Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
20 geldwenke vir 2020
Enige tyd is 'n goeie tyd om te begin spaar.

Maak vanjaar ’n kopskuif en besef dat begrotings nie ’n ewigdurende rompslomp is nie.

As jy wonder hoekom dit nodig is as jy nie sakke vol geld verdien nie – dit is vir enige mens die beste manier om tred te hou met hoeveel geld jy het en waaraan jy dit bestee.

Kortkom, dit help jou om nie onnodig skuld te maak nie en om te spaar.

  • Wanneer? Enige tyd, maar ’n goeie herinnering is sodra jy jou maandelikse salarisstrokie kry.
  • Wat? Gebruik jou salarisstrokie (dit wys jou inkomste en aftrekkings by die werk), bankstate van ’n paar maande (dit wys waarop jy geld uitgee) en enige ander dokumente van beleggings of rekeninge. Jou kredietgeskiedenis sal ook jou skuld lys.
  • Hoe? Lys jou inkomste en uitgawes. As jou uitgawes meer is as jou inkomste, moet jy besnoei.

Tref ’n onderskeid tussen noodsaaklike uitgawes en luukses. Noodsaaklike uitgawes is huurgeld, brandstof, lenings en skoolgeld.

Op die res moet jy inkort. Banke en skuldberaders se webwerwe het dikwels voorbeelde van begrotings wat jy kan gebruik, of soek vir ’n oulike app op jou foon.

   

Besnoei só jou uitgawes:

   

1. Die nuwe jaar is die regte tyd om afskeid te neem van luukses soos satelliettelevisie of ’n gimkontrak wat jy nie ten volle gebruik nie. Dit hoef net tydelik te wees totdat jou geldsake sterker is. Oorweeg alternatiewe. Jy kan dalk sport aanlyn kyk en eenvoudig by jou voordeur uitstap en gaan draf. Die geld kan gebruik word om skuld te delg of te spaar.

2. Vergelyk verskillende aanbiedinge as jou foon- of WiFi-kontraktyd verstryk. Daar is baie mededinging in die mark en ’n besparing van net R100 minder per maand is reeds R1 200 oor 12 maande.

3. Los liewers die las van ’n te duur voertuig as te veel van jou maandelikse inkomste in jou motorpaaiement verdwyn. Ruil dit in vir ’n billiker en meer brandstofdoeltreffende weergawe.

   

Wenke om te spaar:

   

1. As jy sukkel om te spaar, oorweeg ’n beleggingsklub tussen vriende. Dit is meestal suksesvol omdat julle mekaar aanmoedig om te spaar.

2. ’n Ander opsie is die 52-week-spaaruitdaging. Dit werk só: Die eerste week sit jy R10 weg, die tweede week R20 tot R520 in week 52. Die totaal sal R13 780 wees. Die geheim is dat jy weekliks jou inbetaling afmerk om seker te maak jy doen dit wel. Jy kan dit ook met ander bedrae probeer. Doen dit saam met ’n spaarpel, dan is dit makliker om vol te hou.

 

Kry eers 'n volledige prentjie van al jou skuld voor jy dit takel.
     

Drie wenke om skuld baas te raak:

   

Verstaan jou volledige skuldprentjie. Jy is geregtig op een gratis kredietverslag per jaar by ’n kredietburo (daar is ’n lys op www.ncr.org.za).

1. Vir baie mense werk dit om hul kleinste skuldbedrag eerste te delg. Maak dan dié rekening toe en gebruik die geld van daardie afbetaling om die volgende rekening te delg.

Jy kan ook begin met die duurste skuld (dié met die hoogste rentekoers) soos kredietkaarte en persoonlike lenings.

2. Gee dit terug – verbruikers mag artikels wat op ’n paaiementafbetalingsooreenkoms gekoop is, teruggee. Die winkel of kredietverskaffer kan dit verkoop om die skuld te vereffen. As daar steeds geld uitstaande is, sal jy dié bedrag moet afbetaal.

3. Jy sal vinniger met langtermynskuld soos ’n huislening klaarspeel as jy meer as die maandelikse minimum bedrag betaal.

Probeer byvoorbeeld die minimum bedrag plus 5% of 10% betaal. Gestel jy het ’n lening van R1 miljoen oor 20 jaar teen 10% – jou maandeliks afbetaling sal sowat R9 700 wees.

As jy 5% (R485) meer per maand afbetaal, sal jy oor 20 jaar meer as R200 000 in rente spaar en die leningstermyn met meer as twee jaar verkort. Dit is ’n geraamde voorbeeld; banke het oulike webrekenaars om jou persoonlike afbetaling te bereken.

   

Oppas vir familie en vriende:

    

1. Moenie iemand anders se skuld afbetaal nie; oorweeg dit eers wanneer jou eie uitgawes en spaarplan alles gedek is.

2. Moenie borg staan nie – as jy skriftelik instem, beteken dit dat die krediteur van jou sal verwag om die skuld te delg as die persoon dit nie doen nie.

    

Begin die nuwe jaar deur te spaar waar jy kan.

Wees meer bewus van wat jy koop:

   

1. Stel inkopielysies op en hou daarby. Kyk ook of die produkte reeds in jou kas is.

Soms koop ons produkte net omdat ons vergeet het dat ons dit het.

Al hou sekere produkte lank, is dit steeds geld wat jy die maand uitgee wat vir iets anders gebruik kon word. Met ’n lys is jy ook minder geneig om items te vergeet, wat onnodige herhalingsritte uitskakel.

2. Moenie handelsname uit gewoonte koop nie. Oorweeg ander, billiker opsies. Sekere winkels se private handelsmerke is deesdae hul spogprodukte en dikwels billiker as duur handelsmerke omdat hul produksiekoste laag is en hulle dit wil bemark. Vergelyk die eenheidskoste van jou aankope, soos die prys van ontbytpap per 100 g. Jy sal verras wees, soms kos die grootmaat duurder as kleiner houers.

3. Voordat jy by die winkel uitstap, kyk na die betaalstrokie of jy nie te veel vir ’n item betaal het of dat ’n verkeerde produk dalk opgelui is nie. As jy eers tuis is, is dit dikwels te veel moeite om vir ’n klein bedrag terug te gaan.

Doen dit vanjaar:

Kry raad! Skuldraadgewers (www.ncr.org.za) kan skuldassesserings doen en aanbevelings gee sonder dat jy onder skuldhersiening is.

Finansiële beplanners (www.fpi.co.za en www.fia.org.za) kan ’n finansiële plan optrek om jou geldsake beter te bestuur. Onthou net dat nie alle beplanners omvattende raad kan gee nie, baie is net gelisensieer om sekere versekeringsprodukte te verkoop.

Vra eers wat die beplanner se bevoegdheid is en of jy net ’n konsultasietarief kan betaal vir advies.

Hou op opgaar! As jou huis vol artikels is wat jy nie gebruik nie of nie van hou nie, adverteer dit aanlyn (lees die webwerf se veiligheidswenke) en verkoop dit. As dit vir iemand anders meer gaan beteken as vir jou, skenk dit aan ’n welsynwinkel.


Meer oor:  Spaarwenke  |  Raad Met Jou Rande  |  Skuld  |  Spaar  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.