Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
23 wenke om geld te spaar met petrol, vervoer

As jy lus voel om jou duvet oor jou kop te trek oor die nuus dat die petrolprys Woensdag met nagenoeg R1,26 per liter duurder word, ons is met jou. Kom ons bou sommer ’n tenthuis van komberse en bly daar vir die res van die jaar!

  

paaie, reis
Om die langpad aan te durf, raak al hoe duurder... Foto: Unsplash

Dis nie dat petrol die duurste word wat dit nóg was nie – dit was in Oktober en November 2018 duurder – maar die styging kom terwyl kos, krag en alle ander uitgawes ook skerp aan die styg is. En dis vir baie min mense nou verhogingstyd!

Om die pyn te probeer verlig, het ons al die wenke wat ons al ontvang het om petrol te bespaar, asook vervoerkoste in die algemeen, weer saamgestel.

Volgens Statistieke Suid-Afrika slurp vervoerkoste ’n gemiddeld van 14% van verbruikers se besteebare inkomste op. Dit maak vervoer die derde grootste uitgawe van verbruikers. Behuising (25%) en kos (17%) is die twee grootste uitgawes.

As ’n mens dus op vervoer kan bespaar, kan jy heelwat geld laat loskom wat jy kan gebruik om skuld af te betaal, te belê of dalk net te oorleef.

Die slegte nuus is: Jy ken dalk baie van die wenke hieronder reeds en pas dalk selfs heelwat daarvan toe.

Nog slegte nuus: Om werklik diep besparings aan jou vervoerkoste te bewerkstellig, sal jy ’n groot kopskuif moet maak. Jy sal dalk openbare vervoer of minstens ’n saamryklub moet oorweeg. Maar elkeen van dié opsies het voordele benewens die geld wat jy bespaar.

  

1. Die oggendstond het goud in die mond

  

Maak jou motor se tenk vroegdag vol, of anders laat in die aand. Petroleumprodukte sit uit wanneer dit warm word, so weens die uitsetting kry jy op ’n warm somermiddag minder brandstof vir jou geld as vroegoggend.

  

2. Bestuur soos jou oupa, nie soos Giniel de Villiers nie

  

Hoe vinniger jy ry, hoe meer brandstof gebruik jy. HowStuffWorks skryf as jy ongeveer 90 km/h ry, gebruik jy 15% minder brandstof as sou jy net oor die 100 km/h ry.

As jy in dorpsgebiede by die spoedgrens hou, gaan jy nie net brandstof bespaar nie, jy gaan ook nie boetes kry nie.

Eweredige versnelling en die lees van verkeersomstandighede kan jou help om jou spoed aan te pas, wat op lange duur jou brandstofverbruik beïnvloed.

Skakel ook na die hoogste rat oor eerder as om in die laagste rat te ry, en skakel op die korrekte oomblik na ’n hoër rat oor – teen 2 500 revolusies per minuut vir petrolenjins en teen 2 000 revolusies per minuut vir dieselenjins.

  

3. Gebruik openbare vervoer

  

Alle trein- en busdienste is dalk nie landwyd op peil nie, maar openbare vervoer is aansienlik goedkoper as brandstof.

Daar is altyd ’n verskoning waarom jy nie bus of trein kan ry nie, maar die grootste verskoning is waarskynlik dat jy gemaksugtig is.

As jy nie gereed is om die groot sprong te neem en elke dag te pendel nie, gebruik dan twee dae per week openbare vervoer.

   

4. Begin ’n saamryklub

  

Natuurlik is dit nie so gerieflik as om op jou eie te ry op ’n tyd wat jou pas nie. As jy in ’n saamryklub is, moet jy aanpassings maak aan jou skedule en op iemand anders se stiptelikheid staatmaak.

Maar al laai jy selfs net een mens op, halveer jy jou petrolgeld; as julle motors om die week ruil, bespaar jy aan slytasie op jou motor ook.

En dink net aan die lekker geselsies op pad wat jou sal help om geduldig te bly in die spitsverkeer.

