Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
161 ‘kwesbares’ kla by ombud vir banke

Vyf persent van die mense wat in die afgelope vier maande by die bankombud gekla het, was “kwesbares” – mense wat weens hul persoonlike omstandighede kwesbaar is vir uitbuiting sou hul bank nie die nodige “sorg” aan die dag lê nie.

Die hoofkantoor van drie van die vier grootste banke in die land in Kaapstad. Foto: Reuters

Dit sluit mense in wat ouer is as 65 jaar, gestremdes, ongeletterdes én mense wie se lewe deur onvoorsiene omstandighede soos aflegging of die afsterwe van ’n lewensmaat ontwrig is.

Die ombud vir bankdienste (OBS) het vier maande gelede ’n nuwe beleid aanvaar ingevolge waarvan kwesbare verbruikers geïdentifiseer en banke maatreëls gereed moet kry om hulle by te staan.

Reana Steyn, die ombud, het met die bekendstelling van die OBS se 2020-jaarverslag gesê van die 161 verbruikers wat sedert Augustus as kwesbaar geïdentifiseer is, was 116 kwesbaar op grond van ouderdom, 35 weens traumatiese gebeure (28 weens aflegging) en ses weens gebrekkige geld- of taalgeletterdheid.

Dié 161 verbruikers se klagtes is deel van die rekordgetal van 7 717 amptelike sake wat die ombud in 2020 bekyk het. Dit is 19% meer as in 2019.

Daarbenewens het die ombud meer as 8 300 gevalle gehad waar verbruikers nie eens hul bank genader het om die kwessies op te los nie.

Steyn meen die feit dat mense weens die Covid-19-beperkings sukkel om hul bank in die hande te kry, dra by daartoe.

Die OBS se inbelsentrum het net vyf personeellede wat meer as 4 500 oproepe per maand hanteer.

Hulle antwoord 98% van die oproepe, sê Steyn.

Hoewel die ombud R16 miljoen vir verbruikers teruggekry het, is sowat 72% van die klagtes in die guns van banke beslis.

Volgens Edrich Buytendorp van die kantoor van die OBS het klagtes oor lopende rekeninge in 2020 die grootste deel (19%) van die totale klagtes uitgemaak vergeleke met 11% van die totale klagtes in 2019.

Bedrog bly ’n groot kopseer.

Wanneer daar bedrog was, kan die OBS in baie gevalle nie die bank regsaanspreeklik hou vir hul verlies nie.

Wanneer mense geld in ’n verkeerde rekening inbetaal en dit dan verloor is daar geen regsgronde dat die bankombud die bank vir dié verlies verantwoordelik kan hou nie, sê Nerosha Maseti, hoof van ondersoeke.

Naas lopende rekeninge is die topkategorieë met die meeste klagtes:

  • internet-bankdienste (13% van totale klagtes);
  • persoonlike lenings (11%);
  • kredietkaarte (11%); en
  • kitsbanke (9%).

Klagtes oor huisverbande en motorfinansiering maak onderskeidelik 8% en 7% van die totaal uit.

Meer oor:  Bedrog  |  Verbruikers  |  Ombudsman  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.