Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
8 (nuwe) wenke om petrol te bespaar

Met ’n petrolprys wat skynbaar nie brieke het nie, raak Suid-Afrikaanse motoriste se beursies net so leeg soos die petroltenk voor betaaldag. Hoewel ons nie beheer oor die prys het nie, is daar tog ’n paar maniere waarop ons minder van dié duur sous kan gebruik.

Hier is vyf wenke wat jou kan help brandstof bespaar en die gat in jou maandelikse begroting help vul. Dit kom terwyl ons nog wag om te hoor wat die styging in brandstofpryse in Oktober gaan wees - in die omgewing van R1 per liter vir petrol en R1,24 vir diesel word verwag. 

Om jou motor te vul, tap jou beursie! Grafika: iStock

1. Wat jy meet, kan jy weet

Mense wat vlootmotors ry of hul brandstofkoste van hul werkgewer terugeis, hou noukeurig boek van hul ritte. Dit is iets wat elkeen van ons gerus kan oorweeg, want dan kan jy ritte doeltreffender beplan. ’n Mens bespaar byvoorbeeld brandstof as jy jou ritte só beplan dat jy spitsverkeer vermy as dit moontlik is omdat baie brandstof met elke wegtrekslag verbruik word.

Behoorlike ritbeplanning help ook dat ’n mens nie onnodige ritte aanpak om net gou ’n bottel koeldrank by die supermark te gaan koop nie.

Dis deesdae glad nie moeilik om boek te hou van jou ritte nie omdat ’n mens net ’n toepassing (app) daarvoor kan aflaai.

’n App soos FillApp hou jou boonop op die hoogte as die brandstofprys verander en help jou beplan wanneer om jou tenk vol te maak om die beste waarde vir jou geld te kry of jy kan logboek probeer.

2. Jou versekeraar help jou brandstof bespaar

Ons weet almal hoe stadiger en versigtiger jy met die petrolpedaal omgaan, hoe verder rek die petrol in jou tenk.

Kenners is dit eens dit is waar ons die meeste besparing kan kry – deur bloot beter bestuurgewoontes aan te leer. Jaag jy, versnel jy hard, rem jy skerp, vlieg jy om draaie? Hou dadelik op, jy is nie net ’n gevaar vir ander motoriste en jou versekeraar nie, maar ook vir jou eie beursie.

  • Eweredige versnelling en die lees van verkeersomstandighede kan jou help om jou spoed aan te pas, wat op die lange duur jou brandstofverbruik beïnvloed.
  • Skakel ook na die hoogste rat oor eerder as om in die laagste rat te ry, en skakel op die korrekte oomblik na ’n hoër rat oor – teen 2 500 revolusies per minuut vir petrolenjins en teen 2 000 revolusies per minuut vir dieselenjins.

Maar hoe motiveer ’n mens jouself om slegte rygewoontes te verander? Die meeste versekeraars het deesdae laer versekeringspremies vir bestuurders wat ordentlik ry en dis die moeite werd om oor te skakel na so ’n premie.

Nie net bespaar jy brandstof nie, jy kan met verloop van tyd heelwat op jou versekering bespaar. 

Kollega Elvira Wood, wat ’n lid van Vitality Insure is, het ’n maand gelede ’n hele tenk brandstof verniet gekry danksy haar versigtige rygewoontes.

“Dit was afgesien van die maandelikse terugbetaling van ’n gedeelte van die brandstof wat by Shell of BP ingegooi word.”

3. Hou jou motor gelukkig

As ’n mens in ’n romantiese verhouding is, koel die liefde baie gou af wanneer maats mekaar afskeep of nie behoeftes in ag neem nie.

Jou verhouding met jou vierwielvennoot werk nie anders nie. As jy nog lank gelukkig getroud met jou tjorrie wil wees, pas hom op en hy sal jou beloon met beter brandstofverbruik. Só werk dit:

  • Banddruk moet minstens weekliks nagegaan moet word wanneer die bande nog koud is. Bande wat te lae druk het (te pap), het ’n groter rolweerstand wat meer energie van die enjin verg en dus meer brandstof gebruik. Dis boonop gevaarlik ook.
  • Die motor se lugfilter moet gereeld vervang word. ’n Vuil lugfilter is een van die grootste faktore wat hoër brandstofverbruik veroorsaak.
  • Dieselfde geld die petrolfilter.

  • Sorg dat jou voertuig gereeld versien word. ’n Enjin wat korrek ingestel is, goeie smeermiddels en ’n teenvriesmiddel vir verkoeling (dit help die enjin om vinniger werkstemperatuur te bereik) het, is maar ’n paar dinge wat ’n verskil kan maak.
  • Onnodige bagasie in ’n voertuig kan ook ’n rol speel, aangesien gewig ’n groot vyand van goeie brandstofverbruik is.

4. Gebruik daardie lojaliteitskaart

Ons beursies se nate trek deesdae uitmekaar van al die lojaliteitskaarte wat ons daarin dra. Die voordele om daardie kaart te laat skandeer wanneer jy die tenk vol maak, kan die moeite werd wees. Edcon se Thank U bied tot 15c per liter wanneer jy by brandstof by Engen ingooi terwyl die Clicks ClubCard en Dis-Chem se lojaliteitskaart jou die ekwivalent van 10c per liter in die sak kan bring.