  

5. Benut lojaliteitsprogramme slim

Verbruikers het nou reeds ’n hand vol lojaliteitskaarte waarmee hulle óf afslag op brandstof óf punte vir kruideniers- of toiletware kan verdien. Dit sluit in:

  • Discovery by BP en Shell
  • Clicks by Shell
  • Dis-Chem by Total
  • Standard Bank se UCount by Caltex
  • FNB se eBucks by Engen
  • Absa by Sasol

    

6. Maak die dakrak en kattebak leeg

    

Moenie met jou kajak of fiets op die dak ry nie – dit skep windweerstand, wat brandstofverbruik verhoog.

Moet ook nie onnodig met swaar toerusting (ons praat van 50 kg of meer wat ’n beduidende impak kan hê op brandstofverbruik) in jou motor ry nie.

  

7. Lugreëling of vensters?

  

HowStuffWorks skryf lugreëling gebruik minder brandstof as oop vensters as jy vinnig ry. As jy kan, bestuur met oop vensters in die dorp of stad, waar jy stadiger ry, en met toe vensters – met lugreëling indien nodig – op die snelweg.

  

8. Diens jou motor

  

As ’n mens in ’n romantiese verhouding is, koel die liefde baie gou af wanneer maats mekaar afskeep.

Jou verhouding met jou vierwielvennoot werk nie anders nie. As jy nog lank gelukkig getroud met jou tjorrie wil wees, pas hom op en hy sal jou beloon met beter brandstofverbruik.

Dit kos wel baie geld om jou motor te laat diens, maar moenie ’n diens mis nie.

’n Enjin wat korrek ingestel is, goeie smeermiddels en ’n teenvriesmiddel vir verkoeling (dit help die enjin om vinniger werkstemperatuur te bereik) en skoon olie- en lugfilters het, is maar ’n paar dinge wat ’n verskil kan maak aan brandstofverbruik.

’n Motor wat goed onderhou word, is boonop veiliger. Dit sal keer dat jou motor dalk onverwags langs die pad onklaar raak, wat baie ongerief en ander koste kan meebring – soos ’n insleepdiens en motorhuur.

  

9. Bande, bande, bande

  

Hoe papper jou motor se bande is, hoe meer brandstof gebruik hy. Kyk dikwels of jou motor se bande se druk nog reg is.

Pap bande veroorsaak hoër brandstofverbruik.

Onthou om die petroljoggie te vra of daar een of meer band is wat papper is as ’n ander. Só kan jy terselfdertyd sommer monitor of daar ’n band is wat dalk ’n stadige lekkasie het.

Hoewel ’n effens harder band selfs meer brandstof kan bespaar, moet bande ook nie te hard wees nie. Dit kan skade aan die band veroorsaak en dit selfs laat bars, wat op sy beurt ’n ongeluk kan veroorsaak. Hou dus by die voorskrif van jou motorvervaardiger.

En onthou om die bande eerder eerste ding in die dag te laat oppomp, nie nadat jy hulle reeds warm gery het nie.

  

10. Ry buite spitstyd

  

Ry buite spitstyd sodat jy nie heeltyd staan-en-ry nie. As jy fleksietyd kan werk, minstens sommige dae van die week, kan jy ’n paar druppels brandstof bespaar.

Ander opsies is om spitstyd mis te loop deur vroegoggend in te gaan of tot ná spitstyd te werk – gaan gim dalk ’n bietjie voor of ná werk.

   

11. Nuwe motors vra minder sous

   

Luidens data van die navorsingsfirma Lightstone het nuwe voertuie oor die afgelope drie dekades brandstof heelwat meer ekonomies begin verbruik.

Drie dekades gelede was die geweegde gemiddelde brandstofverbruik van passasiersvoertuie 7,19 liter/100 km. In Augustus 2016 was dit 5,83 liter/100 km.

Dit beteken dat ’n mens dit ernstig kan oorweeg om ’n ouer motor wat minder brandstofdoeltreffend is, vir ’n nuwe een in te ruil – veral as jy beplan om die motor vir ’n lang tyd te gebruik.

  

12. Oorweeg ’n dieselvoertuig

  

Dit is so dat diesel meer kilometer op ’n liter gee as ’n ooreenstemmende petrolvoertuig. Maar gaan maak eers mooi die sommetjie oor die aankoopprys of as dit ’n gebruikte kopie is, wat versienings aan onderskeidelik ’n diesel- en ’n petrolvoertuig kos. Praat met kundiges voordat jy besluit.

