Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
80 maniere om te spaar as jy kos koop of maak

Gemidddeld styg die prys van kos op die oomblik redelik stadig - teen 3,2%, volgens Statistieke Suid-Afrika - maar sekere produkte se prys is besig om baie skerper te styg, soos mieliemeel, blikkiesvis en aartappels. Die ekonoom prof. Johan Willemse waarsku dat die styging in mieliepryse binnekort ook vleis duurder gaan maak, want baie dierevoer het mielies as grondslag. Hier is 80 maniere wat ons die afgelope jare vir jou versamel het om jou kostrollie goedkoper te maak. 

  

Algemene wenke vir inkopies

  

Bereken die prys per liter of kilogram wanneer jy besluit of dit goedkoper is om grootmaat te koop. Foto: iStock

1. Beplan vooruit. Stel ’n maaltydplan op en bepaal presies wat jy nodig het.

2. Jy moenie meer as een keer per week winkel toe gaan nie, maar maandinkopies is beter vir stapelvoedsels. As jy wil voordeel trek uit supermarkte se aankoopsiklusse (wat wissel van 8 tot 12 weke), moet jy so 10 weke vooruit beplan.

3. Doen inkopies met ’n inkopielys en moet doodeenvoudig níks koop wat nie daarop is nie.

4. Hou jou inkopielys so algemeen as moontlik. Dus, pasta - nie spaghetti nie - sodat jy die goedkoopste soort pasta daardie dag kan kies. Of groente - nie broccoli nie - sodat jy die goedkoopste groente kan kies. Pas jou maaltydbeplanning daarvolgens aan. 

5. Moenie goed koop nét omdat dit goedkoop is nie – koop net goed wat jy wel gebruik.

6. Begin die advertensiebrosjures wat byvoorbeeld in streekkoerante ingevoeg word, lees en kyk uit vir spesiale aanbiedinge – maar koop slégs produkte wat jy in elk geval sou koop en wel nodig het.

7. Gebruik die webwerf PriceCheck of  Guzzle om die aanlyn die advertensies van alle supermarkte te vergelyk. Daar is ook afslagkoepons en maniere om te soek waar produkte die goedkoopste is op ’n gegewe tyd. 

8. Kyk na die pryse by die eenpersoon- of familie-onderneming op die hoek. Dit klink teen-intuïtief, maar dit kan dalk net wees dat daardie onderneming se winsgrense laer is of hulle minder uitgawes het.

9. As jy kan, lig die “promosie”-prysplakker op om te kyk wat die “normale” prys is – nie alles wat op promosie is, is regtig goedkoper nie. 

10. Kyk na gehalte en hoeveelheid, nie net die prys nie. Iets wat langer hou, is dalk meer werd. Die duurder pakkie het dalk méér van die produk in. ’n Voorbeeld (nie kosverwant nie) is handdoek- of toiletpapier – kyk hoeveel velletjies daar is, sommige vervaardigers se prys lyk goed totdat jy sien jy kry eintlik minder velletjies per rol.

11. Ken jou pryse – jy kan nie spesiale aanbiedings beoordeel as jy nie weet wat die normale prys is nie.

12. As jy die “ken-jou-pryse”-speletjie tot die uiterste wil speel, hou êrens ’n lysie van die goedkoopste wat jy al betaal het vir produkte wat jy gereeld koop (margarien, koffie, pasta) – só weet jy wanneer ’n advertensie regtig waarde vir geld bied.

13. Doen moeite om pryse te vergelyk, veral as jy in ’n stedelike gebied bly waar verskillende winkels in een winkelsentrum of naby mekaar is (sodat jy nie geld op petrol mors nie).

14. Kyk wat in jou yskas en koskas is vóórdat jy winkel toe gaan. Maak ’n lysie van die stapelvoedsels wat jy wél het sodat jy nie nog daarvan koop nie. Mens sien altyd byvoorbeeld die pasta of tamatieblikkies en dink jy moet maar nog koop, maar jy doen dit elke maand, so die kas is al vol pasta (of wat ook al).

Moenie die kinders, jou geliefde of ’n vriendin saamneem as jy gaan inkopies doen nie. Op jou eie bly jy makliker gefokus.

15. Moenie die kinders, jou geliefde of ’n vriendin saamneem as jy gaan inkopies doen nie. Op jou eie bly jy makliker gefokus.

16. Jy het dit al 100 keer gehoor, maar dit bly goeie raad: Moenie op ’n leë maag gaan inkopies doen nie.

17. Suig pepermente terwyl jy inkopies doen – volgens ’n studie in die Journal of Consumer Research help dit versoekings verminder omdat dit jou minder ontvanklik maak vir heerlike geure van byvoorbeeld braaihoender of gebak.

