Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
10 wenke om geldstres dié Kersfees te voorkom
Bykomende skuld wat in die Desember-vakansie aangegaan is, lei tot groot probleme vir verbruikers in Januarie.

Die skoolvakansie het aangebreek en vir baie ouers beteken dit die begin van ’n baie duur twee maande.

Of jy nou gelukkig genoeg is om die pad te vat vir ’n vakansie by die see of Kersfees tuis vier, ’n mens se hand bly maar diep in jou sak grawe. Kersgeskenke, vermaak, ander luukses – en dan kom die eise van Januarie soos nuwe skoolklere, skryfbehoeftes en skoolgeld.

Ester Ochse van FNB sê finansiële stres kan juis die rustyd saam met jou gesin bederf. Daarom is die vakansietyd ook ’n goeie geleentheid om oor jou geldsake te besin.

Identifiseer waar dinge vanjaar verkeerd gegaan het en beraam ’n plan om te keer dat 2020 dieselfde foute bevat.

Neil Thompson van African Bank sê daar is wel maniere om ’n “finansiële babelaas” in die nuwe jaar te voorkom.

“Moenie wag om ’n Nuwejaarsvoorneme te maak om jou geldgewoontes te verander nie – begin lank voor 1 Januarie om veranderinge in werking te stel oor die manier waarop jy jou geld bestuur. Begin sommer nou dadelik.”

Thompson sê ironies genoeg misluk Nuwejaarsvoornemens om te spaar juis weens oorbesteding in die vakansietyd. Mense wat oorweldig voel en net nie die bykomende uitgawes kan bybring nie, verval in ’n spiraal van “finansiële chaos”.

Moenie wag om ’n Nuwejaarsvoorneme te maak om jou geldgewoontes te verander nie – begin lank voor 1 Januarie om veranderinge in werking te stel.
Neil Thompson

“Wat mense moet onthou, is dat jy nie jaar ná jaar kan uitstel om ’n goeie finansiële toekoms te verseker nie, veral nie vir jou aftrede nie. Hoe vroeër jy begin spaar, hoe beter.

“Dis nooit te vroeg óf te laat om vir aftrede te begin spaar nie.”

Thompson sê almal sien uit na ’n welverdiende blaaskans van werk en roetine, maar wat geldsake betref, moet ’n mens nie heeltemal ontspan nie.

’n Spaarrekening of belegging kan sommer vinnig begin vrugte dra – iets wat op sigself soos ’n beloning vir al jou harde werk voel.

Thompson, Ochse en Naidoo se wenke vir ’n finansieel fris Kersfees is:

1. Maak sommer nou ’n spaarrekening oop

Deesdae het jy nie nodig om jou perd op te saal bank toe en in ’n lang ry te gaan staan nie. Talle banke maak dit moontlik om ’n spaarrekening aanlyn te open en jy het nie altyd ’n groot bedrag as eerste deposito nodig nie. ’n Debietorder met ’n minimum bedrag wat maandeliks gespaar word, is ’n goeie plan.

2. Stel ’n begroting op – ook vir Kersfees

’n Begroting stel ’n perk op hoeveel jy op geskenke, etes, vermaak en drinkgoed gaan bestee. Dit bly ál manier om in beheer te bly van waarheen jou geld gaan!

3. Dink vars oor Kersgeskenke

Kyk of jy vanjaar die duur elektronika en handelsnaam-klere as Kersgeskenke kan vermy. Kyk uit vir winskopies en spesiale items by klein winkeltjies en markte. Of besluit dat vanjaar die jaar is vir handgemaakte Kersgeskenke! Dit is nie net goedkoper nie – dit het ook sentimentele waarde.

Onthou, almal is onder druk – jou vriende en familielede ook. Hulle is dalk verlig as jy voorstel dat julle nie vir mekaar Kersgeskenke koop nie of klein geskenkies koop.

4. Maak huis skoon

Kyk ’n bietjie rond vir toerusting wat jy nie gebruik nie en verkoop dit aan tweedehandse winkels.

5. Beplan roetes

As die hele gesin met vakansie is, probeer tog ritte saamvoeg om brandstof te bespaar. Ma kan die tieners by die fliek aflaai en haar inkopies gaan doen, pleks van later weer ry, en dit als nadat sy Pa by die gholfbaan gaan aflaai het.

6. Sny jou vermaakbegroting

Pleks dat jy die gasheer speel en al die kos verskaf, stel ’n bring en braai voor of maak seker die Kerskos word onder gesinne verdeel. Hou jou eie fliekaand tuis pleks van gaan fliek – maar moenie jou eie springmielies vergeet nie!

7. Wees slim met jou bonus

Baie mense word in Desember vroeër betaal (en sommiges kry ook ’n bonus of 13de tjek). As jy nie beplan hoe daardie geld bestee gaan word nie, gaan dit tussen neus en ore verdwyn.

Begroot dus sodra jy jou geld ontvang. Bereken hoeveel geld jy vir Januarie se rekeninge nodig het en, indien jy bang is jy bestee dit, bêre dit in jou huisverband of ’n spaarrekening.

As jy ’n 13de tjek ontvang, maak seker jy gebruik ook ’n deel daarvan om skuld te verminder en om te spaar.

8. Koop grootmaat

Veral as jy familielede of vriende bykry in jou huishouding, beplan die kos vooruit en kyk of jy nie kan spaar deur byvoorbeeld melk en blikkieskos in grootmaat te koop nie.

9. Bly uit die winkelsentrums uit

Die Boney M-Kersliedjies en flikkerende liggies, om van die “spesiale aanbiedinge” en lekkernye in Kersverpakkings nie te praat nie, verhoog die versoekings in die winkels oor dié tyd van die jaar.

Baie mense besluit om mekaar in die winkel vir koffie of ontbyt te ontmoet of neem ’n blaaskans van inkopies doen by ’n restaurant. Weerstaan dié versoeking – moenie van winkels toe gaan ’n sosiale uitstappie maak nie.

Stel eerder ’n lysie op, gaan vroeg winkel toe en gaan doen jou inkopies alleen.

As jy wel vriende wil ontmoet, kies ’n bestemming waar daar nie ’n versoeking is dat jy geld kan uitgee nie, soos ’n park, die strand of iemand se huis.

10. Gebruik jou gesonde verstand

Daar is elke jaar ’n feestyd, en as jy besef dat jy kan pret hê sonder om geld te bestee wat jy nie het nie, sal jy 2020 finansieel baie beter daaraan toe wees.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Skuld  |  Spaar  |  Kersfees  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.