  

13. Verkoop jou gesin se tweede (of derde) motor

  

Dis ’n drastiese stap, maar dit is nié onmoontlik nie. Al hoe meer gesinne kom met een voertuig oor die weg. Dit verg ’n bietjie beplanning om ritte te kombineer, maar die besparing is enorm – nie net ’n motorpaaiement as jy nog die motor afbetaal het nie, maar ook aan versekering, onderhoud, parkering en brandstof.

  

14. Skaal af

  

Wees maar eerlik: Daardie nuwe sportnutsvoertuig of luukse sportmotor is ’n statussimbool. ’n Gebruikte motor sal jou ewe doeltreffend (en selfs meer brandstofdoeltreffend) van punt A na punt B kry.

Dink mooi voordat jy ’n nuwe motor koop. Besluit eers of jy nie nog ’n paar jaar kan wag nie en kies dan ’n kleiner motor, eerder as ’n groot wa wat baie brandstof opslurp.

Verkoop jou duur motor en koop ’n kleiner motor (nuut of tweedehands).

  

15. Beplan jou roetes

  

Probeer om nooit twee keer te ry as jy twee vlieë met een klap sou kon slaan nie.

Pleks van huis toe ry, besef die brood is op en weer in die motor te klim om kafee toe te ry, beplan jou dag beter sodat jy op pad huis toe net kan stilhou by die winkel.

Dis deesdae glad nie moeilik om boek te hou van jou ritte nie omdat ’n mens net ’n toepassing (app) daarvoor kan aflaai.

’n App soos FillApp hou jou boonop op die hoogte as die brandstofprys verander en help jou beplan wanneer om jou tenk vol te maak om die beste waarde vir jou geld te kry of jy kan ’n logboek probeer.

  

16. Stap of ry fiets vir kort afstande

    

marelize
Jy kan mos darem bester fietsry as Marelize, of hoe? Foto: Verskaf aan News24

As die kafee net om die hoek is en jy net ’n brood nodig het, kan jy gerus maar stap! En stof jou fiets gerus af as jy naby die werk woon.

  

17. Besit jou motor langer

  

Moenie net jou motor afbetaal en dan ’n nuwe een koop nie – probeer ’n motor minstens sewe jaar ry voordat jy dit vervang en verkieslik 12 jaar. Doen maar die somme. Party motors begin groot en duur herstelwerk nodig kry op sewe jaar, wat vervanging dalk kan regverdig.

Om ’n ander motor te koop, moet nooit deur ego, status of begeerte aangedryf word nie; dit moet ’n rasionele besluit wees wat die voordele van ’n afbetaalde motor opgeweeg teen die voordeel van een wat min onderhoud verg.

  

18. Betaal jou motor vinniger af

  

Indien jy ’n nuwe motor koop (of gekoop het), betaal dit oor die kortste moontlike tyd af, al laat die paaiement dalk jou oë traan. Jy kan, nes met jou huisverband, ook meer inbetaal elke maand en só die paaiement of die afbetalingstyd verminder. Indien die rentekoers byvoorbeeld daal (nie dat daar binnekort so ’n moontlikheid bestaan nie), probeer jou paaiement onveranderd hou.

Bly terloops weg van ballonpaaiemente, wat jou eintlik maar net dwing om elke paar jaar ’n nuwe motor te koop. As jy nie die paaiement kan bekostig om die motor ná vyf jaar te besit nie, moet jy ’n goedkoper motor koop.

  

19. Gaan jou versekering na

  

Motorversekering lei tot die heel meeste klagtes by die ombud vir korttermynversekering – hoofsaaklik omdat mense nie moeite doen om hul kontrak te verstaan nie.

Gaan jaarliks deur jou polis en vra vergelykende kwotasies om te kyk of jou premie nog mededingend is.

