Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
5 wenke oor sakgeld vir jou kinders

Hoe maak jy kinders groot wat eendag finansieel op hul eie voete kan staan?

Ronald King, hoof van openbare beleid en regulatoriese sake by PSG Wealth, sê sakgeld is ’n handige stuk gereedskap om jou kinders finansieel op te voed.

Hier is vyf wenke oor hoe om sakgeld te bestuur.

  

tiener
Tieners behoort genoeg sakgeld te kry om hul eie klere te koop. Foto: Unsplash

1. Besluit wanneer, hoeveel en hoe gereeld jy sakgeld gaan gee

Begin met minder eerder as te veel.

Daar is nie ’n regte of verkeerde antwoord oor die bedrag nie. Dit gaan van die gesin se begroting en lewenspeil afhang. Maar as jy te veel sakgeld gee, leer kinders nie begroot nie.

King stel voor jy betaal sakgeld op ’n spesifieke datum elke maand, nes jy jou salaris op ’n spesifieke datum kry. Dit sal hulle leer begroot. “Jou kind sal gou besef dat geld tussen ‘betaaldae’ moet hou.”

  

2. Maak reëls – en reëls oor uitsonderings

Die reëls moet uitstippel waarvoor sakgeld alles gebruik moet word. Moet jou tieners self hul klere koop of is dit nog op jou begroting? Moet hulle hul eie selfoondata koop? Wat van fliek, skoolgesellighede en eetgoed?

Die doelwit van die sakgeld bepaal ook die bedrag wat jy dink billik is.

Ons skram dalk weg daarvan om oor geld te praat, maar deur dit te doen, kan ons help verseker dat ons kinders... van die duur foute vermy wat baie van ons maak.
Ronald King van PSG Wealth

’n Vyfjarige kry dalk net geld vir lekkergoed, maar King reken teen 10 jaar oud moet kinders hul eie fliekkaartjies, verversings en goed soos uitruilkaarte koop. 16-jariges kan meer geld kry, maar moet dan hul eie klere koop en vir vermaak betaal.

Maak ook reëls oor wat ’n buitengewone geval sal wees waarvoor hulle meer sakgeld kan vra.

As kinders se sakgeld opraak en hulle ’n voorskot op die volgende maand s’n vra, stel King voor jy verwag van hulle om dit behoorlik te motiveer.

  

3. Beloon kinders slegs vir spesiale take

Almal in ’n huisgesin behoort basiese, gereelde take te doen, soos hul eie kamer skoonmaak, skottelgoed en wasgoed was. Hiervoor moet kinders nie betaal word nie. King sê dis dalk wel ’n goeie plan om kinders te beloon vir spesiale take: “Dit gee hulle ’n sin vir verantwoordelikheid, en wys dat sekere take waardevoller is as ander. Dis belangrik dat kinders moet besef dat geld dikwels nie maklik bekombaar is nie en dat meer verdien kan word as jy die harde werk insit.”

  

4. Maak seker hulle spaar en gee ook

“Dis ’n goeie plan om riglyne te onderhandel oor hoeveel geld hulle moet spaar, bestee en aan liefdadigheid gee. As jy jou kinders kan leer om éérs te spaar, kan jy wys dat ’n bietjie ver kan gaan soos wat die uitwerking van saamgestelde opbrengs begin werk,” sê King.

Dit skep ook die gewoonte van spaar, iets wat hulle goed te staan sal kom as hulle eendag begin werk.

Hy stel voor jy besluit op ’n persentasie van sakgeld of inkomste uit deeltydse werk wat jou kinders moet spaar. King reken tieners behoort die helfte van al die ekstra geld wat hulle verdien, te spaar.

  

5. Práát oor geld

Kinders moet geleidelik geleer word hoe geld en finansiële sake werk.

“Ons skram dalk weg daarvan om oor geld te praat, maar deur dit te doen, kan ons help verseker dat ons kinders finansiële konsepte beter verstaan en van die duur foute vermy wat baie van ons maak, bloot omdat ons onvoorbereid was om met geld te werk,” sê King.

Teen 16 reken King kinders moet ’n goeie idee het van hoe die gesin se geldsake daar uitsien.

“Dis in jou hande as ouer om jou kinders oor finansiële sake in te lig, en dis ook in jou eie beste belang om dit te doen, aangesien dit julle albei uiteindelik finansieel sal bevoordeel,” sê King.

Meer oor:  Jeugdag  |  Wenke  |  5  |  Kinders En Geld  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1997,51 (1144)
  • Top 40 51565,16 (-39287)
  • All Share 57636 (-41671)
  • Resource 10 46379,94 (-9014)
  • Financial and Industrial 30 77165,34 (-80113)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.