Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
2021 bring baie pyn vir jou beursie

As jy nog nie ná 2020 se Covid-19-wipwarit jou finansiële gordel stywer getrek het nie, is dit nou die tyd om dit te doen – al is dit net omdat die petrol- en dieselprys vanjaar waarskynlik skerp gaan styg.

2021 gaan ’n moeilike jaar vir jou sak wees. Foto: Pixabay

Dis kwalik wat jy wil hoor net twee dae nadat petrol met 81c per liter en diesel met 58c (0,05% swael) of 59c (0,005% swael) per liter duurder geword het. (Sien ook grafika hieronder.)

Maar intussen het die prys van Brent-ruolie die hoogste vlak in meer as ’n jaar gehaal toe dit Donderdag tot meer as $60 per vat gestyg het. Brent, die grondbestanddeel vir die Suid-Afrikaanse brandstof, styg nou al sedert einde Oktober skerp, maar die effens sterker rand einde verlede jaar het die eerste styging in die petrolprys tot Januarie uitgestel.

Volgens die ekonoom Dawie Roodt van die Efficient Group beskerm die sterker rand Suid-Afrikaners tans steeds, anders sou brandstof nou selfs duurder gewees het.

Roodt verwag dat Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede op 24 Februarie skerp stygings in die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefondsheffing gaan aankondig.

“Daarby verwag ek dat die rand gaan verswak, wat pryse selfs verder gaan opdruk. Ons is in vir nogal baie duur petrol.”

Neil Roets, uitvoerende hoof van die skuldberadingsfirma Debt Rescue, sê mense moet onthou dat stygende brandstofpryse die hele verskaffingsketting van goedere en dienste beïnvloed. Hy beskryf dis as “momentum vir ’n stygende golf wat verbruikers negatief raak”.

Werkloosheid het in 2020 skerp gestyg soos ondernemings in onder meer die gasvryheids- en drankbedryf deur die inperking verlam is.

Die koste van ’n buskaartjie of taxirit gaan waarskynlik ook styg, wat dit vir miljoene Suid-Afrikaners duurder gaan maak om by die werk te kom of werk te soek.

Roets wys daarop dat tot 30% van Suid-Afrikaners kos op skuld moet koop, volgens Old Mutual se Spaar- en Beleggingsmonitor. Baie daarvan is op kredietkaarte of met betaaldaglenings, wat selfs te midde van rekordlae rentekoerse hoë rentekoerse het.

“Dit het langtermyngevolge weens die skerp rentekoerse wat dit vra, wat mense se skuldprobleme vererger.”

Roets sê verbruikers moet proaktiewe stappe doen om hulself vanjaar te beskerm. Hulle moet so min as moontlik op krediet staatmaak, oorslaan na goedkoper handelsname en in die algemeen op nie-noodsaaklike uitgawes besnoei.

“Teen die agtergrond van stygende brandstofkoste is dit in dié baie moeilike tye kritiek dat mense ’n meer spaarsamige lewenstyl aankweek. Niemand weet hoe lank ons met dié pandemie, wat reeds soveel verwoesting gesaai het, sal moet saamleef nie.”

Wat jy in Maart, April by die pomp kan verwag

Die onderverhaling vir die eerste drie dae van die oorsigmaand vir Maart se brandstofpryse is reeds meer as 70c per liter vir 95-oktaan en 60c vir 93-oktaan.

Stygings tot dusver vanjaar


Petrol het in Januarie met 40c (95-oktaan) en 43c (93-oktaan) per liter duurder geword, wat die totale styging vir 2021 reeds op R1,21 (95-oktaan) en R1,24 (93-oktaan) per liter te staan bring.

Diesel het in Januarie met 55c (0,05% swael) en 54c (0,005% swael) duurder geword, wat die totale styging vir 2021 vir albei grade op R1,13 te staan bring. Die stygings is vir die groothandelprys van diesel omdat die prys wat motoriste by vulstasies betaal, nie gereguleer word soos met die petrolprys nie.

Die oorverhaling, wat daagliks bereken word, kan daal indien oliepryse stabiliseer of die rand versterk of oliepryse aanhou styg en die rand verswak.

Die onderverhaling is met hoeveel pryse sal moet styg om brandstofmaatskappye te vergoed vir die feit dat hulle nou meer vir brandstof op die ope mark as die vasgestelde prys vir Februarie betaal.

Die onderverhaling word deur twee faktore bepaal – internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers.

Benewens die onderverhaling kan die regering ook genoodsaak word om ’n balansheffing op die brandstofpryse in te stel weens die afgelope maande se skerp stygings. Dis al bykomende onsekerheid vir Maart.

In April word die stygings in heffings wat Mboweni in sy begrotingsrede aankondig, van krag.

k

Ander faktore om in ag te neem as jy jou begroting uitwerk

  • Belasting: Nuwe of hoër belastings kan vanaf Maart geld, hoewel nie alle ontleders saamstem dat Mboweni midde-in die pandemie en gepaardgaande druk op die ekonomie belasting skerp sal verhoog nie. Jy sal beslis meer vir jou bier, wyn en sigarette betaal en die tesourie kan dalk besluit om belastingkerwe nie met die inflasiekoers aan te pas nie, wat beteken mense wat verhogings kry, kan in ’n hoër kerf ingestoot word en dus meer belasting betaal.
  • Kospryse: Daar is algemene konsensus dat kosprysinflasie aan die styg is. Veral vleis, kookolie, suiker, brood en mieliemeel word op die oomblik vinnig duurder – dus stapelvoedsel in die meeste huishoudings. Kospryse styg tans gemiddeld met 6%, amper dubbeld die algemene inflasiekoers van 3,1%.
  • Kragtariewe: Verskeie hofsake en prosesse is tussen Eskom en die Nasionale Energiereguleerder aan die gang wat kan meebring dat krag vanjaar met tot 15% duurder kan word.
k
Meer oor:  Debt Rescue  |  Neil Roets  |  Dawie Roodt  |  Skuld  |  Krediet  |  Lenings  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel  |  Begroting  |  Finansiële Beplanning  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.