Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Absa-datalek: Beskerm jouself só
Gevalle van bank- en ander tipes bedrog is steeds volop. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners is opnuut bekommerd nadat hul persoonlike inligting uitgelek is. Maar die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS) sê verbruikers kan hulself teen bedrog beskerm.

Dit kom nadat Dinsdag berig is dat ’n werknemer van Absa na bewering sommige kliënte se private inligting, insluitend ID-nommers, bankrekeningnommers, kredietkaartnommers en selfoonnommers, teen betaling aan derde partye verkwansel het.

Wagwoorde en persoonlike identifikasienommers (pin) is nie deel van die inligting wat die werknemer glo verkoop het nie.

Mense wat motors deur Ford Credit gekoop het, is ook deur dieselfde lekkasie geraak.

Die bankrekeningnommers van nagenoeg 25 000 ondernemings is in Mei vanjaar ook gedeel met ’n bedrieër, wat die kredietburo Experian met ’n slap riem gevang het.

Die SAFPS het in reaksie hierop ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om hulself proaktief teen moontlike gevalle van bedrog te beskerm.

“Sowel die Experian- as die Absa-datalekkasies beklemtoon die noodsaaklikheid dat die publiek nie net bewus moet wees van hul digitale voetspoor nie, maar daadwerklike stappe moet doen om te voorkom dat hulle die slagoffers van bedrog word,” sê Manie van Schalkwyk, uitvoerende hoof van die SAFPS.

Die SAFPS bied gratis beskerming teen bedrog aan Suid-Afrikaners in die vorm van ’n registrasieproses.

Registreer só vir beskerming teen bedrog by die SAFPS

Daar is drie maniere om vir beskerming aansoek te doen:

1. Besoek sy webwerf en registreer aanlyn. Jy moet ’n bewys van identiteit en adres voorsien.

2. Vul dié aansoekvorm in en stuur dit te saam met ’n bewys van identiteit en adres na protection@safps.org.za.

3. Vul dié vorm in op die SAFPS se webwerf en hulle sal jou skakel.

Verbruikers registreer hul besonderhede by die SAFPS, wat dit verifieer.

Hy deel dan die inligting met sy lede, wat organisasies soos banke, motorfinansierders, versekeraars, winkelgroepe en selfoondiensverskaffers insluit.

Die organisasies sal dan “ekstra versigtig” met gebruikers se inligting omgaan, sê Van Schalkwyk.

“Dit bied bykomende beskerming en gerusstelling ongeag of die identiteit van die persoon wat aansoek doen (byvoorbeeld om ’n nuwe rekening in ’n winkel te open) al blootgestel was.”

Kortom, die SAFPS hou jou besonderhede en sou ’n booswig ’n transaksie onwettig in jou naam probeer doen, sal die diens jou ware besonderhede aan die betrokke organisasie verskaf.

Ook as jy voorheen die slagoffer van identiteitsbedrog was, sal die SAFPS sy lede daaroor inlig en vra dat enige aansoeke in jou naam met meer omsigtigheid hanteer word.

Absa het nie bekend gemaak hoeveel van sy kliënte deur die voorval geraak is nie en sê die ondersoek duur voort.

Die bank benadruk wel dat die inligting wat gelek is, niemand toegang kan gee tot ’n kliënt se rekening nie, aangesien wagwoorde en/of pins nie deel daarvan uitmaak nie.

Absa het aan TechCentral gesê hy is bewus van “ ’n aantal” derde partye wat by die lekkasie betrokke is.

“Ons het regstappe begin teen die partye wat die data ontvang het.”

’n Fluitjieblaser het die bank se sekerheidshoof op 26 Oktober van die voorval ingelig. Die bank het besluit om dit nie dadelik aan te kondig nie omdat hy eers die hof genader het om die nodige toestemming te kry om die betrokke partye se rekenaars en ander toerusting te konfiskeer.

Sou hy die voorval vroeër aangekondig het, sou die vermeende skuldiges dalk belangrike bewyse kon uitwis voordat daarop beslag gelê kon word.

Meer oor:  Experian  |  Absa  |  Inligting  |  Bankbedryf  |  Datalek  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.