Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
‘Armes moet bankkaarte kan benut’
'n Verskaffer soos Sureswipe dra baie van die risiko om kaartbetalingsdienste aan ondernemings en onafhanklike kleinhandelaars te verskaf.

Daar is meer as 80 miljoen bankkaarte in omloop in Suid-Afrika, waarvan die meeste net een keer per maand gebruik word.

Dit is omdat armer Suid-Afrikaners in landelike gebiede nie toegang het tot betaalpunte waar hulle met ’n bankkaart kan betaal nie.

Hulle onttrek dus die volle bedrag in kontant wanneer hulle maandeliks ’n maatskaplike toelaag of salaris in hul bankrekening ontvang, sê Paul Kent, besturende direkteur van Sureswipe, ’n betaalpunt-diensverskaffer.

“Die land benodig ’n nasionale strategie wat die finansiële insluiting van alle inwoners bevorder en die verbintenis van alle belanghebbendes in die regering en sakesektor om dit te laat werk.”

Hy sê ons kan kers opsteek by ander ontluikende lande soos Indië of Indonesië oor maniere om arm mense deel van die formele finansiële stelsel te maak.

“Dié regerings het verskillende soorte banklisensies ingestel om finansiële insluiting te verbeter, en dit het kleiner finansiële diensverskaffers in staat gestel om spesifieke produkte, soms net in spesifieke gebiede, te verskaf.”

Die Mexikaanse regering het weer saam met die land se nasionale sakekamer en Visa gewerk om betaaltoestelle vir klein informele handelaars te subsidieer. Ongeveer 20 000 toestelle is in bedryf gestel en dit het tot ’n groter aantal ondernemings en verkope gelei – wat weer die ekonomie ’n hupstoot gegee het.

Op die platteland aanvaar net een uit elke tien kleinhandelaars kaartbetalings.
Paul Kent

“Die uitdaging met finansiële insluiting in Suid-Afrika is nie die getal bankkaarte nie, maar die klein getal betaalpunte waar jy met ’n bankkaart kan betaal.”

In stedelike gebiede word bankkaarte byna oral vir aankope aanvaar, maar op die platteland aanvaar net een uit elke tien kleinhandelaars kaartbetalings, sê Kent.

“Dit is geen wonder nie dat meer as 60% van alle transaksies in Suid-Afrika in kontant beklink word, en dit styg tot soveel as 90% in landelike gebiede waar die voorkoms van informele handelaars en lae inkomstevlakke groter is.”

Hy sê ’n studie deur Mastercard wys die koste van die gebruik van kontant in Suid-Afrika raak aan die R23 miljard. Dit beloop 0,53% van die bruto binnelandse produk en dit is hoofsaaklik die lae-inkomsteverdieners wat hierdie koste dra.

“Volgens die Wêreldbank beteken finansiële insluiting dat individue en sakeondernemings toegang het tot nuttige en bekostigbare finansiële produkte en dienste wat volhoubaar in hul behoeftes voorsien, maar dit is nie tans in Suid-Afrika die geval nie.”

Kent sê finansiële-tegnologiemaatskappye wil graag dié toedrag van sake verander, maar daar is groot uitdagings.

“In Suid-Afrika is daar duur regulatoriese en voldoeningsvereistes wat die koste van transaksies opjaag.”

Toegang tot die nasionale betaalstelsel is beperk en diensverskaffers van betaalpunte moet met een van die groot finansiële instellings ’n vennootskap aangaan om sake te mag doen.

“Al wat dit reggekry het, is om mededinging te belemmer, koste te verhoog en produkte minder betroubaar te maak.”

’n Verskaffer soos Sureswipe dra baie van die risiko om kaartbetalingsdienste aan ondernemings en onafhanklike kleinhandelaars te verskaf wat dit andersins nie sou kon bekostig nie, sê Kent.

Hy sê vandat daar mededinging vir die banke gekom het toe meer verskaffers van kaartbetalingtegnologie tot die mark toegetree het, het transaksiegeld met byna die helfte gedaal en só miljoene rande terug in die sakke van onafhanklike kleinhandelaars gesit.

Meer oor:  Kontant  |  Kleinhandel  |  Betaling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.