Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
2020-voornemens: Moet jy skuld maak vir jou planne?

Jy wil dalk vanjaar gewig verloor en fikser word, en oorweeg dit om by ’n gimnasium aan te sluit of om ’n fiets te koop. Maar, o wee, jou doelwit is ook om skuld af te betaal.

oefen, gesondheid, gesond
Belê in jou gesondheid - maar onthou dat jy die voordeel daarvan net op lang termyn sal sien. Foto: Pixabay

Of dalk is een van jou Nuwejaarsvoornemens om te leer dans, maar, weer eens, dit kos geld!

Soms moet ’n mens geld bestee om ’n positiewe verandering in jou lewe te maak. Die groot vraag is: Wanneer is so ’n belegging in jouself wél die gat in jou begroting werd?

Ester Ochse, produkhoof van FNB Money Management, sê met die nodige toewyding, motivering en aanmoediging kan mense hul persoonlike doelwitte behaal terwyl hulle terselfdertyd hul doelwitte vir finansiële vryheid nastreef.

“Jou geldsake sal altyd sommige aspekte van jou lewe, hetsy fisiek of emosioneel, beïnvloed.”

Finansiële welstand kan nie geskei word van emosionele welstand nie – dit is ’n wedersydse verhouding, sê Ochse. “Balans is die sleutel, so verseker dat jou geldsake in orde is.”

Die heel belangrikste oorweging is dalk: Het jy die wilskrag om jou Nuwejaarsvoorneme vol te hou? As jy elke jaar duisende rande bestee aan nuwe planne wat jy dan maande of selfs binne weke laat vaar, moet jy jouself afvra: Wat maak vanjaar dan anders?

Wat jy ook al doen, bly weg van dinge wat heeltemal strydig met jou karakter is, of ’n nuwe gier – soos ’n (duur) eetplan wat nie volhoubaar is nie of ’n (duur) nuwe produk om jou te help ophou rook.

fnb
Ester Ochse, produkhoof van FNB Money Management.

Jou persoonlike doelwitte

Baie stokperdjies of oefening kan jou leefstyl minder stresvol maak. En dit hoef nie altyd geld te kos nie.

“Dis belangrik dat mense begin belê in hul gesondheid en maniere vind om meer in die oomblik te lewe,” sê Ochse. As jy ’n leefstylverandering volhou, sal dit op lang termyn tot voordeel van jou gesondheid en jou gesinslewe wees.

“Sommige mense kan aktiwiteite deur selfhelpgidse of van die internet af leer, maar ander vereis ’n bietjie meer hulp en rigtingwysers, wat geld kan kos. En soms is die koste dit werd,” sê Ochse.

As jy besluit om geld te bestee aan ’n Nuwejaarsvoorneme, maak seker dat jou begroting dit kan hanteer, waarsku Ochse.

Januarie is ’n goeie tyd om uit te kyk vir spesiale aanbiedings by gimnasiums, maar let op die fynskrif – jy kry dalk drie maande gratis, maar moet vir twee jaar lid bly (of wat ook al).

As jy iets nié kan bekostig nie, moet jy dalk gratis opsies oorweeg. Iets soos Parkrun is byvoorbeeld heeltemal gratis, elke Saterdag byna landwyd, en natuurlik kos dit niks om te gaan stap of draf in die buitelug nie.

Huisverbeteringe

As jy tuis gelukkig voel, sien ’n mens sommer vir baie meer kans. Jy wil dalk graag aanbou of ’n swembad laat insit, maar selfs as jy sukkel om vir groot verbeterings te spaar, kan jy jou huis verbeter.

vetplante
’n Bietjie groenigheid kan ’n vertrek lekker opkikker en kos ook nie ’n fortuin nie. Foto: Pixabay

Ochse wys daarop dat al hoe meer mense meer gereeld van die huis af werk, wat beteken jou huis is ook jou kantoor. Jy bestee dus meer tyd daar – en dis belangrik dat jy gelukkig is.

Plante kikker ’n tuin en huis vinnig op, en jy kan baie vertrekke met strooikussings of helderkleurige vase opkikker. “Dis net enkele goedkoop opsies wat kan help om jou ruimte te verpersoonlik,” sê Ochse.

En as jy dapper genoeg is om daardie groot verbouings aan te pak, maak seker jy kry kwotasies van verskillende verskaffers sodat jy dit kan vergelyk.

Jou kinders se opvoeding

Een van die beste beleggings wat jy kan doen, is om te verseker dat jou kinders die beste opvoeding kry wat jy hulle kan gee. As jou kinders volgende jaar vir die eerste keer skool toe of hoërskool toe gaan, moet jy ’n bietjie navorsing oor skole doen om die een te vind wat die beste vir jou kind sal wees.

Die ideaal is dat jy ’n skool naby jou huis vind, aangesien vervoer ’n groot koste is – om van die ontwrigting nie eens te praat as jou kind daagliks ver rondgery moet word nie.

Ochse herinner ouers daaraan om nie net vir skoolgeld en skoolklere te begroot nie, maar ook vir boeke, skryfbehoeftes, vervoer, nasorg, ekstra-klasse, buitemuurse bedrywighede, skooluitstappies en onvoorsiene noodgevalle wat met die skool verband hou.

Balans is die sleutel, so verseker dat jou geldsake in orde is.
Ester Ochse van FNB

Jou eetgewoontes

As een van jou voornemens is om gewig te verloor, besef jy reeds kitskos is taboe. Maar ’n mens raak besig by die werk en kom moeg by die huis – dan is jy nie altyd lus om ’n gesonde maaltyd aanmekaar te slaan nie.

Ochse beveel aan dat jy ’n paar uur op ’n Sondag opsy sit om maaltye vir die week te beplan en te berei. Dit beteken jy gaan met ’n lysie winkel toe.

“Dit sal lei tot besparings omdat jy koop wat jy nodig het, pleks daarvan om kos te koop wat jy nié nodig het nie – wat dan tot onnodige vermorsing lei.”

Ochse sê dis dalk selfs die geld werd om vir ’n paar kooklesse te betaal as dit jou sal aanmoedig om self kos te maak.

Gaan soek ook ’n paar vars wenke op Instagram, Facebook of YouTube of op kosprogramme op televisie. Die meeste bekende sjefs het ’n Insta-profiel of YouTube-kanaal.

Om gesonde maaltye vir jou en jou gesin te kook sal almal gesonder maak.

Onthou ook dat kos kook groot pret en lekker geselstyd in die kombuis kan wees – dit hoef nie ma of pa te wees wat haar- of homself alleen voor die stoof afsloof nie!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.