

Dit beteken 336 000 ondernemings moet geoudit word.

Maruping sê tot dusver is nog net 31 oudits voltooi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.