Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
6 veranderinge aan belasting wat jou nou raak

Daar is goeie én slegte nuus in die belastingveranderinge vir 2021 wat pas amptelik finaal gepubliseer en deur pres. Cyril Ramaphosa bekragtig is.

  

Maak seker jou belastingsake is in orde, anders is probleme met Jan Taks jou voorland.
1. Emigrasie en jou aftreegeld

As jy wil emigreer, sal jy drie jaar moet wag voor jy jou Suid-Afrikaanse aftreegeld mag saamvat

Jean du Toit, prokureur en hoof van tegniese belastingsake by Tax Consulting SA, verduidelik die nasionale tesourie het aanvanklik gesê dié nuwe reël is grotendeels om valutabeheer te moderniseer.

Maar in latere konsultasies met die belastingbedryf het die tesourie laat blyk hy is bang mense misbruik die bestaande toegewing om dadelik volle toegang tot hul aftreegeld te kry deur te maak asof hulle die land wil verlaat om dan net weer later terug te keer. Die tesourie meen dis teenstrydig met sy pogings om mense aan te spoor om in Suid-Afrika te spaar en te belê.

Mense wat dus nou hul volle pensioengeld oorsee wil neem, sal nou eers moet bewys dat hulle vir die voorafgaande drie jaar buite die landsgrense gewoon en werk het en nie meer in Suid-Afrika belastingaanspreeklik is nie.

  

2. Werkplek moet beleid oor etes, ander uitgawes hê as jy wil eis

Werkgewers moet in maatskappybeleid voorskryf watter uitgawes werknemers mag eis vir etes of ander werkverwante uitgawes.

’n Eis wat jy by jou werkgewer indien vir etes en ander uitgawes soos verblyf was voorheen net belastingvry as dit vir ’n aand of meer was wat jy van die huis af weg was, maar nou kwalifiseer eise vir dag-tot-dag-uitgawes ook as belastingvry, sê Du Toit.

Dis mits jou werkgewer presies in sy maatskappybeleid uitspel watter soort eise hy vir hierdie soort uitgawes sal goedkeur.

  

3. Belastinghulp vir skool-, klasgeld val weg

Studiebeurse wat jou werkgewer aan jou of jou kind gee, mag van 1 Maart nie meer belastingvry voorsien word deurdat jy deel van jou salaris afstaan nie.

Sedert 2006 kon werknemers ’n deel van hul salaris opoffer sodat die werkgewer ’n nie-belasbare studiebeurs vir hul kinders kon gee om só onderwys meer bekostigbaar te maak.

Volgens die tesourie het ’n hele bedryf egter sedertdien ontstaan wat beursskemas aan werkgewers bemark om dié voordeel te benut. Die belastingvrystelling sal voortaan net geld as die beurse vir die publiek oop is, en as geen salaris-opoffering betrokke is nie.

  

4. Minder dae oorsee werk nodig vir vergunning

Suid-Afrikaners wat oorsee werk, hoef vir die lopende belastingjaar net 117 dae in die buiteland te gewerk het om vir belastingvrystelling vir ’n inkomste van meer as R1,25 miljoen te kwalifiseer.

Die 66 dae waarmee die perk verminder word, is weens die vlak 5- en vlak 4-inperking wat van 27 Maart tot 31 Mei geduur het en wat ’n streng reisverbod ingesluit het.

Normaalweg moet werkers meer as 183 dae in ’n belastingjaar buite die land werk om hiervoor te kwalifiseer, maar weens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkings, het die tesourie besluit om ’n tydelike toegewing te maak. Du Toit verduidelik die 66 dae waarmee die perk verminder word, is weens die vlak 5- en vlak 4-inperking wat van 27 Maart tot 31 Mei geduur het en wat ’n streng reisverbod ingesluit het.

Du Toit beklemtoon egter die toegewing is net tydelik want dit is net van toepassing op enige belastingtydperk wat eindig op 28 Februarie vanjaar.

  

5. Ramings nou geldig as jy Jan Taks ignoreer

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kan ’n beraamde aanslag vir jou uitreik as jy glad nie reageer op enige versoeke van die SAID vir inligting nie.

Volgens Du Toit spruit dié nuwe administratiewe reëling suiwer uit die hernude pogings onder Edward Kieswetter, nuwe kommissaris van die SAID, om belastingvoldoening te verbeter. Dit is veral gemik op mense wat nie veel weet oor wat in hul belastingsake aangaan nie en wat enige kennisgewings of uitreikings van die SAID bloot ignoreer.

  

6. Foute kan van jou ’n misdadiger maak

Belastingbetalers kan voortaan strafregtelik vervolg word vir klein belastingoortredings – al is dit weens nalatigheid.

Hierdie reël is ook deel van die SAID se veldtog om nie-voldoening hok te slaan. Mense sal nie meer agter “nalatigheid” kan skuil nie.

Tot dusver kon ’n belastingbetaler net strafregtelik vervolg word as daar ’n element van opset was, maar dié voorskrif is nou uit die wetgewing verwyder.

Deur bloot nalatig te wees met jou belastingsake kan jy jou nou ’n hengse boete of tronkstraf van tot twee jaar op die hals haal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.