Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
AA: Pas só jou motor op in staat van inperking
Maak seker jou motor is in ’n goeie toestand gedurende die staat van inperking. Foto: Pixabay

Baie Suid-Afrikaners draf nou gedurende die staat van inperking om hul huise of op hul balkonne om fiks te bly, maar wat van jou motor wat nou stilstaan in ’n motorhuis of onder ’n afdak?

Hoe verseker jy dat wanneer jy hom wel nodig het, hy reg gaan wees om die pad aan te durf?

Die Automobiel Assosiasie (AA) sê in ’n verklaring dit is belangrik om te onthou dat jou motor nou ook in ’n staat van inperking is, en dat jy dus spesiale aandag daaraan moet gee om seker te maak geen skade word aangerig nie.

“Enige voertuig wat vir ’n tyd lank nie gebruik word nie, kan probleme ontwikkel,” waarsku die AA.

Hy sê deur oor die volgende paar weke behoorlik na jou motor te kyk, behoort jy nie probleme soos ’n pap battery te hê wanneer jy wel weer moet ry nie.

Hier is die AA se wenke om jou motor fiks en gesond te hou – al staan hy botstil.

  • Bedek die voertuig: Indien moontlik, parkeer die voertuig onder dak. Gebruik net ’n bedekking soos ’n seil as die motor buite staan. As dit binne ’n motorhuis staan en hy is bedek, kan dit daartoe lei dat vog onder die seil opdam wat roes kan veroorsaak.
  • Battery: Hoewel dit beter is om die battery heeltemal uit die motor te haal, is dit ook voldoende om net die negatiewe terminaal te ontkoppel. Wees versigtig wanneer jy dit doen, en maak seker jy weet hóé om dit te doen. Jy moet altyd die negatiewe terminaal eerste ontkoppel en dan die positief. Die twee terminale is duidelik gemerk. Jy kan petroleumjellie (soos Vaseline) op die terminaalpunte sit om te keer dat dit roes. As jy wel van tyd tot tyd met jou motor gaan ry en nié die battery wil ontkoppel nie, gaan skakel hom net aan en laat hom vir ’n rukkie luier sodat die battery kan laai. Onthou dat die area waar jy dít doen, goed geventileer moet wees.
  • Maak skoon: Maak jou voertuig skoon. Dit kan gebeur dat as die motor lank staan, vuil kolle in vlekke kan verander.
  • Bedek al die in- en uitlaatpype: Deur al die pype te bedek en ’n lap in die uitlaatpyp te druk, gaan insekte en klein knaagdiere nié in die motor inkom nié. Onthou om dié lappe uit te haal vóór die motor aangeskakel word!
  • Ruitveërs: Ruitveërs kan na ’n lang tyd wat hulle nié gebruik word nie, aan die ruit vassit. Sit ’n stukkie kleefplastiek tussen die ruitveërs en die ruit.
  • Versekering en diensplanne: Moet onder geen omstandighede ophou om versekering of tariewe vir diensplanne op jou voertuig te betaal nie.
  • Brandstoftenk: Dit mag dalk eienaardig klink, maar maak die brandstoftenk vol, selfs al gaan jy nêrens heen ry nie. ’n Leë tenk kan begin roes.

Die AA stel voor dat as jy beplan om weer teen 17 April jou voertuig te gebruik, moet jy teen 13 April reeds kyk of hy werk. Indien nie, het jy dan genoeg tyd om ’n plan te maak om hom betyds op die pad te kry.

Meer oor:  Automobiel Assosiasie  |  Aa  |  Inperking  |  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.