18. Moenie op en af in die supermark se gange stap en kyk wat op die rakke is nie. As daar nie iets in ’n gang is op jou inkopielysie nie, het jy nie nodig om daar te stap nie. Hoe minder gange jy stap, hoe minder onbeplande aankope sal jy doen, volgens navorsing.

19. Kyk na produkte op die heel boonste en heel onderste rakke. Die duurste produkte, of dít wat die supermark graag wil verkoop, word op die middelste rakke uitgestal waar dit maklik is om te sien. Daar is dalk ’n soortgelyke produk op die boonste of onderste rak – maak seker jy koop nie duurder omdat jy “oogklappe” op het nie.

20. Doen jou inkopies wanneer jy ontspanne is. As jy gestres is, gooi jy maklik goed in sonder om na die prys te kyk of wat nie eens op jou lysie is nie.

21. Doen jou inkopies verkieslik ook wanneer die winkels nie te besig is nie. Slaan ’n bietjie na tot hoe laat jou gekose winkel oop is - jy sal verbaas wees hoe vroeg of hoe laat baie winkels deesdae oopmaak en dikwels is dit vroegoggend of laataand die stilste. Wenk: As jy op Google op jou slimfoon ’n supermark naslaan, is daar vir groot winkels ’n grafiek wat wys wanneer die winkel die besigste is.

22. As jy inkopies móét doen wanneer jy moeg en gespanne is, gaan na winkels wat jy ken sodat jy vinniger kan kry wat jy soek.

23. Moenie net dieselfde handelsnaam elke maand koop nie – kyk na watter wasgoed of toiletpapier daardie maand die goedkoopste is.

24. Gebruik jou lojaliteitskaart tot jou voordeel. Moet byvoorbeeld nie tydgebonde punte of kontant terug laat verval nie. Moet egter nie iets koop net omdat jy ekstra punte kan verdien daarop nie.

25. Gaan altyd ná jou inkopies deur jou strokie en kyk waar jy meer of minder bestee het as wat jy verwag het. Dit help jou ook meer akkuraat begroot vir volgende maand.

26. Lees Netwerk24 se berigte oor inflasie sodat jy weet watter produkte op die oomblik die vinnigste of die stadigste styg. Vleispryse styg byvoorbeeld op die oomblik betreklik stadig, maar vleis gaan na verwag later vanjaar baie duurder word. Koop dus dalk nou vir jou ’n voorraad vleis. 

  

Vars produkte

  

Koop groente en vrugte wat in seisoen is, maar nie die heel eerste van die seisoen wanneer dit nog skaars is nie. Foto: Pixabay

27. Moenie voorafbereide groente en vrugte koop nie, koop heel groente en vrugte. Haal maar jou groentemessie en -skiller uit. Jy betaal ten duurste vir daardie opgesnyde pampoen en vrugteslaai en boonop word dit gouer sleg.

28. Koop los piesangs, aartappels en ander groente en vrugte eerder as pakkies van vyf of tien, tensy julle regtig baie van ’n ding eet en seker is niks sal weggegooi word nie.

29. Verbou jou eie groente en kruie. Mens kan potte ook gebruik om groente in te kweek as jy nie ’n groot tuin het nie.

30. Koop slegs soveel vars groente of vrugte as wat jy binne ’n gegewe tyd kan opeet – vermorsing is een van die grootste uitgawes as mens te veel op ’n slag koop.

31. Koop groente en vrugte van ’n goeie gehalte, al kos dit dalk effens meer, omdat jy dan minder sal wegsny of selfs weggooi.

32. Maak vrugteskommels of selfs roomys met vrugte wat gekneus of oorryp raak of bak iets soos piesangbrood.

33. Gebruik groente wat al bietjie verlep het in sop of bredies.

34. Moenie “gesonde” kos soos maaskaas koop as niemand in jou huis daarvan hou nie – dit land net in die vullisdrom.

35. Skaf ’n pak of wat bevrore groente aan – dit is dikwels heel billik en word nie sleg nie. Die prys van bevrore groente styg ook nie altyd so vinnig as vars groente nie, maar hou pryse maar dop.

36. Moenie die seisoen se eerste lemoen of ander vrug koop nie - pryse daal sodra daar ’n groter aanbod op die mark is.

37. Moenie aarbeie in die winter koop nie – probeer om vrugte te koop in die seisoen wat dit gewoonlik algemeen verbou word. Buite seisoen is dit skaars en ten duurste verbou en die kans boonop goed dat dit ten duurste ingevoer is.

