Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beroepe
Wet vir huiswerkers dalk ná dekades gewysig
Huiswerkers sal dalk eersdaags van die Vergoedingsfonds kan eis indien hulle beseer raak of siek word by die werk. Foto: Getty Images

Huiswerkers sal moontlik eersdaags in aanmerking kan kom vir vergoeding ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -Siektes van 1993 (Coida) nadat ’n wysiging van dié wet vir die eerste keer in 23 jaar aanbeveel is.

Daar word met die wysigingswetsontwerp gevra dat die definisie van “werknemer” verander word om die uitsluiting van huiswerkers te beëindig.

Dit sal meebring dat huiswerkers van die Vergoedingsfonds kan eis indien hulle by die werk beseer raak of siek word.

Die wysiging volg op ’n reeks hofbeslissings wat bevind het dat die huidige uitsluiting van huiswerkers ongeldig is.

In Mei 2019 het die hooggeregshof in Pretoria beslis dat die uitsluiting van huiswerkers uit die wet sowel ongrondwetlik as ongeldig is.

Dit het gevolg op ’n hofsaak wat gebring is deur Sylvia Mahlangu, die dogter van Maria Mahlangu wat in 2012 by haar werkgewer se huis verdrink het, asook die huiswerkersvakbond Sadsawu.

In Oktober verlede jaar het dieselfde hof beslis dat die insluiting van Coida-dekking vir huiswerkers terugwerkend toegepas moet word op werkers wat beseer is of gesterf het terwyl hulle by die werk was voordat die bevel van Mei 2019 toegestaan is.

’n Span van die departement van indiensneming en arbeid het begin werk aan die wysigingswetsontwerp ná die hofbevele van 2019.

Volgens Harry Maphologela, senior regsbeampte by die departement wat in die span was, is die uitsluiting van huiswerkers uit Coida een aspek wat dringend gewysig moes word.

Hy het in ’n onderhoud met GroundUp gesê dat regeringsamptenare Coida nou heeltemal opgeknap het.

Vakbonde is ook tevrede met die wysiging en werk hard om pres. Cyril Ramaphosa en die parlement te oortuig om die wetsontwerp te bekragtig.

Volgens Myrtle Witbooi, hoofsekretaris van Sadsawu, wat ongeveer 7 500 aktiewe lede het, was die verandering lankal nodig.

Pinky Mashiane, president van die vakbond United Domestic Workers of South Africa (Udwosa), het gesê vakbonde beywer hulle al jare vir hierdie verandering.

Die Instituut van Sosio-ekonomiese Regte (Seri) is intussen besig om ’n aansoek te bring namens Mahlangu en Sadsawu by die konstitusionele hof om die twee bevele van die hooggeregshof te bekragtig terwyl die veldtog vir bekragtiging van die wetsontwerp nog aan die gang is.

“Die insluiting van huiswerkers onder maatskaplike beskerming wat al dekades lank aan alle ander werkers gebied word, is lankal nodig,” sê Kelebogile Khunou, navorser by Seri, aan GroundUp.

Meer oor:  Vergoeding  |  Beroepbeserings  |  Huiswerkers  |  Beroepe  |  Wet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.