Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
40% kan net ’n maand sonder salaris staande bly
A vendor counts out rand banknotes while working i
Baie Suid-Afrikaners is weens die Covid-19-pandemie agterstallig met hul finansiële verpligtinge. Foto: Getty Images

Die resessie en Covid-19-krisis was soos ’n aardbewing onder ’n reeds bouvallige huis as dit by die toestand van verbruikers se geldsake kom.

Die persentasie Suid-Afrikaners wat agterstallig is met hul finansiële verpligtinge het die afgelope ruk die hoogte ingeskiet.

Volgens Old Mutual se jaarlikse Spaar-en-beleggingsmonitor is 26% van verbruikers agterstallig met hul huur of huisverband (teenoor 7% verlede jaar). Daarby is byna dubbeld soveel mense, 36%, agterstallig met hul kredietkaartbetalings (15% in 2019) en 42% is agterstallig met die betaling van winkelkaarte (teenoor 32% verlede jaar).

Die fokus van vanjaar se Spaar-en-beleggingsmonitor is uiteraard die impak van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperking op mense se inkomste, spaargeld en besteding. Dis uitgereik net ’n dag nadat die omvattende Nids-Cram-studies, wat 30 akademici landwyd gedoen het, getoon het drie miljoen mense het net in April hul werk verloor, en 47% van Suid-Afrikaners het in dié maand nie genoeg geld vir kos gehad nie.

verbruikers

Old Mutual het nagenoeg 1 500 mense tussen 29 Mei en 23 Junie gepeil. Dit was dus toe Suid-Afrika vanaf vlak 4 na vlak 3, wat self ook geleidelik verlig is, beweeg het, maar voordat dit weer op 12 Julie strenger geword het.

Volgens Izak Odendaal, beleggingstrateeg van Old Mutual, was daar wel mense wat vanjaar “onwillekeurig” moes spaar – hulle kon weens die inperking nie geld bestee wat hulle vantevore bestee het nie (of wou nie winkel toe gaan nie).

Aan die ander kant het verreweg die meerderheid mense (57%) se inkomste egter gedaal en het hulle minder geld gehad om te bestee. Die mense wie se inkomste met die meeste gedaal het, was juis dié wat die minste verdien het: 47% van mense wat R5 000 tot R9 999 per maand verdien het, het meer as die helfte van hul inkomste verloor, teenoor tussen 9% en 18% van alle ander inkomstegroepe.

verbruikers

Baie meer mense moes ook ekstra monde voer, met 52% van mense wat nou ’n volwasse afhanklike het benewens hul lewensmaat (43% in 2019) en 42% wat nou sê dat hulle in die toebroodjie-generasie is (teenoor 34% in 2019). Dis ’n verwysing na mense wat na sowel hul kinders as ouers of selfs grootouers omsien.

Die afgelope vyf jaar was daar ’n styging van 17 persentasiepunte in die persentasie mense met volwasse afhanklikes en van 25 persentasiepunte in dié wat van twee kante onder druk is.

Die gevolg van al dié faktore was dat mense vanjaar diep in hul reserwes gedelf het én meer skuld aangegaan het. Agterstallige skuld het ook skerp toegeneem.

verbruikers

Die uiteinde: 48% van Suid-Afrikaners sê hulle is nou finansieel in ’n swakker posisie as verlede jaar.

Die meeste Suid-Afrikaners se reserwes is nou gedaan, met 40% wat vanjaar gesê het hulle sal ’n maand of korter kan oorleef as hulle nou hul werk verloor. Net 27% sal meer as drie maande kan oorleef, bes moontlik dié wat darem ’n pensioenfonds het om op terug te val. Verlede jaar het 28% gesê hulle sal net ’n maand kan oorleef en 38% sou langer as drie maande kon oorleef.

verbruikers

’n Hele 52% van mense het spaargeld gebruik, 37% het agterstallig geraak met huishoudelike rekeninge en 23% het spaarpolisse laat uitbetaal. Vanjaar is mense ook gevra of hulle lojaliteitsprogramme inspan om hul begroting te laat klop, en 54% het “ja” geantwoord.

43% van verbruikers het nou persoonlike lenings by banke, teenoor 21% in 2019; 19% het geld by familielede of vriende geleen (2019: 13%) en 12% het by mikroleners aangeklop (2019: 5%).

Besteding

Nicholson sê mense se bestedingsprioriteite het wel weens die inperking verander.

Baie mense dui nou sigarette, drank, DStv en stromingsdienste soos Netflix, Spotify en Amazon Prime, asook die e-taxidienste Uber en Bolt, as “prioriteitsluukses” aan waarop hulle eerste geld sal bestee as noodsaaklike dinge soos kos, vervoer, opvoeding, verblyf en hul mediese fonds betaal is.

verbruikers
verbruikers

Mense wonder nou of ’n maandelikse haarsny noodsaaklik is – Lynette Nicholson, Old Mutual se navorsingshoof, sê baie het agtergekom dit kan minder gereeld gedoen word of manlief is tevrede met hoe sy wederhelfte dit tydens die inperking gedoen het. Baie mense wat noodgedwonge sonder hul huiswerker of kinderoppasser moes klaarkom, oorweeg dit om dié dienste te beëindig of minder te gebruik.

Vakansies, uiteet, kitskos en om vriende oor te nooi vir ete is nou op die lys dinge wat laaste gaan kom wanneer mense hul sente moet omdraai.

Odendaal sê weens die verandering in mense se ingesteldheid, en hul voortslepende vrees om Covid-19 op te doen, gaan die ekonomie nie net terugbons na waar dit voor die inperking was nie. Mense gaan nie noodwendig net weer op ’n vliegtuig spring om vakansie te gaan hou nie en baie mense is steeds huiwerig om te gaan uiteet.

Al dié veranderinge gaan ’n enorme invloed op indiensneming en die ekonomie as geheel hê.

Vooruitsig vir die toekoms

Toe mense gevra is hoe hulle dink hul finansiële situasie oor die volgende ses maande daar sal uitsien, het 53% gesê hulle reken dit gaan verbeter. Nicholson sê dis nie noodwendig ’n teken van oormatige optimisme nie – dit weerspieël dalk dat die meerderheid mense regtig nie dink dit kan enigsins slegter met hulle gaan nie.

Daar was wel 21% wat tog nog pessimisties was en glo hul geldsake gaan verswak.

Die res – 26% – het geen verandering in hul geldsake verwag nie, wat ook nie noodwendig ’n goeie ding is as jy in ’n lekkende boot is nie.

verbruikers

verbruikers
verbruikers

Meer oor:  Old Mutual  |  Izak Odendaal  |  Covid-19  |  Salaris
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.