Banke bied ook belonings aan gegrond op jou brandstofaan­kope. FNB was hier die baanbreker toe hy in 2010 brandstofaankope met eBucks begin beloon het, maar Absa en Standard Bank het gou gevolg met hul Absa Rewards en uCount-program.

Discovery se kredietkaart bied ook belonings vir brandstof. Die besparings lyk heel skaflik. As deel van Standard Bank se uCount-program kan klante byvoorbeeld tussen 20c en 50c per liter terugkry as hulle hul debiet- of kredietkaart by Caltex vir brandstof gebruik.

5. Die oggendstond het goud in die mond

Maak jou motor se tenk vroegdag vol, of anders laat in die aand. Kundiges verduidelik petroleumprodukte sit uit wanneer dit warm word, so weens die uitsetting kry jy op ’n warm somersmiddag minder brandstof vir jou geld.

As jy vroeg in die oggend volmaak, het die brandstof in die vulstasie se opgaartenk reeds vir tussen agt en nege uur afgekoel en is dit digter.

6. Hoe meer siele, hoe meer (petrol)vreugde

Saamryklubs is nie altyd prakties nie, maar as jy selfs net een dag per week se ryery kan uitskakel, kan dit jou en jou beursie baat.

As ’n mens in ’n romantiese verhouding is, koel die liefde baie gou af wanneer maats mekaar afskeep of nie behoeftes in ag neem nie. Jou verhouding met jou vierwielvennoot werk nie anders nie.

Dit verg ’n kopskuif, maar daar is meer voordele as net die geld wat jy aan brandstof bespaar. Jou motor se slytasie is minder en so ook die stres om daagliks die verkeer agter die stuurwiel aan te durf.

Dis boonop ’n omgewingsvriendeliker manier om te reis en as ons almal dit doen, sal verkeersknope heelwat minder word.

As jy nie kans sien vir ’n saamrygroepie nie, oorweeg gerus alternatiewe soos Uber, die Gautrein of MyCiti. 

Weer eens moet ’n mens jou somme maak en alle faktore opweeg. Hoe duurder brandstof raak (en oorsee word gefluister dat die ruolieprys op pad is na $100 per vat) hoe meer gaan alternatiewe soos treinvervoer  sakesin maak. Dis net ’n jammerte nie almal van ons het dié opsie tot ons beskikking nie.

Oorweeg egter om korter afstande per fiets of per voet af te lê, waar dit veilig gedoen kan word.

   

7. Groter is nie altyd beter nie

’n Mens sal in hierdie tye mooi moet besin oor ’n groot petrolslurper. As jou persoonlike omstandighede dit toelaat om daagliks ’n kleiner, brandstofdoeltreffende motor te gebruik, maak dit eenvoudig meer sin.

As jou motor diesel gebruik, kyk rond vir die goedkoopste voertuig, maar wees versigtig as die prys te goed lyk om waar te wees, want dan is die gehalte dalk nie na wense nie.

Dit is so dat diesel meer kilometer op ’n liter gee as ’n ooreenstemmende petrolvoertuig. Maar gaan maak eers mooi die sommetjie oor die aankoopprys of as dit ’n gebruikte kopie is, wat versienings aan onderskeidelik ’n diesel- en ’n petrolvoertuig kos. Praat met kundiges voordat jy besluit.

    

8. Nuwe motors vra minder sous

Luidens data van die navorsings­firma Lightstone het nuwe voertuie oor die afgelope drie dekades brandstof heelwat meer ekonomies begin verbruik.

Drie dekades gelede was die geweegde gemiddelde brandstofverbruik van passasiersvoertuie 7,19 liter/100 km. In Augustus 2016 was dit 5,83 liter/100 km. Ligte kommersiële voertuie se gemiddelde brandstofverbruik was 10,3 liter/100 km in 2006 en in 2015 het dit tot 8,42 liter/100 km geval.

Faktore wat moontlik hiertoe kon bygedra het, sluit in die streng regulering van uitlaatgasse waaraan motorvervaardigers oorsee moet voldoen en die beskikbaarheid van skoner brandstof.

Vervaardigers het besef hoe hoër die koolstoftaks word, hoe minder wins sal hulle uiteindelik maak, dus het hulle slimmer beplan wanneer nuwe enjins ontwikkel word en meer krag tot die bestaande, kleiner enjins toegevoeg.

Die wyse waarop die brandstof in die enjin beland en hoe dit daarna verbruik word, het ook heelwat verbeter, wat dus groter brandstofdoeltreffendheid in ’n enjin verseker.

Dit alles beteken dat ’n mens dit ernstig kan oorweeg om ’n ouer motor wat minder brandstofdoeltreffend is, vir ’n nuwe een in te ruil – veral as jy beplan om die motor vir ’n lang tyd te gebruik.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Diesel  |  Spaar  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2579,48 (5818)
  • Top 40 48247,95 (-18709)
  • All Share 53995,82 (-19210)
  • Resource 10 42465,54 (-4274)
  • Financial and Industrial 30 73008,97 (-35550)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.