38. Verpak groente en kruie dig sodat dit so lank as moontlik in die yskas hou.

  

Vleis, vis en eiers

  

Om een tjoppie op 'n slag te koop, is op lang termyn veel duurder as om byvoorbeeld 'n halwe skaap op 'n slag te koop. Maar dan moet jy natuurlik vriesgeriewe hê.

39. Moenie verpakte koue vleise koop nie – gaan na die deli en laat die koue vleis of worsies per gewig afmeet. Dis baie goedkoper en nie noodwendig swakker gehalte nie.

40. Gebruik meer gereeld maalvleis pleks van tjops of ander rooivleissnitte.

41. Koop vark en hoender eerder as bief. Varkvleis het nie die afgelope jaar so vinnig duurder geword as beesvleis nie.

42. Die “lekkerbeksnitte” soos skaaplende of beesfilet sal altyd duurder wees.

43. ’n Pakkie van vier tjopppies sal altyd per kilogram duurder wees as om byvoorbeeld ’n skaap-agterkwart te koop. Dis waarskynlik die langtermyn-besparing werd om vleis in groter maat aan te koop, selfs al moet jy in ’n kisvrieskas belê.

44. Maak seker jy verstaan wat jy koop. Jy gaan meer betaal vir ’n organiese, grasgevoerde T-been wat 20 dae rypgemaak is of vir gemarineerde en spesiaal verpakte hoendersosaties.

45. Voeg lensies, bone, stampmielies, pasta of selfs hawermout by jou bredies of maalvleisgeregte sodat jy minder vleis gebruik.

46. Koop heel hoender pleks van hoenderstukke.

47. Gebruik die hoenderkarkas en dele wat jy nie eet nie, om hoenderaftreksel te maak vir gebruik in sop en bredies. Jy kan dit vries totdat jy dit nodig het.

48. Maak minstens een dag per week ’n vleis- en visvrye dag.

49. Maak gereeld ’n maaltyd van eiers – dis vullend en veelsydig en steeds goedkoper as vleis. 

50. Blikkiesvis is van die goedkoopste soorte proteïen te koop. Soek bietjie resepte waarmee jy dit kan aanwend vir lekker gesinsgeregte.

51. Vind uit of jou supermark of slagtery ooit vleis afmerk om voor die “verkoop-teen”-datum daarvan ontslae te raak. Sommige plekke merk vleis saans af.

  

Droë, gebakte en ander produkte

                     

Gaan jou winkelstrokie na sodat jy weet waarop jy meer of minder bestee het as wat jy gereken het jy sou. Dit help jou dalk volgende maand. Foto: iStock

52. Koop blikkieskos en droë kos wat nie sleg word in grootmaat – maar vergelyk eers die prys per kilogram of liter om doodseker te maak die grootmaatprys is wel ’n besparing.

53. Eet minder snoepgoed soos koek, sjokolade, lekkers, roomys en aartappelskyfies. Jou skaal sal jou ook bedank.

54. Sny gaskoeldrank heeltemal uit. Indien jou gesin nie sonder koeldrank kán oorleef nie, vervang dit met aanmaakkoeldrank.

55. Moenie gebottelde water koop nie – kraanwater is heeltemal veilig en smaaklik in die meeste munisipaliteite die meeste van die tyd.

56. Koop bruinbrood pleks van witbrood of rolletjies.

57. Koop brood by die supermark se bakkery. Dit is merendeels goedkoper.

58. Moenie kitshawermout koop nie. Hawermout kan binne twee minute vinnig in die mikrogolf gaargemaak word, dis nie moeite nie en baie goedkoper.

59. Maak roosterbrood of geroosterde broodjies van brood wat nie meer heeltemal vars is nie, en maak broodkrummels van brood wat selfs ouer is.

60. Vind uit of jou supermark of bakkery gebakte produkte ooit afmerk (sommige bakkerye verkoop die vorige dag se gebak vroegoggend vir goedkoper om daarvan ontslae te raak).

61. Moenie klaargemengde pakkies bestanddele vir muffins, pannekoek of koek koop nie – dis baie duurder as om jou eie meel en kakao of wat ook al te meng.

  

Wanneer jy kosmaak

  

62. Maak net genoeg kos vir die gesin óf pak dadelik ’n bakkie kos uit vir die volgende dag se middagete by die werk óf vries oorskietkos dadelik. Oorskietkos word laataandpeuselkos of word uiteindelik in die vullisdrom uitgekrap as dit in die yskas vergeet word.

63. Verklaar een aand per week tot “oorskietaand” en raak van alle bietjies in die yskas ontslae. ’n Leser noem dit ook yskasleegmaakaand - elkeen in die gesin eet wat hy/sy wil, en só kom die yskas leeg! 

