Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
10 wenke om dié vlak 4 te bespaar

So boos soos wat baie mense is dat vlak 4 weer ingestel is, met sy gepaardgaande verbod op drankverkope, die sluiting van gimnasiums en restaurante en ’n vroeë aandklok, bied dit dalk ook ’n geleentheid.

Sommige Suid-Afrikaners het in die pandemie besef hoe belangrik dit is om geld te spaar vir noodgevalle. Foto: Pixabay

Sarika Maharaj, produkbestuurder van African Bank, sê die bank het beslis in vlak 5 en 4 van April en Mei 2020 agtergekom dat mense minder geld uitgee.

Besteding aan brandstof het byvoorbeeld gedaal omdat baie mense van die huis af gewerk het en onnodige ritte supermark toe uitgesny het – hulle het minder gereeld gaan kos koop en eerder meer op ’n slag gekoop ten einde minder gereeld kontak te hê met ander mense. Mense kan stééds op dié manier geld aan brandstof bespaar.

Hoewel die sluiting van restaurante en kroeë sedert Sondag beslis nie goeie nuus vir restauranteienaars of drankmaatskappye is nie, beteken dit mense wat gereeld gaan uiteet het, gaan nou nie dié geld bestee nie, sê Maharaj.

“Die verbod op byeenkomste en die toepassing van gesonde afstande het (verlede jaar) beteken dat mense weer moes dink oor groot partytjies wat hulle beplan het, soos troues, verjaardae en ander vieringe. Sommige planne is dalk heeltemal laat vaar en ander is dramaties afgeskaal.

“Danksy die inperking is daardie geld nog in die bank of word dit gebruik vir noodsaaklikhede en die afbetaling van skuld in dié moeilike tyd,” sê Maharaj.

“As jou geldbesparing tydens die inperking jou laat besef het hoeveel jy elke dag, maand of jaar aan onnodige dinge bestee, waarom kan jy spaar nie ’n lewenslange gewoonte maak nie, pleks daarvan dat jy die onvermoë om geld te bestee as ’n vloek beskou?

“Sommige van ons het miskien goed begin (spaar), maar het die afgelope paar maande tred verloor. Die huidige inperking van twee weke bied ’n ideale geleentheid om weer op dreef te kom.”

Die onsekerheid oor komende inperkings is volgens haar des te meer rede om “ou bestedingsgewoontes te heroorweeg”.

LEES OOK: Dis Spaarmaand: Ons weet jy wil nie weet nie

Haar tien wenke om geld as deel van ’n “leefstyl” te bespaar, is:

  • 1. Maak ’n lysie voordat jy gaan inkopies doen en hou streng daarby.
  • 2. Maak tuisgemaakte maaltye die reël, nie die uitsondering nie. Net omdat restaurante slegs wegneemetes mag bedien, beteken dit nie dat jy meer geld daaraan moet bestee nie.
  • 3. Doen aanlyn inkopies bloot as ’n veilige manier om noodsaaklikhede te kry, en nie as ’n manier om mooi, duur artikels waarop jy jou hart verloor het, te laat aflewer nie.
  • 4. Betaal skuld af, veral kredietkaartskuld. Sluit jou kredietkaart weg om versoeking te voorkom as jy moet!
  • 5. Hou jou besteding dop en bestudeer dit aan die einde van elke week. “Jy glo dit miskien nie nou nie, maar spaar raak verslawend.”
  • 6. Laat die hele gesin betrokke raak en praat oor geld spaar. Wys jou kinders hoeveel jy gespaar het deur byvoorbeeld tuis te kook in plaas van wegneemkos te bestel.
  • 7. Stel spaardoelwitte saam met die gesin op. “Daar is geen groter motiveerder as ’n hangende wortel in die vorm van ’n gesinsvakansie of genoeg geld om jou kinders verder te laat studeer nie.”
  • 8. Vergelyk jou bestedingsgewoontes gedurende die inperking en kyk of jy daarin geslaag het om aan te hou spaar.
  • 9. Kanselleer krediet (soos oortrokke geriewe of te veel beskikbare geld op jou kredietkaart) wat jy nie regtig nodig het nie en hou jou bankkoste dop.
  • 10. Maak ’n spaarrekening met hoë rente oop en begin die vrugte pluk van jou denkwyse oor geldbesparing.

“Dit neem dikwels ’n krisis om mense te laat herbesin oor hul lewe en hul finansiële keuses,” sê Maharaj.

“As die Covid-19-pandemie ons iets geleer het, is dit dat ons vir die toekoms en vir onvoorsiene noodgevalle moet beplan.

“As jy ’n openbaring gehad het oor besparing in die inperking, hou dan die momentum aan die gang; maak om geld te spaar ’n deel van jou daaglikse lewe. Die langtermynbeloning is die moeite werd.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Spaarwenke  |  Vlak 4  |  Beleggings  |  Spaar  |  Spaarmaand  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.