Moenie net die goedkoopste versekering kies nie, maar praat met jou versekeraar oor maniere om jou premie te verlaag:

  • Jy kan die bybetaling verhoog in ruil vir ’n laer premie, maar dan moet jy weet wat jy gaan opdok in die geval van ’n motorongeluk.
  • Bloot deur ’n opspoortoestel te laat installeer, kan jy jou premie laat daal.
  • Maak ook seker jou motor is snags agter slot en grendel en bedags in ’n veilige parkeergebied.
  • Maak seker jy is nie onwetend dubbeld verseker nie. Het jou motorversekering ’n bystand- of wegsleepdiens? Dan het jy seker nie jou jaarlikse AA-lidmaatskap nodig nie – of andersom, as jy AA-lidmaatskap het, moenie ekstra betaal vir insleep- of bystanddienste nie.
  • Motorversekering kom soms met baie “ekstras” wat dalk nie nodig is nie – soos dekking teen skrape, ’n huurmotor as jou motor beskadig word en dekking vir instandhouding. As jy dit laat vaar, behoort jou premie heelwat te daal.
  • As jy ’n ou skedonk ry, kan jy dit oorweeg om die dekking teen diefstal of ongelukke te kanselleer, maar moet nooit derdepartyversekering kanselleer nie – jy is verantwoordelik vir die skade aan iemand anders se motor in geval van ’n ongeluk.
  • Die heel duurste fout wat jy met versekering kan maak, is as jy elke maand getrou betaal, maar die eis nie uitbetaal word nie. Dit kan gebeur as jou motor nie padwaardig gehou word nie, as jy nie eerlik was oor wie die motor bestuur nie of as jy die wet oortree (soos deur onder die invloed van alkohol te bestuur). Onthou dat ’n eis afgekeur kan word vir iets wat jy dalk as onbelangrik beskou – soos verslete bande of ruitveërs wat nie werk nie.

  

20. Vind uit wat ’n taxi sal kos

   

Die minderheid mense het nou nog nie ’n Uber of Bolt (tot onlangs Taxify) bestel nie. Dié taxi-apps is egter nie die begin en einde van taxi’s nie. Daar is “gewone” metertaxi’s en minibustaxi’s vir dié wat “straatslim” genoeg is daarvoor.

Hoe weet jy wat beskikbaar is vir die roete wat jy wil ry, en boonop wat die goedkoopste is? Probeer RideGuru, ’n webwerf en app wat al die beskikbare taxidienste vir jou gekose roete aandui, met die pryse daarby.

Indien jy naby die werk woon, kan jy werklik spaar deur eerder ’n taxi as jou motor te gebruik. Uber het ’n paar jaar gelede selfs navorsing gefinansier wat bewys dat dit goedkoper kan wees om permanent te Uber as om ’n motor te besit – die groot voorwaarde is natuurlik dat jy minder as 50 km per dag moet ry.

  

21. Parkeer vir minder

  

Parkeer wanneer jy kan, maar op ’n oop parkeerplek, al reën dit of al raak die motor in die somer warm. Jy sal oorleef! Jy kan die karwag ietsie gee, maar dit sal waarskynlik minder wees as wat die parkade jou sal kos.

Beplan jou ritte met parkeerplek in gedagte. Wees ook maar bereid om eerder ’n entjie te stap as om reg voor die deur op die duur parkeerplek te staan.

  

22. Moenie jou logboek afskeep nie

  

Mense wat vlootmotors ry of hul brandstofkoste van hul werkgewer of die Suid-Afrikaanse Inkomstediens terugeis, moet noukeurig boekhou van hul ritte.

  

23. Vermy tolpaaie, indien moontlik en wanneer dit sin maak

  

Ons weet, ons weet – tolgeld is ’n erg omstrede onderwerp en veral Gautengers kan kwalik tolpaaie vermy. As jy egter die langpad vat, vind uit of daar ’n alternatiewe roete is en hoeveel langer dit is (dus hoeveel meer brandstof jy sal gebruik). Tolpaaie is gewoonlik altyd vinniger, so die koste van jou tyd is ook deel van jou somme.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Petrolprys  |  Brandstofpryse  |  Motors  |  Motorversekering  |  Brandstof  |  Diesel  |  Spaar  |  Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2022,02 (2371)
  • Top 40 52279,5 (-48145)
  • All Share 58343,23 (-41278)
  • Resource 10 47992,62 (2829)
  • Financial and Industrial 30 77622,49 (-98071)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.