64. Skep en eet kleiner porsies, veral van vleis.

65. Pak áltyd vir jouself middagete in werk toe en vir jou kinders ’n kosblik skool toe sodat julle nie by die kafeteria of snoepie kos koop nie. Pak ook versnaperinge in. Dit verg net ’n klein bietjie beplanning en vyf minute vroeër opstaan in die oggend (of later gaan slaap die vorige aand).

Herontdek ou kookboeke soos Kook en Geniet, Huisgenoot se Wenresepte-reeks.

66. Bêre kos wat eerste verval, vóór in jou yskas of koskas sodat dit eerste geëet word. Gaan die datums gereeld na.

67. As jy produkte in grootmaat koop (of groter as wat jy vir een maaltyd nodig het), verdeel en herverpak dit sodra jy by die huis kom in maaltydgrootte pakkies voordat jy dit vries of wegpak. Byvoorbeeld, as jy hoenderstukke in grootmaat koop, verdeel dit só dat jy een pakkie kan uithaal vir jou gesin as jy dit wil gaarmaak.

68. Maak jou eie slaaisous, tamatie-en-uiesmoor of ander souse. Dit het gewoonlik goedkoop bestanddele en is nie so moeilik om saam te slaan nie.

69. Bak jou eie, gesonde muffins pleks van koop. Bak sommer ’n groot baksel en vries die muffins individueel om werk toe te neem of vir die kinders in te pak skool toe.

Gebruik kruie en speserye wanneer jy dit kook - mens eet minder van gegeurde kos. Foto: Pixabay

70. Bak jou eie koek en tert vir spesiale geleenthede eerder as om dit klaar te koop. Komaan, almal kan ’n resep volg!

71. Baie resepte bevat heelwat meer suiker of olie as wat regtig nodig is. Vida Booysen sê as sy beskuit bak, halveer sy die suiker – “jy proe dit nie eens nie en dis baie gesonder”. Hanlie Stadler het ’n resep vir ’n warm aartappelslaai wat geweldig baie olie bevat en dis selfs lekkerder as jy dit verminder!

72. Herontdek gewilde ou gunstelinge soos macaroni-en-kaas.

73. Herontdek ou kookboeke soos Kook en Geniet, Huisgenoot se Wenresepte-reeks en ander - dit is op gesinne gemik en gebruik nie duur of luukse bestanddele nie. 

74. Kook innoverend met kruie en speserye. Mens eet minder van geurige kos en geniet dit meer.

75. Lees resepte aanlyn of kyk kookprogramme vir innoverende idees om jou spyskaart op te kikker, maar vervang die duur bestanddele met goedkoper weergawes. Byvoorbeeld, vervang die salm of forel in ’n resep met gewone stokvis of die duur vleissnit met iets goedkoper.

76. As jy ongewone bestanddele wil koop vir ’n spesiale maaltyd, vergroot die res van die resep totdat jy al daardie bestanddele (soos ’n pakkie vars kruie) kan opgebruik. Dan vries jy die kos wat te veel is vir ’n volgende spesiale geleentheid.

77. Kitskos en restaurantetes is taboe as jy probeer geld spaar – of moet minstens tot die uiterste minimum beperk word. As jy gereeld kitskos koop, begin deur die aantal kere te halveer.

78. Begroot afsonderlik vir kitskos en uiteet en selfs ook vir lekkergoed, koeldrank en drank sodat jy weet hoeveel van jou kosbesteding jy só gebruik. Dit sal jou dalk laat besef waarom jou kosbegroting nie maanduit haal nie. Uiteet van enige aard is altyd luukse besteding.

79. As jy weet jy het ’n besige week voor jou, maak oor die naweek ’n paar geregte en vries dit – anders gaan die versoeking groot wees om kitskos te koop omdat jy moeg by die huis kom en nie lus is om kos te maak nie.

80. Marineer van die hoender of ander vleis nadat jy dit gekoop het en voordat jy dit vries, dan weet jy daar is ’n geurige maaltyd in die vrieskas wat vinnig in ’n lekker maaltyd omgeskep kan word vir die dae wanneer jy nie krag het vir kosmaak nie.

Dié artikel uit ons argief is in Julie 2019 bygewerk. Netwerk24-lesers het bygedra tot van die wenke. Dankie daarvoor en laat die wenke gerus aanhou inrol!

Bykomende bronne: EatingWell, WebMD, Love Food Hate Waste, BuzzFeed, Health, MyMoneyCoach, Money

Meer oor:  Spaarwenke  |  Kos  |  Kospryse  |  Spaar  |  Spaarmaand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2085,82 (-20024)
  • Top 40 51145,55 (37671)
  • All Share 57123,78 (34185)
  • Resource 10 44133,06 (45362)
  • Financial and Industrial 30 78010,93 (42741)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.